Die nommer-een-kuur vir jou stres

0
236
bekommerd.png

Aardverwarming, die kinders, jou geldsake – jy bekommer jou oor alles. Tog kán jy vrede hê, al moet jy met hierdie dinge saamleef.

Aardverwarming, die kinders, jou geldsake – jy bekommer jou oor alles. Tog kán jy vrede hê, al moet jy met hierdie dinge saamleef.

Moet oor absoluut niks bekommerd wees nie

Dit maak nie saak wie wát sê nie, jou bekommernisse sal nie vanself weggaan nie. Jy dink miskien jy sal minder gespanne wees as jy sekere situasies vermy. maar jy ís nou in hierdie wêreld en jy kan nie wegkom van alles af nie.

In Filippense 4 vers 6 staan daar egter jy moet oor niks besorg wees nie. Dis ’n keuse en ’n opdrag. Dis natuurlik teen jou natuur, want hoe kan jy nié stres nie? Jy moet egter elke dag van voor af besluit om jou nie onnodig te bekommer nie.

Dit beteken nie jy moet passief wees en jou probleme ignoreer nie. Moet net nie langer toelaat dat dit jou beheer en jou vreugde steel nie.

Moenie oor Ebola stres nie. Moenie jou oor jou kinders bekommer nie. Moenie wonder wat van jou gaan word as jy eendag oud is nie. Jy weet mos Wie sorg vir jou – nou én eendag.

Vertel vir God waarvoor jy alles bang is

Jou hemelse Pa weet lankal wat jy nodig het; tog moet jy dit nog steeds vir Hom sê. Hy wil hê jy moet Hom vertrou en erken dat jy van Hom afhanklik is. So word jy daagliks daaraan herinner dat Hy goed na jou kyk.

Bid sommer oor alles wat jou pla. Vra dat jy en jou hartsmense beskerm sal word. Bid vir al die mense wat swaarkry. Dis goed om ook vir ander te bid, want dit neem die fokus van jouself en jou eie bekommernisse af. So vergeet jy ’n bietjie van jou eie probleme.

Net soos jy die keuse moet maak om jou nie te bekommer nie, moet jy ook ’n definitiewe besluit neem om meer gereeld te bid. Dit is nie ’n passiewe ingesteldheid nie. Dis ’n manier om naby God te bly deur elke oomblik bewustelik in jou gedagtes kontak met Hom te behou.

Sê altyd dankie vir wat jy kry

Jy kan meestal nie sien wat God alles vir jou doen nie. Hy werk agter die skerms. Jy stem dalk nie altyd met Sy tydsberekening saam of met die manier hoe iets gebeur nie, maar wees gerus. Hy weet wat Hy doen en Hy soek net die beste vir jou.

Sê daarom sommer vooruit dankie vir die goeie dinge wat nog op jou wag. Jy sal agterkom dis moeiliker om te kla en oor alles te tob as jy jou seëninge wat nog op pad is, ook kan begin tel.

Met hierdie ingesteldheid sal jy daardie vrede kan hê wat die wêreld glad nie verstaan nie. Dan sal dit nie meer soveel saak maak hoeveel geld jy het of hoe dit by die werk gaan nie.

Hierdie kalmte kom nie van jou eie harde werk of omdat jy skielik in ’n perfekte wêreld bly nie. Dis ’n hemelse geskenk!

Vertaal en verwerk uit The Number One Cure for Worry, deur Debbie McDaniel.