Die kontras is groot

Aan die een kant die juigende skare wat hosanna skree. ‘n Paar dae later dieselfde skare wat kruisig skree. Goeie Vrydag waar ons stil word by die kruis.

‘n Paar dae later juig ons oor ‘n leë graf. Op dieselfde dag wat my tweeling verjaar moet pappa die kardioloog gaan sien. Onverwags en heeltemal ontydig. My hart wil new te veel na ‘n kant beweeg nie. Ons hou partytjie met ‘n stukkie kommer in ons hart. Die volgende dag herinner die datum my dat dit die dag was toe ek moes hoor dat my geliefde boetie, my speelmaat van my kinderdae verongeluk het. Oor twee dae is dit sy verjaarsdag en moet ek aan ‘n 27 jarige dink as iemand wat 49 sou word. Alles in een week.

In die nag word ek wakker en dink oor alles. Hoe naby is die krip aan die kruis, die dood en die opstanding, die dag en die nag aanmekaar.

Hoe kosbaar die lewe en soms so kortstondig. As jy jou oë knip is die laerskool verby, op ‘n dag die hoërskool en dan hoor jy hoe ouers verlang na kinders wat hul vlerke span en wegvlieg.

Dan besef jy in daardie oomblik hoekom jy maar afvat vir die enkele kunswedstryd liedjie wat hul gaan sing, hoekom jy vroeg by die werk probeer loop vir die hokkie wedstryd. Dat geld baie kan koop maar nie tyd nie.

Jy besef opnuut dat die lewe nie altyd sin maak nie. Dat goue oomblikke nie in prestasie lê nie maar in geleenthede. Dat genade raakgesien moet word in daardie dinge wat jy asvanselfsprekend aanvaar. Dink ek terug aan my en my boetie se tye saam is dit die kampnaweke, staptogte, koffiekuiers, stoei en saam kattekwaad doen wat ek onthou. Op n manier sien ek iets daarvan raak by my kinders. Wil ek die oomblikke vir hul vries. Ek weet immers dat dit wat nou dalk onbelangrik lyk later uit die bêre plekkies van die hart sal kruip. Dankbaar dat sommige kosbare oomblikke van nou, eendag se onthou oomblikke gaan word.

Ek lees nou die dag hoedat iemand oor ‘n geliefde skryf: “Om jou te onthou is maklik, ek doen dit elke dag, Om sonder jou te leef is die moelike deel.”

Om van Jesus te weet is algemeen, om saam met Hom te leef is waar die verskil inkom. Die kruis en die graf is naby aanmekaar. Dat die graf leeg is, daarin lê die betekenis. Nooit alleen, nooit sonder hoop. Altyd ‘n toekoms. Dis in die kontras van die lewe waar ons moet raaksien waaroor dinge regtig gaan.