Die mooi kant van liefde

0
1127

Hykie en Melissa Berg is nie net ’n gelukkige paartjie nie, hulle is ook baie sag op die oog. Ons het gaan uitvind wat hulle geheim is.

Om na jou lyf om te sien is nie net belangrik vir jou selfbeeld en gesondheid nie, maar dit het ook ’n invloed op jou huwelik. As jy goed voel oor jouself en jou lyf, sal dit ’n positiewe invloed hê op julle verhouding. Dit is moeilik om romanties te wees as jy die hele week nog net in jou sweetpak boer sonder selfs ’n titsel maskara.

“Wel, ek kan twee weke aanmekaar ’n swart sak dra en Hykie sal elke dag vir my sê ek is die mooiste vrou op aarde,” vertel Melissa met haar kenmerkende giggel.

“Kyk, dié vroutjie van my lyk altyd mooi. Sy is eintlik vir my op haar heel mooiste as sy nie ’n kriesel grimering aanhet nie. Maar as ons na ’n troue of funksie toe gaan en sy ’n mooi rok dra met hoëhakskoene en grimering, wil ek mal word. Dan is sy vir my darem maar supermooi. Maar ek het met Melissa getrou vir haar hart, nie vir haar looks nie. Hoe sy lyk, is ’n absolute bonus. Sy is selfs nog meer beeldskoon aan die binnekant.”

Dit is so duidelik soos daglig dat dié twee nog baie verlief is op mekaar. Vir Melissa is dit natuurlik belangrik om mooi te lyk vir haar man, maar sy doen dit ook vir haarself. Sy oefen hard en eet gesond, want sy wil graag goed voel.

“Ons liggame is God se handewerk en dit is ons plig om dit te versorg, maar vir ons is die inhoud beslis die belangrikste. Niemand lyk in elk geval altyd op hulle beste of mooiste nie en dit is oukei.”

[VIDEO] Hoe akkomodeer julle mekaar se liefdestale?

Vir die Bergs is dit baie lekker om by mekaar te wees. Hulle maak tyd daarvoor selfs as hulle programme baie vol is. Hulle is mal daaroor om saam kickboxing te doen, fiets te ry, te gaan fliek en goeie koffie te drink. Spa-uitstappies is ook een van hulle gunstelinge.

“Ek en Melissa maak ook ten minste een naweek in ’n jaar vas net vir ons,” verklap Hykie. Daardie naweek geniet ons mekaar en skuif so ’n bietjie die hele wêreld opsy. Dit is vir ons ’n hoogtepunt en ’n naweek waarna ons altyd baie uitsien.”

“Om by jou maat te wees is ook belangriker as wat die skaal sê of wanneer laas jy jou hare laat kleur het. Om jou maat elke dag te leer ken en net daardie spesiale oomblikke te deel is baie kosbaar,” voeg Melissa by.

Oor vorige verhoudings en die verlede praat niemand graag nie, want wat verby is, is verby, maar ’n mens kan baie uit vorige verhoudings leer. Beide Melissa en Hykie was al in ’n verhouding waar die ander party glad nie na hulleself gekyk het nie.

“En daardie persoon was ekself,” sê Hykie vinnig. “Ek het vroeër in my lewe baie gedrink, ek was met dwelms deurmekaar, ek het gerook en ek was sommer net ’n vuil en onaangename mens. Niemand wil tog met só ’n persoon in ’n verhouding wees nie, laat staan nog ’n huwelik. Dankie tog ek kon my lewe omswaai en hierdie een al vyf jaar lank my vrou noem. Sy is baie skoon en borsel haar tande vir ten minste ’n halfuur elke aand.”

Al wat Melissa kan doen, is lag en weereens kan ’n mens die liefde en respek tussen dié twee aanvoel. Hulle raad vir paartjies is om mekaar te geniet en lief te hê, maak nie saak wat gebeur nie. “Ons word almal oud en jou voorkoms is iets wat tydelik is, so, fokus op jou maat se hart. Dit is al wat op die ou einde beeldskoon moet wees.”