Die naakte waarheid

0
52
Gretha Wiid

As daar een onderwerp is wat vir vuurwerk in ’n huwelik kan sorg, is dit seks – aan die een kant omdat dit warm en vurig kan wees, en aan die ander kant omdat dit ’n verhouding in vlamme kan laat opgaan.

Huwelikskenner: Gretha Wiid

As daar een onderwerp is wat vir vuurwerk in ’n huwelik kan sorg, is dit seks – aan die een kant omdat dit warm en vurig kan wees, en aan die ander kant omdat dit ’n verhouding in vlamme kan laat opgaan.

Seks is een van die aspekte in die huwelik wat baie chaos en pyn kan veroorsaak. Twee mense se sekslewe is byvoorbeeld ’n redelik goeie weerspieëling van hulle verhouding buite die slaapkamer. Die wyse waarop ons met mekaar omgaan, bepaal ook ons seksuele omgang. Dit wat buite jou slaapkamer gebeur, het ’n wesenlike invloed op wat in jou slaapkamer gebeur.

Die groot oorsaak van die leemtes en uitdagings met seks lê in die opvoeding wat jy as kind hieroor gekry het. As jy onkundig is oor seks, gaan jy die huwelik in met gebrekkige kennis en redelik min waagmoed.

Jy het dalk nog altyd gedink seks en intimiteit is een en dieselfde ding, maar die een impliseer nie noodwendig die ander een nie. Miljoene mense regoor die wêreld het seks met mekaar sonder om ooit enige vorm van intimiteit te deel. So is daar ook miljoene mense wat intimiteit met mekaar deel sonder om seks te hê.

Die hoogtepunt sou wees as ons beide kon ervaar (binne die huwelik), want fisieke en emosionele vervulling op dieselfde tyd is ’n baie groot seëning. Dit is wel moontlik as jy en jou maat openhartig en eerlik met mekaar is en julleself voor mekaar kan blootlê.

Skaamte gaan intimiteit moeilik maak

Oor seks in die huwelik is ons nie altyd die regte goed geleer nie. Vroue is geleer seks is hulle vroulike plig en hulle mag nie hulle mans weier nie. Ook dat mans sal rondloop as hulle nie seks by die huis kry nie. Dis natuurlik nie waar nie.

Met al die tradisionele leuens en wanopvattings wat aan ons oorgedra is, is dit ’n wonderwerk dat mense nog seks het en dit kan geniet. Onthou, seks bly die diepste vorm van die verbintenis tussen ’n man en vrou. Intimacy kan beskryf word met in-to-me-see en intimiteit as in-to-me-tyd.

Wanneer ons nie gewaardeer of geliefd voel in ons verhouding nie omdat ons seergemaak, gekritiseer of verstoot word, bou ons mure rondom onsself om ons teen die pyn te beskerm. Hierdeur word ons huwelike dan dieper intimiteit ontneem omdat die een nie in die ander een kan “in-sien” nie. Wat in-to-me-tyd betref, loop ons baie dinge mis as gevolg van onopgeloste en onverwerkte issues.

Intimiteit is baie meer as ’n blote daad. Dis wanneer twee mense se liggame en harte saam ingestel is op mekaar. Met seksuele intimiteit gaan dit nie oor die eindpunt nie, maar eerder oor die diepe ervaring om deel te wees van mekaar. Paartjies wat emosioneel veilig voel by mekaar om hulle liggame, harte en drange te ontbloot, ervaar hierdie intimiteit.

Leer jouself en jou maat intiem ken

Ek glo dat ’n man en vrou mekaar net intiem kan geniet as hulle mekaar intiem ken. Pyn in die verlede, gevoelens van skuld en spyt, foute uit onkunde – dit alles kan ’n mens verhinder om intimiteit werklik te verstaan en te geniet, totdat jy genesing daarvan kry.

Om ’n diep emosionele ervaring saam met goeie seks te hê, verg tyd. Paartjies wat saam lag, tyd maak vir mekaar en emosioneel veilig voel by mekaar, se sekslewe sal gekenmerk word deur speelsheid, diep oomblikke en spontaneïteit.

Dink ’n bietjie oor die vrae hieronder. Doen moeite en jy mag dalk ’n deel van jouself leer ken waaroor jy nie eers dink nie. Jy mag dalk ook net jou huwelik verryk op ’n wyse wat jy nooit verwag het moontlik is nie.

  • Wie het jou touwys gemaak oor die ontwikkeling van jou lyf? (nie oor seks nie)
  • Het jy ’n prys betaal vir onkunde?
  • Is daar dinge in jou seksuele verlede waaroor jy skaam of skuldig voel?
  • Watter uitwerking het dit op jou huwelik en sekslewe?

 

Seks alleen is nie genoeg om ’n huwelik gesond te hou nie. Maak eerder tyd vir mekaar en breek die mure van onkunde en die skanse tussen julle af. Om intiem te verkeer vra harde werk. Uiteindelik is seks nie die gom van ’n gesonde huwelik nie – intimiteit wel.