“Die lewe is nie ʼn reguit pad nie”

0
2584

Lika Berning voel dat jy buigsaam moet wees om jou doelwitte te bereik. As jy by verandering kan aanpas, sal niks jou moed breek nie.

Een van my grootste mikpunte is om eendag my eie huis te bou, êrens buite die Kaap, in die Klein-Karoo, byvoorbeeld. Meestal sal ek die huis wil ontwerp, maar ek is sommer lus om self klippe uit die grond uit te grou of die sement te meng.

Maar, soos die Beatles gesing het, die lewe is wat gebeur terwyl jy ander planne maak. Aan die begin van die jaar is ons derde baba gebore. Sy was ’n verrassing. Ons word eintlik heeltyd verras deur dinge. Dit het ongelukkig beteken dat ons soms met geld gesukkel het. Omdat ek en my man al twee in die kunste bedrywig is, kan dit nogal ’n uitdaging wees. Skielik was ek weer swanger en kon nie werk nie.

Die derde swangerskap het baie vinnig op die hakke van ons tweede kind gevolg. Ek was nog besig om te borsvoed en op daardie “liefie”-stadium waar hy net heeltyd naby aan my was. Toe maak die borsvoeding die naarheid erger, sodat ek daarmee opgehou het.

Dit het ’n bietjie gevoel of my seuntjie in die steek gelaat is, want dit was vir my belangrik om nog langer daarmee aan te hou. My plan is heeltemal omvergegooi. Ek het ook ’n werk verloor, in ’n film, as gevolg van die swangerskap.

Dit hang natuurlik af van wat jy probeer bereik, maar dit is belangrik om ’n plan op te stel en die stappe uit te werk. Dit neem ’n bietjie tyd om daaroor te dink. Dis die raad wat ek myself sou gee, om tyd af te staan om iets te beplan. Dalk help dit om dit neer te skryf.

Ek het dit self nog nooit gedoen nie, ek is impulsief eerder as iemand wat dinge tot in die fynste besonderhede beplan. Selfs met kook of bak. Ek volg nie ’n resep nie, gooi die melk sommer so uit die bottel uit, roer dit in en hoop vir die beste. Dit sal darem nie vir groter planne werk nie. As ons ’n stuk grond wil koop om ’n huis te bou, sal ons mooi na ons geldsake moet kyk. Dit sal nie sonder moeite en wilskrag gebeur nie.

Elke keer as jy nie jou doelwit haal nie, is moeilik. Ek is al voor nee gesê: oudisies waar die rol aan iemand anders toegeken is of voorleggings vir my liefdadigheidswerk wat nie aanvaar is nie. Weke se werk om dit te skryf, net sodat die deur in my gesig toegemaak word. As dit gebeur, kan ek nogal kwaad word en vir ’n dag of twee myself jammer kry, selfs ander mense verkwalik – hulle het nie behoorlik na my geluister nie of hulle prosedure is verkeerd.

Op die ou end moet ons elkeen vir onsself verantwoordelikheid aanvaar. Om moed op te gee is ’n keuse. ’n Toe deur kan bloot net ’n verandering van koers wees of ’n kans om nog harder aan dié deur te klop. Miskien moet jy van benadering verander en dan weer probeer, en harder probeer.

Wanneer die lewe van koers verander, sien ek dit nie noodwendig as ’n struikelblok nie. Ek is sensitief vir die tekens en luister na die Here se stem in my kop. ’n Reguit pad en ’n onbuigsame plan is nie die regte manier om iets te vermag nie. Dis eintlik beter as die lewe jou koers kies, en jy natuurlik tot ’n punt kan groei. Op dié manier is daar ’n energie wat jou meesleur, maar daarvoor moet jy vormbaar wees, soos klei in God se hand.