Die hoop in ashoop

Haar mond was smalend en wenkbroue ontoegeeflik opgetrek. Sy hou daarvan om die seer en vrees in ander te sien. Dit laat haar altyd beter voel.

Hoe minder geluk Aspoestertjie kon smaak, hoe veiliger het die stieifma gevoel. Sy was met haat gevul. Was dit jaloesie omdat Aspoestertjie liefdevol, opreg en mooi was? Omdat sy vlot dieretaal kon praat? Of was die stiefma ook eens die slagoffer van ‘n boelie gewees?

Hier buite sprokieland, lyk dinge soms dieselfde. Boelies soos die ontevrede stiefma bestaan en so ook ongevoelige selfsugtige mense soos die stiefsusters.

Iewers het elkeen van ons al te doen gekry met daardie een persoon wat jou laat voel jy is nie goed genoeg nie. Die boelie wat die smuk-smaak van jou vernedering geniet as jy tot ashoop vlak val.

Die res van die ashoop-plof het jy sommer self gedoen, want boelies beskik oor goeie oortuigingsvermoeë. Skielik wemel die wêreld om jou van mense wat volgens jou die mooier lyf het, oor die slimmer brein beskik, die gewilde een is en die een wat al die trofees wen.

Jy voel jou ashoop kan nie groot genoeg wees vir al jou tekortkominge nie.

Aspoestertjie se tyd van glorie was van korte duur. Die hele enchanted spulletjie het na net ‘n paar uur verdwyn en al wat sy oorgehou het was haar hopelose bestaan en een glasskoen (wat ek tot vandag toe nie kan glo gemaklik gesit het nie!).

Gelukkig het sy steeds haar drome en diere vriende gehad. Ons het darem whatsapp en kan oor die weg kom sonder dieretaal.

Wanneer mens in sak en as sit beteken dit letterlik dit – jy sit net. Jou lae selfwaarde maak jou lam. Staties.

Een ding het Aspoestertjie egter nie in haar sak en as tyd gedoen nie. Sy het nie rond geknies nie. Die pad uit haar ashoop was gekoppel aan hoop en aksie.

Om uit jou ashoop te kom, moet JY iets doen.

Ashoop staan eintlik vir: Daar is hoop as ek……

Gaan kyk weer wie jy is. Wat jou drome is en wat jou dryf.

Jy is gemaak in die beeld van God. Die appel van sy oog. Sy liefde is so volkome vir jou dat selfs na al jou mislukkigs, ongelooflike sondes, skewe tande, rolletjies om die middel en ongrasieuse stappie, dink Hy nie anders oor jou nie. Jy is altyd waardevol vir Hom.

Dus, jy is redbaar! Wie is jy om te staan en minderwaardig voel?

Aspoestertjie het net ‘n glasskoen en ‘n droom oorgehou in ‘n sprokiesland. Jy bestaan in ‘n lewendige, werliklike wêreld waar ashoop beteken dat daar hoop is as jy….

Beweeg!