Die kosbaarste geheim is God se teenwoordigheid in elke mens

Jaco Strydom
Jaco Strydom

In my kinderdae het ons as gesin dikwels in die Laeveld gaan kamp. Terwyl die meeste mense op kampstoele gesit en uitkyk het oor ruigtes en klowe, het ek in die bos gaan stap.

Ek is nie seker wat ek gesoek het nie, maar ek was te nuuskierig om net van ver af te kyk. Dit het altyd gevoel asof daar geheime was wat ontdek moes word.

Soms het ek afgekom op dinge wat my nuuskierigheid bevredig het: ’n likkewaan, ’n bokkie of ’n ystervark. Ander kere was daar varings, paddastoele en waterstrome. Dit was minder opwindend, maar het my tog lewendig laat voel.

Dit is nog altyd so. Ander mense is tevrede om op die strand te sit en na die see te kyk. Ek wil induik en sien wat onder die water aangaan.

Daar is ’n nuuskierigheid in my wat heeltyd op soek is na nuwe ontdekkings. Al is dit soms ’n teleurstelling.

Ek onthou hoe my ma-hulle eenkeer vir my ’n radarbeheerde kar vir my verjaarsdag gekoop het. Dit was ’n wilde ding met groot wiele.

Binne ’n paar dae was ek verveeld en gou het my verveling begin plekmaak vir nuuskierigheid. Ek het begin wonder wat binne in die kar aangaan. Wat maak dat die ding ry en reageer op die afstandbeheer?

Met ’n geroeste skroewedraaier en ’n knipmes het ek die ontdekkingsreis na die binnekant van die kar aangepak.

Ek het daardie dag ’n paar lesse geleer. Onder andere dat dit makliker is om goed uitmekaar te haal as om dit aanmekaar te sit.

[JACO STRYDOM] “Liefde” is ’n woordjie wat ons maklik gebruik

Die grootste les was egter die teleurstelling. Ek weet nie wat ek verwag het nie. Daar was verbasend min binne-in dié kar wat so indrukwekkend gelyk het van buite af.

’n Klompie drade, ’n klein ronde metaalbuisie, ’n paar plastiekratte en elektroniese goed wat nie sin gemaak het nie. Om alles te kroon was die kar nou stukkend en moes ek dit weggesteek vir my ouers.

Daar was nog sulke teleurstelling. Ek onthou (tot my skaamte vandag) dat ek eenkeer ’n padda doodgemaak het om te sien hoe hy binne-in lyk. Ek moes eenvoudig sien wat in hom aangaan. Nog ’n teleurstelling.

Ek was waarskynlik teleurgesteld omdat ek nie verstaan het wat ek sien nie. As ’n mens die waarheid weet oor wat binnein iets aangaan, maak jou teleurstelling amper altyd plek vir verwondering.

Mense verskil, maar die ontdekkingsreis waarvoor meeste van ons van nature versigtig is, is om binne onsself te begin rondsoek. Iemand het eenkeer gesê “the most difficult journey is the journey inward”.

Ek dink ons is versigtig om regtig diep in onsself te kyk. Ons vermoed dat dít waarop ons gaan afkom, leeg, donker en selfs boos is.

Heel aan die begin van die Bybel leer ons egter ’n groot geheim oor onsself: dat sou ons diep genoeg kon kyk, ons onder al die voorgee en pretensie van ons vals-self sou afkom op die lig van God se teenwoordigheid, God se beeld in ons. Die grootste van alle geheime om te ontdek!

JACO STRYDOM is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.

Confessions oor Kerkwees E-boek: Confessions oor kerkwees
“Dit sal jou uitdaag, roer en diep aan die dink sit” – Stephan Joubert
Koop aanlyn op Voelgoedboeke, kliek HIER.
R96 R119