Die jongman by #Imagine

Een jongman het besluit om ‘n verskil te maak, om dit wat hy jaarliks by #Imagine leer, te gaan toepas.

Toe maak hy ‘n groot houtkruis en skryf ‘n paar kankerlyers wat hy ken, se name daarop, soek borge en dra die kruis vir ‘n volle vyf kilometer. Daardie fondse wat hy ingesamel het, het hy na sy eie goeddunke verdeel aan die kankerlyers vir wie hy ‘n bietjie bederf gegun het.

Dit is egter nie al nie. Hy het ook Bybelversies op papiertjies geskryf, dit toegerol in tienrandnote en iewers in elke dorp ‘n tienrandrolletjie met ‘n bybelversie in, neergesit vir wie dit ookal raaksien en optel.

Is dit nou nie ‘n goeie voorbeeld vir ons almal nie? Hy het behoorlik uit sy gemaksone beweeg en ‘n verskil gemaak: Nie net aan homself nie, ook nie net aan die persone vir wie hy goed was nie, maar vir soveel ander mense wat daardeur aangeraak is. Selfs vir my!

Dadelik het hy my laat wonder: ‘Watter verskil kan ék maak?’ Ek kan ook mos ‘n klompie tienrandnote-met-goeie-nuus oprol en orals laat val en vir God vertrou dat die regte persoon dit sal optel. Hoe moeilik kan dit nou regtig wees?

Of ek kan vir iemand wat swaarkry, bid, sonder dat hy dit besef, maar meer nog, in sy teenwoordigheid vir hom bid. In plaas daarvan om net vir hom te sê dat ek vir hom bid, kan ek mos sy hand vat en sê, ‘maak gou jou oë toe’ en net daar vir hom bid. Of ek kan dit per whattsapp vir hom stuur, of op watter manier ook al.

Daar is soveel wat ons kan doen om ‘n verskil te maak wat regtig nie moeilik is nie. Die geheim is net dat ons ons oë en harte vir geleenthede sal oopmaak  en daardie eerste treetjie begin gee. Die res sal vanself volg.

Jongman, ek salueer jou! Jy is ‘n ware voorbeeld vir ons almal.

Groetnis

Toortsie

DEEL
Vorige artikelMusiek is medisyne
Volgende artikelAs die skoen pas …
Blogger - Toortsie
Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man woon in die Overberg en het 'n gemengde boerdery. Madelé is lief vir mense en leef die lewe voluit. Sy reis graag en geniet dit baie om in die natuur te wees. Sy is 'n uitgewer van Banting Resepteboeke en is 'n Transformasie Gebedsbediening Fasiliteerder. Sy skryf op haar blog oor alledaagse dinge, kinders, die lewe en haar verhouding met God. Besoek haar blog by toortsie.com