Díe mense het Fatima Abdool gevorm

0
38
fatima_abdool.jpg

Die mense wat deur die tyd oor jou lewenspad kom, speel ’n belangrike rol. Vir Fatima was dit ook so.

My “Mamma” was nie my regte mamma nie

Ek het by my ma se tannie, Mamma, soos ek haar genoem het, gaan bly toe my pa ons verlaat het en my ma verder moes studeer. Mamma was ’n streng vrou, maar ek onthou haar liefde en geduld as sy met my gepraat het. Sy het my op my tweede naam, Bibi, genoem. In Arabies beteken dit “suster”. Mamma was my beskermengel. Ek was verskriklik lief vir haar. Elke kind behoort ’n Mamma te hê.

Die onderwyseres wat my talent ontdek het

Op Nantes Primêr, in standerd een, het ek vir juffrou Tunisia Fortuin ontmoet. Ek is baie bevoorreg dat ek op ’n jong ouderdom ontdek het wat ek goed kan doen. Ek het tydens ’n skoolkonsert in ’n klein voordragitem opgetree. My interpretasie was spot on. Na die konsert het juffrou Tunie my geprys. Ek is talentvol, ek kan toneelspeel! Jare daarna kon ek juffrou Tunie vereer met ’n toekenning tydens die Vuvuzela-kunstefees in Eersterust.

My werk by Radiokansel het my gevorm

Dit was my wonderlikste ervaring ooit. Ek het die geleentheid gehad om saam met groot name soos Dirkie van der Spuy, Esté Geldenhuys, Cecile Burger, Justus Tsungu en nog baie ander te werk. Hulle toewyding en liefde het my gemotiveer om dieselfde toewyding in my werk aan die dag te lê. Ek het geweet ek was op die regte plek besig met die regte ding en met die regte motief.

Die grootste les wat die lewe my geleer het

Ek is ’n baie eenvoudige mens met eenvoudige lewensvereistes en verwagtings. What goes around, comes around is my leuse. Die volgende dinge hou ek niks van nie: onregverdigheid, valsheid en hoogmoed. Later in my lewe het ek ook beter leer verstaan hoekom dinge met ’n mens gebeur – die meeste van die tyd gebeur dinge om jou ’n les te leer. Wanneer dinge herhaaldelik gebeur, het jy nog nie die les geleer het nie.

Die lewe gee tweede kanse, maar ook uitdagings

Ek breek nie meer my kop oor dinge wat ek nie kan verander nie. Daar is baie ander dinge om te geniet. Die uitdagings is daar, maar ek durf dit aan met die oorwinning in gedagte. Die geraas in ’n mens se kop is soms die grootste hindernis tot oorwinning. Wanneer ek in die oggend gaan stap, gesels ek met my Maker oor alles.