Die liefde is prysloos

0
18
romantiese_piekniek.jpg

Die liefde kan mos nie gekoop word nie.

Mari onthou ’n baie lekker afspraak wat hulle minder as R50 gekos het. “Ons was een Paasnaweek by die see en ná kerk was ons rasend honger. Die kerk was bo-op ’n supermark gebou en toe ons by die trappe afstap, het die heerlike geur van vars gebakte brood ons honger mae verlei! Ons koop toe ’n halfdosyn kaasrolletjies, ’n pak slap tjips en ’n bak roomys vir poeding. Ons het toe ’n lekker piekniek met chip bunnies en roomys gehou.”

“Dít is prysloos!”

As jy platsak en raadop is, probeer die volgende:

1. Hamburger-en-tjips-cuisine

Romantiese ete vir twee: Ongeveer R500
Goedkoop alternatief: Ongeveer R150
Moeite: Min

Enigiets kan romanties wees.
Skep die beste atmosfeer moontlik. Hou ’n romantiese ete met hamburgers en tjips. Haal jou beste eetgerei uit en hou die ete eenvoudig. Versier die burger met kruie en gesiggies uit jou tuin. Kies gewone vanieljeroomys en vrugte in seisoen vir nagereg en dien dit op met roosblare uit jou tuin wat versuiker is.

Onthou – soms smaak bokswyn heerlik!

’n Goedkoop ete waarmee jy moeite gedoen het, kan baie meer spesiaal wees as ’n duur ete in ’n restaurant. Tuis kan die maaltyd net so lekker smaak, en jy is in die beheer van die atmosfeer!

2. ’n Kampvuur en malvalekkers

Luukse wegbreeknaweek vir twee: Ongeveer R3 200
Goedkoop alternatief: Ongeveer R300
Moeite: Matig

Baie mense dink as jy spaarsamig te werk gaan, gee jy luuksheid en styl prys.  Hotelverblyf is onnodig duur en dikwels onpersoonlik. As jy egter by hotelverblyf wil volstaan, gaan dan liewer buite seisoen in die middel van die week.

’n Nóg beter opsie is bed-en-ontbytplekke. Vir diegene wat privaatheid op die prys stel, is ’n selfsorgeenheid die perfekte alternatief.

Maar die bekostigbaarste opsie is natuurlik kampering. Doen moeite en soek ’n romantiese kampeerplek iewers in die berge of langs ’n rivier, en moenie die mag van ’n kampvuurtjie en ’n malvalekkerbraai onderskat nie!

3. Piekniek soos julle daarvan hou

Georganiseerde piekniek op ’n wynplaas: Ongeveer R500
Goedkoop alternatief: Ongeveer R100
Moeite: Matig

Daar is geen reël wat sê dat ’n piekniek in die buitelug moet geskied nie. Deesdae bied die meeste wynplase voorafbereide piekniekmandjies te koop aan. Dit is egter baie duur. Wat van ’n piekniek in jou eie slaapkamer? Gooi ’n tafeldoek oor die bed en steek kerse aan. Maak al jou en jou man se gunstelinge en kuier op die bed.

4. ’n Reis by die huis

Oorsese reis: R40 000
Goedkoop alternatief: Ongeveer R400
Moeite: Baie

As julle ’n oorsese reis beplan het maar jul finansies dit nie toegelaat het nie, vra jou man waarheen hy die graagste sou wou gaan. As hy byvoorbeeld nog altyd daarvan gedroom het om Toskane te sien, beplan ’n tema-aand by die huis waar jy vir hom ’n stukkie van dié kultuur vasvang.

Kry ’n romantiese CD met Italiaanse musiek, beproef verskeie eg-Italiaanse resepte en leer hoe om “Ek is lief vir jou” in Italiaans te sê.

Nóg goedkoop idees

  • Koop fliekkaartjies vir ’n aand waarop die flieks halfprys is of met ’n afslagkaart.
  • Tap vir julle ’n lekker bad. Vat ’n leë botteltjie en skryf vir hom ’n liefdesbrief. 
  • Maak deur die loop van die maand gereeld jul beursies leeg deur al die kleingeld ’n spaarbussie te plaas. Een maand is daar dalk net genoeg geld vir ’n draairoomys en ander maande kan julle moontlik ’n inryfliek bekostig.
  • Ontmoet mekaar by die plaaslike biblioteek. Lees en ontspan net in mekaar se nabyheid.
  • Gaan soek dan ’n stil hoekie in ’n koffiewinkel en neem ’n bordspeletjie of kaarte saam. 
  • Neem elk R50 en vaar ’n winkelsentrum binne. Jy en jou maat moet in verskillende rigtings gaan en binne ’n halfuur drie items terugbring wat julle aan mekaar herinner. Gee die geskenke vir mekaar en verduidelik die redes daaragter.
  • Gooi ’n kombers op die gras en verwonder julle aan die sterre.
  • Gaan koop twee vlieërs en gaan vlieg dit in ’n oop veld.