Die huis voel leeg sonder die kinders

0
21
kindes.jpg

As jy voorbereid is op die leënesfase, kan dit ’n nuwe, opwindende begin vir julle huwelik inhou …

As jy vir die grootste gedeelte van jou getroude lewe kinders grootgemaak het, is dit waarskynlik nou amper tyd dat jou kuikens een vir een die voordeur agter hulle toemaak om elkeen hulle eie nes te gaan skrop. En jy? Jy sit (eindelik) met die stilte waarna jy so lank gesmag het en wat jy nou verwens. En moontlik in ’n huwelik wat jou laat wonder wíé hierdie man is met wie jy al meer as twintig jaar getroud is!

Die leë nes sindroom

Die huwelikskenners Sheri en Bob Stritof skryf in hulle artikel, The empty nest syndrome in your marriage, dat die eerste dinge wat ’n mens agterkom sodra jou kroos die huis begin verlaat, is: jou inkopierekening word laer, daar is altyd kos in die yskas en jy hoef net een keer per week klere te was! Maar jy voel ook alleen, is bly wanneer die kinders bel en hou foto’s van hulle byderhand …

Dit is belangrik om te weet wanneer die leënesfase intree. Die skrywers van die boek Empty nesting: Reinventing your marriage when the kids leave home meen dat jy die leësnesfase betree wanneer die kinders hulle eie lewens begin lei, uit die huis trek of steeds in die huis woon, maar so onafhanklik lewe dat jy eintlik net losies verskaf! Dit is wanneer jy die tweede fase van jou huwelik bereik en wanneer jy besef dat jou aktiewe ouerskapsjare amper verby is.

Ek het na my kind verlang

Vir Elsabé Daneel het die eerste tekens van die leënessindroom ingeskop toe Roeline as eerstejaarstudent koshuis toe getrek het. “Ons is baie na aan mekaar en dit het gevoel of ek my een arm verloor toe sy uit die huis is … ’n Mens besef egter al te goed dat dit ’n normale, nodige skeidingsproses is en hoe gouer jy daarby aanpas, hoe beter vir almal. En as jy jou balans herwin nadat die eerste kind uitgetrek het, is jy hopelik tot ’n mate gepantser teen die latere kinders se ‘Koebaai, Meraai’.”

Ek het weer tyd vir my man

Elsabé vertel dat sy en John gelukkig genoeg was om deur die jare met mekaar in voeling te bly. Hulle persoonlike en sakebelange is nou verweef, “dus sien ons mekaar gereeld genoeg om nooit te voel dat ons vreemdelinge vir mekaar word nie. Ons reis saam oorsee vir sakebesoeke en werk saam aan projekte.” Deesdae het sy en John nou meer tyd om saam te ontspan.“Ons is albei versot op reis en het klaar besluit dat as die nes eers volledig leeg is, ons gaan reis dat die biesies bewe! Ons het ook nou meer tyd vir groot projekte.”

Ek hou myself met ander goed besig

Vra jy Elsabé vir raad aan ander ouers wat binnekort met leënessindroom moet worstel, antwoord sy: “Ek kan goed onthou hoe alleen my ma gelyk het toe ek en my twee broers uit die huis is. Dit het my gemotiveer om nie net in my kinders op te gaan nie, maar om tegelykertyd ’n wêreld buite my huis te skep wat my altyd vreugde sal gee.” ’n Goue stukkie raad is om met jongmense in voeling te bly. “As gasdosent by die Universiteit Stellenbosch bring ek stimulerende tyd saam met jongmense deur. Dit is belangrik om nie uit pas te raak met jong energie as jou kinders die huis verlaat nie, want daarsonder word ’n mens sommer gou oud.” Mens moet nooit jou kinders laat skuldig voel omdat jy hulle meer sou wou sien as wat die geval is nie.

Laat jou kinders gaan

Joke Nicol, huweliksberader, sê sy sien só dikwels die gevolge van ouers wat dit nie regkry om die emosionele naelstring te knip nie. Daar is ’n toename in die hoeveelheid paartjies wat ná ’n huwelik van dertig jaar of meer skei. “Mense skei omdat die hele huwelik gesinsgeoriënteerd was en alles om die kinders gedraai het. Só dat daar nie werklik ’n ‘ons’ gebou is nie.”

Daar is ook ander gevalle, verduidelik Joke, waar paartjies werklik ’n problematiese huwelik gelei het, maar ter wille van die kinders bymekaar gebly het. Hulle skei dan sodra die kinders die nes los.

“En dan is daar die derde groep wat nie meer weet of hulle alleen of saam is nie en, wanneer die kinders die huis verlaat, nie meer weet hoe om mekaar te hanteer nie.”

Kry vir jouself ’n nuwe belangstelling

Volgens Joke is dit verskriklik belangrik dat ’n vrou vir haarself ’n lewe daarbuite moet skep. “Ek sien dikwels dat ’n vrou nie haar eie lewe lei, en stokperdjies het wat haar kreatief maak nie en dan, as die kinders nie meer daar is nie, wil sy alles na die man verplaas. Joke sê ook dat daar ’n gesonde balans in enige huwelik moet wees. “In die eerste plek gaan dit oor die bou van ’n huweliksverhouding. Die kinders is bloot geleen, so hulle is die sekondêre verhouding. Daar moet ’n balans wees tussen die ‘ons’ en die ‘ek-jy’. Onthou, jy kan die sin van jou lewe nie op die kinders plaas nie, al het jy hoeveel belê in moederskap.”