Die huwelik, vriende en jaloesie

0
275
dewald_wasserfall.jpg

Dewald Wasserfall en Anel het dít geleer oor getroudwees, seks en vriende van die teenoorgestelde geslag.

Seks bind ons sterker saam as net vriendskap

Nee, ons stem nie saam met die vriendskapstudie wat sê dat meeste getroudes vriendskap belangriker ag as seks nie. Ons albei voel dat daar ’n baie belangriker band is tussen twee mense wat getroud is as blote vriendskap. Dit is juis intimiteit wat ons verhouding laat verdiep. Al is vriendskap baie belangrik, is seks iets wat slegs in jou huwelik plaasvind en net met jou lewensmaat. Daarom is dit vir ons ’n bietjie meer spesiaal.

Om jou maat se liefdestaal te verstaan is baie belangrik

“Dis belangrik om mekaar se liefdestaal te verstaan. As Dewald laat optredes het, los ek ’n briefie op sy kussing met ’n mooi boodskap. Ek maak ook graag vir hom soetgoed, soos kolwyntjies of fudge,” sê Anel. “My liefdestaal is kwaliteittyd en Anel weet dit. Veral as ek lank weg was, wil ek meer saam met haar wees. Dan eet ons rustig aandete en gesels ’n hond uit ’n bos. Ek herinner haar daaraan hoe mooi sy vir my is en so nou en dan koop ek vir haar ’n bos blomme,” laat Dewald hoor.

Tyd saam is beperk, maak die beste van elke oomblik

Dewald is baie besig en dikwels weg van die huis met optredes. As ons alleen is, sluit ons die wêreld uit, veral omdat dit deesdae so min gebeur. Dis belangrik om dan op mekaar te fokus. Ons probeer ook om nie ons fone te gebruik wanneer ons bymekaar is nie, en die televisie is af. Wanneer Dewald nie by die huis is nie, gesels ons ten minste drie keer per dag oor die foon.

Jou huweliksmaat is die belangrikste, maar vriendskappe is ook nodig

“Ja, ons het. Anel se heel beste vriend is ’n man. Ek en hy is ook goeie vriende. Dis onnodig om jou vriendskappe te laat vaar omdat jy getroud is. Ons elkeen tree as ’n hele mens in die huwelik. En dit is belangrik om jou eie identiteit te behou. Ander mense – vriende en vriendinne – met ander belangstellings verryk jou lewe,” sê Dewald. “Al is Dewald my eerste prioriteit en my beste vriend, moet ’n mens tog saam met ander mense ook kuier,” sê Anel.

Gedeelde liefde vir musiek bind ons huwelik saam

Beslis! Ek en Anel het vroeg in my loopbaan baie saam gesing by kuierplekke, maar deesdae is dit moeilik vir haar om oral heen saam te reis. Sy is baie sku vir die kollig en wil nie ’n loopbaan daaruit maak nie. Buitendien, een musikant in ’n gesin is genoeg!

Lees meer: 4 probleme wat getroude vroue verras