Die kwaai tannie met die Rooi hare

Ek werk by ‘n openbare instansie wat elke dag deur honderde mense en hul kinders besoek word. Nou kyk… ek het self ‘n woelige 20 maande oue seuntjie, wat dink dit is vet pret om sy Mamma se geduld te toets.

Hy ken van klim, klouter, vloermoere, hardloop en gil – asof die 2 dade saam gedoen MOET word, snot neuse, vuil hande, huil… you name it! Life of a mother!

Mammas vat hulle kinders dorp toe want dit is mos hoe dit moet wees. Niks teen ‘n ma watse kind dorp toe gaan nie, myne gaan ook saam en kan nogal lekker rammetjie-uitnek raak in Shoprite.

Elmien* bring mos nou die dag haar hele kroos saam dorp toe, en het gou ‘n paar goedjies nodig by ons winkel. 4 Orreplypies! Soos wat die hele bondel in kom klink dit soos ‘n pretpark wat aangestap kom – stemmetjies en geluide galore!  Die kinders dink die plek is ‘n “Giant Play Ground”en gaan bos! Klim op alles, kruip onder die toonbank weg, jaag mekaar met die stoele. Onmiddellik verloor ons ‘n paar kliënte. Die kleinste kindjie besluit die toonbank is ‘n vreeslike oulike plek vir klim en spring, en Mamma kyk houtgerus of die kleuter nie dalk sy nek gaan breek nie.

Die kliënte wat nog oor is in die winkel gee vir arme Elmien* sulke verwoestende kyke, en sy raak bietjie ongemaklik. Siestog, dit kan ook wragtag nie maklik wees om met ‘n halwe rugby span kinders dorp toe te gaan nie. Een van die ouer kinders laat val ‘n stoel bo-op die kleiner boete, en dis chaos! Dis ‘n geween en gekners van tande maar almal lewe nog en is weer op die been. Elmien* begin raak ongemaklik want die kollig is nou teveel op haar en die kinders. Dan kry sy ‘n plan… toevallig het ek rooi hare… Sy roep die kroos bymekaar en wys na my…

“Die tannie het rooi hare, en sy is baie kwaai hoor! As julle verder stout is gaan sy julle vingertjies af breek en julle boude warm slaan…”

Kind is ook maar net kind… die kroos kyk my verskrik aan en die heel kleinste een begin huil verwoedelik. “Tannie is ‘n Monster!” kom die woorde perfek uit sy vuil bekkie. Dit voel of ek die Ma ‘n pakslae kan gee, en skielik brand my tong om te sê: “Hoekom staan julle nou so stil? Breek alles af wat julle kan, gooi die tafels om en piepie ook sommer op die vloer!

Ek sal dan vir julle lekker taai toffies gee wat julle lank aan kan kou en sommer in julle Ma se pixi hare kan druk!” Ek wil hê Elmien* moet so skaam kry dat sy haar kop in een van Oom Daaintjie Donderweer se ertvarke se gate wil indruk!

Uiteindelik is die kooptog klaar en hulle verlaat die winkel. Sy moet beslis nog ander besighede in die dorp besoek met haar span, en ek wonder net waar gaan sy ‘n kwaai rooikoptannie kry om haar kroos op hok te hou… ons is maar yl geplant in die dorp…

Pandora