Die klippie op berg Kilimandjaro

0
155
kilimanjaro.jpg

Sommige drome het die manier om soos ’n berg voor jou te gaan lê. Letterlik. Maar as jy lank genoeg vasbyt, bereik jy die kruin, soos Gerhard Greyling ondervind het. En dikwels sonder ’n gejuig.

Dis koud. Sy longe brand van die min suurstof. Aan die een kant van die kruin is die maan besig om te sak. Aan die ander kant begin die son opkom. Hulle is bo.

Gerhard Greyling (39) het nooit regtig sy kleinseuntjie-avontuurlus afgeskud nie. En êrens op die agtergrond het Kilimandjaro bly roep.

“Dit is nie iets wat jy vir iemand kan verduidelik nie,” onthou hy van die tog teen die berg op. “Selfs elke klimmer beleef dit anders; dit hang af van wat jy met jou saamdra.” Hierdie keer het Gerhard hoop en ’n klippie saamgedra. Die hoop se naam was Godfrey. Die klippie se naam Karibu.

’n Jaar gelede het Gerhard by die Vereniging vir Persone met Gestremdhede begin werk. Hoe beter hy die gees van gestremdes leer ken het, hoe vuriger het sy droom begin brand. “Party van hulle moet elke dag ’n berg klim, maar niemand sien dit ooit raak nie. Wanneer jy na iemand in ’n rolstoel kyk, voel jy meestal jammerte – in plaas van bewondering.” Dit is toe dat hy begin wonder het: Hierdie mense oorkom elke dag soveel hindernisse. Sal een van hulle nie saam met hom Kilimandjaro kan klim nie? En so is Team Hope gebore.

“Aanvanklik is mense maar skepties oor enige projek wat ’n uitdaging is. Maar dan, op ’n dag, begin die regte mense op jou pad kom.” Team Hope het gegroei tot tien mense wie se harte eenders klop. Daar was net een probleem – om ’n gestremde persoon te kry wat dit saam met hulle kon doen.

Dit was net nog ’n gewone dag by Kopano-aktiwiteitsentrum. Oral sit groepies mense rond en maak die mooiste goed. Krale. Leerwerk. Sommige is in rolstoele, ander loop op krukke. Hier kort ’n arm, daar ’n been. Maar entoesiasme is daar genoeg. Soos sy gewoonte is, beweeg Gerhard tussen die mense. In sy agterkop brand die twyfel: “Ek gaan nie die regte persoon kry nie,” dink hy terwyl hy vir die soveelste keer soek vir daardie een. Hy maak sy oë toe en vra hulp sonder om dit eers te besef. Dan kyk hy weer op, en sy oë ontmoet Godfrey s’n … “Dis hy,” sê ’n stil stem in Gerhard se oor.

[pagebreak] Godfrey was ’n gewone seuntjie wat in ’n township grootgeword het. Die wêreld was nie vir hom ’n wrede plek nie, al moes hy sonder baie dinge klaarkom. Hy het elke dag vrolik saam met sy maatjies skool toe gestap, smiddae omgespeel en saans doodmoeg gaan slaap. Maar toe is hy eendag op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Soos sy ma hom geleer het, het hy op die sypaadjie langs die besige straat gestap. Sy ma het egter nie rekening gehou met dronk mense wat roekeloos in strate jaag nie. Wat beheer oor hulle voertuie verloor en oor sypaadjies jaag nie …

Die ongeluk het vinnig gebeur. Godfrey was in die motor se pad – hy het sy been verloor.

“Daar is baie stories soos Godfrey s’n,” sê Gerhard. “Toe ek vir hom ’n prostese begin soek, het een vrou vir my gesê: ‘Daar is baie Godfreys’, bedoelende dat hulle nie almal kan help nie. Die verskil is net, het ek vir haar verduidelik, hy is mý Godfrey.” En met hierdie kanniedood manier van doen, het Team Hope se Kilimandjaro-projek al meer begin vorm aanneem.

“Ek was elke oomblik bewus van hoe perfek daar na elke klein detail omgesien word. Waar elke lid van die span aanvanklik gemoeid was daarmee om geld in te samel vir die tog, het borge begin instroom. Ons klere en toerusting is geborg, ons vervoer, Godfrey se prostese, daar was mediadekking … Dit het net nie opgehou nie!” Hy is steeds effens oorbluf oor die ondersteuning wat hulle gekry het. “Op die ou end was ons ’n amptelike Mandela Stigting-projek. Ons het toevallig op sy verjaarsdag begin klim, eintlik omdat ons die piek met volmaan wou bereik!”

Terwyl hulle voorberei het, het iemand gehoor van die projek – ’n man wat self ’n paar weke voor hulle Kilimandjaro sou aanpak. Hy het toe vir elke spanlid ’n klippie op die berg opgetel en ’n Swahili-woord daarop geskryf. Die idee was dat hulle die klippie saam opdra en weer op die berg terugsit. Op Gerhard se klippie het “Karibu” gestaan.

En toe, meer as ’n jaar nadat die idee gebore is, het die spannetjie klimmers in hulle bussie op pad lughawe toe geklim. Eers heelwat later sou Gerhard aan homself en ander mense erken dat die opgewondenheid en verantwoordelikheid ewe swaar op sy skouers gedruk het. Hoe nader hulle aan die berg gekom het, hoe meer het hy besef wat hy aangepak het.

[pagebreak] Alles was vir Godfrey ’n eerste. Johannesburg, ’n lughawe, die vlug, ’n ander land, vreemde tale, die hotel, ’n tent …

Terwyl die span geklim het, het hulle almal by die huis met Facebook op hoogte gehou. Eers wanneer jy daardie inskrywings lees, besef jy presies hoe groot die omvang is van dit wat hulle gedoen het.

“Die gidse is absolute engele. Ek hoor nog hoe loop en sing hulle ‘pule, pule’ … dit beteken stadig, stadig. Die geduld waarmee hulle mense teen Kili ophelp, is ongelooflik. Jy moet weet, daardie mense klim die berg elke paar weke. Hulle kan dit toe-oë doen. Op die oog af lyk dit soos eenvoudige mense. Maar hulle is helde.”

By die laaste kamp het Gerhard een van die twee groot Kili-lesse geleer. Almal was in ’n opgewekte stemming. Godfrey se hande was vol blase soos sy krukke hom geskaaf het, maar hy was nog daar! Net ’n paar uur se slaap en stap van die kruin af.

“Jy moet ’n besluit oor Godfrey neem,” het die hoofgids vir Gerhard kom sê. “Hy sal dalk die klim tot by Uhuru maak, maar hy beweeg te stadig. Nie hy of die twee gidse wat saam met hom loop, sal so lank in daardie dun lug kan oorleef nie. Hulle sal versmoor.”

“Daar het ek besef dat almal se kruin op ’n ander plek is. Godfrey het sy piek bereik, en dit was absoluut fantasties. Hy het elke tree tot daar self geloop. Die gidse het hom nie een keer gedra nie. As hy daar sou stop en omdraai, het hy nie misluk nie. Inteendeel, hy het een van die grootste mylpale van sy lewe bereik …”

Godfrey het by kamp vyf agtergebly toe die res van Team Hope die laaste klim aangepak het. Maar hulle het nie soos ’n halwe span gevoel nie – almal het daardie laaste paar uitmergelende ure gedoen met Godfrey se inspirasie wat hulle voortstu.

Op die hoogste punt in Afrika het Gerhard stilgestaan. Toe onthou hy van die klippie in sy sak en vra sy gids wat dit beteken.

It means welcome,”.

Net dit. Welkom. Nie fantasties of jy is ’n held of die wêreld is ’n beter plek danksy jou nie …

“Welkom,” Gerhard glimlag. “Dis al wat ek was. En dit was meer as genoeg.” Dit was die tweede les.