Die naakte waarheid oor affairs

1259

Tyd, ervaring en ander paartjies se stories het my geleer hoe baie wanopvattings daar oor buite-egtelike verhoudings bestaan.

Ek het as jonggetroude vrou ’n tannie vermanend hoor sê: “Die pad na ’n man se hart loop deur sy maag, en ’n honger hond loop rond!” Min het ek besef hoe daardie einste woorde nog by my sou spook.

Dis nie jou skuld as jou maat rondloop nie

’n Natuurlike reaksie as jy met die seer en skoknuus van ontrouheid te doen kry, is om antwoorde te begin soek en die legkaartstukke te probeer uitpluis. Daar moet immers ’n rede vir die affair wees, of hoe?

Jy was seker nie goed genoeg of mooi genoeg nie. Te vervelig of jou maat het te min seks gekry. Die duisende vrae maal deur ’n mens se kop, met min klinkklare antwoorde.

Hóór vandag dat jy nie noodwendig die probleem is of was nie. Hordes mense wat eerlik hieroor praat, getuig dat hulle oor die draad gespring het as gevolg van iets binne-in hulleself – ’n worsteling, ’n soeke, ’n leemte.

Sommige huweliksmaats spring oor die draad en soek avontuur of kameraadskap buite hulle huwelik ongeag dit wat hulle reeds het – baie geld, sukses, aansien, ’n goeie vrou en genoeg seks. Tiger Woods, Bill Clinton – dié name alleen is ’n bewys dat jy nie noodwendig die rede vir jou seer en ontnugtering by jouself hoef te soek nie.

Enigiemand kan in die strik van verleiding trap

Te veel mense glo die mite dat dit nie met gelowige mense kan gebeur nie. Ons weet tog hoe ’n pad van gehoorsaamheid lyk, nie waar nie?

Soms besef ons eers die krag van misleiding as ons die ander kant van die muntstuk in ons hand hou. Die beroemde Engelse prediker uit die 19de eeu, Charles H. Spurgeon, het gesê: “Be careful of slipping so slowly that you don’t even realise that you are slipping at all.”

As ons die grense van vriendskap oorsteek, ’n skouer soek of ís vir die verkeerde persoon, selfs oogkontak vir te lank hou, is die deur na misleiding en verleiding dalk reeds oop. As jy tyd alleen saam met ’n kollega deurbring waar julle onskuldige kantoorpraatjies maak, moet jy die gevaarligte sien flikker.

Omdat dit so onskuldig lyk, hoor ons dikwels nie die stemmetjie van ons gewete nie. Die gevaarlikste leuen wat ons kan glo, is dat dit nie met ons kan gebeur nie.

Dat ons te gelukkig getroud, te heilig, te sterk van karakter, te slim is. Met sulke uitlatings en persepsies wys ons eintlik ons onkunde en amperse arrogansie.

Dit is moontlik om vergifnis en versoening te kies

Daar is min paaie so moeilik om te stap soos die pad ná verraad. En ja, alhoewel alles vergeefbaar is, is nie alles altyd herstelbaar nie. Tog wil ek jou vandag bemoedig en herinner aan die baie mense met stories van hoop, getuienisse van herstel en verhale van tweede kanse.

Hierdie pad is nie sommer een van onder-die-mat-invee-en-aangaan nie. Dit is een van harde werk, daaglikse toewyding en bewyse in die kleinste en fynste elkedagse detail dat albei die huwelik kies – mekáár gekies het. Dis ’n pad waar jy vergifnis op ’n nuwe manier sien en leef.

Met die regte keuses, fokus en dringendheid kan ook jóú seer verhaal ’n inspirasie word vir ander, ’n baken van hoop in ’n ander se donker tonnel. Laat liefde, genade en vergifnis skyn!

Gretha Wiid, huweliksgroei, seksualiteit en tieners

Kliek hier vir meer oudios, videos en artikels deur Gretha.