Die Heilige Gees is jou cover

Om ’n Christen te wees is nie altyd maklik nie. Daar word nie watte voorsien waarin jy toegedraai word nie.

Inteendeel! Nie almal het al ervaar hoe dit is om ter wille van jou geloof pak te vat nie. Tog is daar baie wat by die werk niks mag sê nie, want sodra hulle hulle godsdiens op hulle mou dra, word hulle gedreig met afdanking. Maar erger nog. Daar is lande waar dit verbied word om Christenskap te beoefen. Daar is mense wat selfs doodgemaak word daarvoor.

Ek wonder hoe sal my geloof gehou het as ek my Christenskap ondergronds moes beoefen het. Ek wonder hoe sterk sou my vertroue gewees het as ek geweet het iemand kan enige tyd inbars en my doodmaak vir my geloof?

Ai, ek wens ek kon vir jou hier skryf dat dit net plain sailing gaan wees, omdat jy God se kind is, maar dit is nie so nie. Tog het ek vir jou wonderlike nuus, nee eintlik sê Jesus so: Die Heilige Gees sal vir jou cover. Hy sal namens jou praat. Hy sal die woorde in jou mond lê en Hy sal in die omstandighede woel, sodat alles reg sal uitwerk. Jy hoef nie met ’n hoop spanning in jou maag en jou skouers rond te loop nie. Jy kan maar relax, want jy het die beste advokaat aan jou kant. Hy het nog nie een saak verloor nie!

Ontspan!