Die liefde glo nét die mooiste

0
13
weerlig.png

Die liefde hoop alles. Wanneer jy weer ‘n skinderstorie hoor, hoop eerder dat die beste van daardie persoon waar is.

Ek sien op Facebook ‘n berig wat deur talle Facebook-lesers ge-“share” word, en ook ge-”like” word. In die berig word vertel dat Me Nomsa Dube, die parlementslid van KwaZulu-Natal gevra het dat die Dept van Wetenskap en Tegnologie die oorsake van weerlig moet ondersoek nadat 7 mense deur die weerlig gedood is. Sy voeg dan by dat die ondersoek nodig is omdat sy gesien het dat “it only happened to the previously disadvantaged as I have never seen any white people being struck by lightning.” In die kommentaar op die berig wemel dit van die mees rassistiese opmerkings. Die lesers vertel hoe dom en onbekwaam Dube is, en hoe belaglik die ANC is, en hoe tragies dit is dat hulle die land regeer. Daar is letterlik honderde mense wat kommentaar lewer op die berig.

‘n Vinnige google-soektog wys toe vir my dat hierdie berig eintlik stokoud is. Die oorspronklike berig is in Januarie 2011 gepubliseer. Verder, die gedeelte oor weerlig wat net wittes tref, is ook onsin. Dit is eers later deur iemand bygevoeg en toe as een van daardie “hoax-emails” verder versprei. Maar dit wys net weer hoe gretig ons is om negatiewe stories oor mekaar te glo. 1 Kor 13:7 sê dat “Liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Maar hierdie “glo alles” beteken nie dat ons ook leuens oor ander mense moet glo nie. Dit verwys na positiewe stories. Iemand wat regtig liefde in sy lewe het, sal net mooi verhale oor ander mense glo.

Laat dit ook vandag ons uitgangspunt wees, naamlik om God se liefde uit te straal deur nie te val vir elke liegstorie wat ander mense afbreek nie, maar dat ons eerstens mooi verhale oor ander mense sal glo.