Die ‘nuwe lewe’ seisoen

Dit is vir my altyd so wonderlik om te dink dat lente hierdie tyd van die jaar plaasvind, en ek glo God het dit doelbewus so gemaak.

Hierdie tyd van die jaar begin mense moeg voel, ‘n vol jaar is reeds agter die rug en die einde van die jaar is reeds ook in sig. Binne die volgende maand gaan ons al Kersbemarking in elke winkel begin sien, dan weet ons die jaar is amper verby.

Maar, selfs al is dit ook nog bietjie koud, is lente reeds hier. Bome is weer groen en orals steek bloeisels hulle kop weer uit. Die son kom weer vroeër op om ons met ‘n glimlag te groet en die voëls bring ‘n nuwe vrolikheid na die dag. Nuwe lewe word in die natuur gesien en op ‘n manier bring dit ook weer ‘n gevoel van varsheid aan my gemoed.

Ek glo die Here het geweet ons het hierdie ‘nuwe lewe’ seisoen spesifiek hierdie tyd van die jaar nodig, sodat ons net weer daai hupstoot kan kry voor die jaar ons finaal platdruk van moegheid.

Dan besef ek ook dat hierdie tyd van die jaar ideaal is vir geestelike ‘spring cleaning’. Ons moet meer gesprekke met God hê en hom vra om ons te lei deur die situasies wat ons nie noodwendig verstaan nie. Ek het steeds baie geestelike ‘gemors’ in my lewe wat skoongemaak moet word, en ek wil doelbewus ook daaraan werk.

Fokus vandag meer op die klein oomblikke wat vir jou nuwe lewe simboliseer. Kyk om jou rond en sien die groen blare raak, word stil en hoor die voëls wat jou met mooi geluide groet. Haal diep asem en waardeer die vars lug want jy het die vermoë om asem te kan haal.

Mag jy vandag God se hand in elke situasie beleef, en mag jy jouself geestelik in ‘n ‘nuwe lewe’ seisoen vind.

Seënwense,

Stephanie