Die liefde is nie so eenvoudig nie!

0
255
Lu_Anne_Mulder.png

Mense raak maklik verlief, maar om dinge daarna reg te laat verloop, is nie so maklik nie. Dít het Lu-Anne sommer vroeg-vroeg al besef. Maar sy het uit haar foute geleer en kan nou ander help.

Elke vrou droom van kleins af oor haar sielsgenoot. Daardie een wat jy raaksien in ’n vertrek vol mense. Julle oë ontmoet. Alles vervaag. Hy beweeg in jou rigting. Julle raak skrams aan mekaar in die verbyloop en die elektrisiteit tussen julle laat jou nekhare regop staan. Jy’s duiselig. Hy sien dit raak en skuif ’n stewige arm om jou lyf. “Is jy oukei?” vra hy hees.

“Um … ja … ek … hallo …” steek die woorde in jou keel vas. Jy het nog nooit so gevoel nie. Dis jou ridder! Jy’t hom gekry!
Die volgende paar weke sweef jy op die wolke en leef van ’n paar slukkies water elke dag. Jy droom van ’n wit rok en babatjies. Alles is perfek. Julle lag, gesels en loop hand aan hand deur die strate. Jou hart het ’n lêplek gekry.
Maar dan. Onverwags. Pynlik. Seer. Snik jy jouself een aand aan die slaap. Wat ’n rustige aand uit moes wees, het in ’n gruwelike oorlog ontaard. Jy kan nie eers meer onthou hoe dit begin het of wat jy gesê het nie.

Natuurlik kan jy ’n paar dae later weer nugter dink en presies sien wat die oorsaak was, en hoe jy eintlik moes opgetree het. Nou ja, dit sou wonderlik gewees het as iemand jou vooraf kon voorberei en so te sê “afrig”. Dis nie altyd maklik om in die hitte van die oomblik objektief te wees nie – veral nie as jy verlief is nie. Jy het ’n dating coach nodig.
’n Dating coach? Lu-Anne Mulder van Kaapstad is prentjiemooi en praat met ’n tipe gesag wat al haar woorde onderstreep. Jy vertrou haar.

“Ek het ’n honneursgraad in sielkunde gedoen met traumaberading as spesialiteit,” vertel Lu-Anne. “En so passievol soos ek oor berading is, net so kan dit emosioneel baie uitmergelend wees. Dit gee jou ’n kykie in die mees vernietigende verhoudings waar geweld en verslawing daardie vrou of kind se realiteit is.
Vir Lu-Anne is die ligter kant van die lewe dating. Om op afsprake te gaan, mense te ontmoet en in ’n gelukkige verhouding te wees. “Vir my is dit ’n manier van ontspan, en moet beslis nie iets wees om oor te stres nie.

“Vir daardie paar uur vergeet jy van alles wat spanning veroorsaak en geniet dit om iemand anders te leer ken – en hulle humorsin te waardeer. Dan is daar natuurlik ook die ekstra opwinding om by iemand te wees tot wie jy aangetrokke voel.” Al is sy nou ’n kenner, het sy uit dure ondervinding geleer.

“Ek was al in ’n verhouding waar ons elke liewe dag oor iets gestry het. Van ons onderskeie families tot hoe om die yskas se deur toe te maak. Eers ná hierdie verhouding het ek besef dat dit nie veronderstel is om soveel moeite en so uitputtend te wees nie. As ’n stryery oor die televisie se remote veroorsaak dat julle elke aand kwaad uitmekaar gaan, is jy in die verkeerde verhouding. Of daar is dieperliggende probleme. Dan moet jy besluit of die verhouding die moeite werd is om aan daardie probleem te werk, en of dit maar net tyd is om aan te beweeg.”

Jy word vertel dat verhoudings werk is, dat jy moeite moet doen, toegewings moet maak, aanpassing … Min mense lê klem op die pret-deel. Mis ons iets? “Niks in die lewe is sonder uitdagings nie,” sê Lu-Anne, “maar as ’n verhouding jou nie gelukkig maak nie, is dit die verkeerde een. Wanneer ek by iemand is, wil ek die meeste van die tyd gelukkig wees. Ons moet mekaar aanvul en saam kan lag.” Hierdie nugter manier om oor verhoudings te dink het eendag heel toevallig ’n besigheid geword …
Lu-Anne is bly haar vriendin is verlief. Terwyl hulle nog so sit, stuur die nuwe liefde ’n SMS.

“Ek weet nie wat om te antwoord nie!” sê Lu-Anne se vriendin bekommerd. “Ek wil nie té desperaat klink nie, maar darem ook asof ek omgee …”
“Gee hier,” antwoord Lu-Anne voordat die omvang van haar voorstel regtig tot haar deurdring. “Ek sal.”
Danksy Lu-Anne het die verhouding net beter geraak. “Dis daardie einste vriendin wat toe voorgestel het dat ek dit professioneel moet begin doen. En so het ek ʼn dating coach geword!”

Dis moeilik om te dink dat jy hulp nodig het met die liefde. Is dit dan nie ’n natuurlike proses nie? Sommige mense kliek, ander nie. “Die meeste mense gaan sien ’n finansiële beplanner om hulle met hulle geldsake te help. Selfs ’n atleet wat ’n ‘natuurlike’ talent het, het ’n afrigter!” verduidelik Lu-Anne. Hierdie mentors help jou om minder foute te maak en die regte besluite te neem.

“Mense is geneig om herhaaldelik dieselfde keuses – en foute – te maak wat elke keer dieselfde gevolg het. En dit is presies waar ek in die prentjie kom. Ek spaar jou tyd en trane wat jy sou gemors het deur weer en weer te probeer terwyl jy oor en oor dieselfde foute maak.”
“Ek was al saam met ’n wye verskeidenheid ouens op afsprake, en so leer jy wat werk en wat nie. En jy leer immers ook uit elke verhouding.”
Jy kan nie help om te wonder wat presies dit is wat sy geleer het nie. Daardie goue reël wat die res van jou lewe in ’n feëverhaal gaan omskep! Maar ongelukkig, sê Lu-Anne, is daar nie so iets nie. Sy het wel al agterkom wat die grootste foute is wat vroue maak.

“Vroue is geneig om die kar voor die perde te span. Elke liewe persoon saam met wie jy op ’n afspraak gaan, is nie jou toekomstige lewensmaat nie! En wanneer jy wel daardie één ontmoet, kry ’n vrou dit maklik reg om té veel probleme te skep. Mans hou nie van admin nie. Besluit watter griewe die moeite werd is en watter kwessies jy liefs moet laat vaar. Dis maklik om iets met potensiaal op te mors deur aannames te maak.”

Lu-Anne is op die oomblik in ’n gelukkige verhouding, en hulle spot gereeld dat sy hom “gemanipuleer” het om haar uit te vra! “Natuurlik volg ek my eie raad,” knipoog sy. En wanneer sy haar ideale man beskryf, begin sy nie by deugde nie. Dis heeltemal te stresvol, en dit moet pret wees. “Ek hou van’n goeie humorsin en intelligensie. Want as daar later jare nie meer iets is om na te kyk nie, moet daar darem iets wees om oor te gesels. ’n Positiewe uitkyk op die lewe is ook ’n pluspunt – ’n man wat heeltyd kla, steel jou energie.”

Met selfvertroue, rooi lippe, hoë hakke en Lu-Anne op speed dial sal enige afspraak goed afloop. En wie weet, hy is dalk net die een. As jy twyfel, sal jou dating coach gou inspring en help dat jy nie tyd mors of geluk weggooi nie. In Suid-Afrika is die idee van iemand wat jou met jou liefdeslewe help, dalk nog vreemd, maar oorsee raak dit algemeen.

Besoek www.lu-anne.co.za vir meer inligting of epos Lu-Anne by info@lu-anne.co.za