Die nuwe seisoen is amper hier, wees geduldig

Dit is weer Augustus. Die maand waar die wind op die hoëveld almal wil wegwaai en die stof sommer sulke rooibruin lae oor alles verf.

Party dae voel dit mos so al of die stof ook in mens se binneste wil nes maak terwyl die wind jou gemoed deurmekaar waai.

Jy weet die wind is nodig. Dis ‘n teken dat die seisoene begin verander. Na die wind en die stof, wag daar gewoonlik reën lafenis in die Lente en dan weet jy ook die Somer is net om die draai.

So gaan dit mos soms in ons lewens ook. Partykeer staan jy op die drumpel van ‘n groot verandering in jou lewe. Tien teen een ‘n lekker verandering. Dalk die vooruitsig van ‘n troue, of die geboorte van ‘n baba, miskien ‘n vakansiereis in die buiteland… Dalk het jy jou visier ingestel op bevordering by die werk, of jy wil ‘n nuwe huis of motor koop. Jy sien uit daarna, maar die wagtydperk en die voorbereidings kan jou soms teen die mure uitdryf. Jy weet wat wag, maar om daarby uit te kom, moet jy eers deur baie reëlings, emosies, vele aansoeke, en administratiewe take ploeg.

Wanneer alles so tegelyk op jou neerdaal en gedoen moet word, dan kan mens lus voel om die handdoek in te gooi. Om alles te los, sodat jou lewe net weer kan normaliseer. Dis juis in sulke tye wat jy weer vir ‘n slag moet kyk wat in die natuur gebeur. Dieselfde bome wat nou kaalgestroop en droog op die sypaadjie staan en bewe in die wind, gaan eersdaags weer groen blare hê. Die vrugtebome wat op die oomblik nog dood in die boorde lyk, gaan binne ‘n paar weke oortrek wees met bloeisels en daarna begin vrug dra.

Dus wees net geduldig, elke nuwe seisoen in jou lewe sal op die regte tyd aanbreek. Doen wat jy moet doen, hou jou doelwitte in die oog, en moet nooit opgee nie. Sterkte met die Augustuswinde en weet die Lente is net om die draai.

Vorige artikelVan jou gedagtes vas
Volgende artikelNiks hou my terug nie
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.