Die muis en die slang

0
1160

Iemand in Port Elizabeth het verlede week ‘n slang en ‘n muis in ’n boks gesit, en dit net so in een van die strate gelos.

Die slang en die muis het volgens ‘n kenner omtrent vier dae so saam in die boks gebly. Die muis het later begin eet aan die slang (ja, dis reg soos jy dit lees! Dit was nie andersom nie!). Na vier dae het iemand wat op straat bly, die boks met die slang en die muis daarbinne, gevind en hulle na ‘n dierehospitaal geneem.

Almal is nou verbaas dat die man wat op straat leef, die ordentlikheid gehad het om die slang en die muis na ‘n dierehospitaal te neem, terwyl die persoon wat die troeteldiere aangehou het, dit nie gedoen het nie. Dit wys maar net weer hoe foutief ons vooropgestelde idees kan wees. Ons het so dikwels vooropgestelde idees van hoe sekere mense optree, en intussen word hierdie idees so dikwels verkeerd bewys.

Ons het dikwels ons eie vooroordele van hoe rykes leef, of wat armes doen, of hoe ‘n bepaalde rasgroep sal reageer, of hoe mense in BMW’s bestuur, of hoe geleerde mense ander hanteer, of hoe …… en so kan ‘n mens aangaan. Moet nooit mense tipeer nie. Baie van Jesus se verhale wys juis hoe mense heel anders optree as wat algemeen verwag is: Ons sou byvoorbeeld dink dat die Skrifgeleerdes Jesus gretig sou verwelkom, maar toe verwerp hulle Jesus. Teen die verwagting in het Fariseërs en prostitute hulle by Jesus geskaar. In die verhaal van die Barmhartige Samaritaan is dit nie die profeet en die priester wat die beseerde Jood help nie, maar juis die Samaritaan!

Oppas vir vooroordele en vooropgestelde persepsies oor ander mense.