Die onwetende junkie

1397

Skoene, vitamiene, koffie of oefen? As jy nie sonder dit kan klaarkom nie het jy waarskynlik die dowwe lyn tussen passie-hê en verslaaf-wees oorgesteek.

Laat ek dit nou maar ruiterlik erken: Ek is verslaaf aan skoonmaak. Gee my ’n besem of ’n nat lap en ek is in my element. Solank ek aan die kant kan maak en orde kan skep, is ek op my gelukkigste. Dis soos terapie, voel dit vir my. Wat my hand vind om skoon te maak of weg te pak, doen hy terstond. Soms tot groot ergenis van my gesin.

“Kan jy nie vir ’n oomblik ontspan nie?” Ergelike vrae wat ek alte dikwels hoor, maar wat helaas my nie van my “verslawing” genees nie … Die strewe na netheid en orde as sodanig is nie verkeerd nie, maar sodra dit uitermatig is en die “grens” oorsteek, kan dit nadelig wees, nie net vir jouself nie, maar ook vir gesinsverhoudings, sê dr. Arien van der Merwe, stresspesialis van Discovery Health en mediese praktisyn met wye ondervinding in natuurlike en aanvullende medisyne, welwees en gesondheidsbevordering.

Feit is, mense raak baie maklik “verslaaf” aan, of obsessief oor een of ander ding: TV, koffie, vitamiene, fliek, oefening, sepies, koop, sport, lees … noem dit maar op.

SKOENE

“Menige maal het ek al by die huis ingesluip om ’n nuwe paar skoene gou weg te steek bloot omdat ek ’n skuld-gevoel daaroor het. Ek sal nooit iets aantrek as ek nie die regte skoene het nie. Ek trek dit summier uit en trek ’n ander uitrusting aan wat bypassende skoene het,” sê die Johannesburgse mode-ontwerper Mercia Hattingh wat “verslaaf” is aan mooi skoene.

Sy kom uit ’n modebewuste familie, vertel sy, en miskien daarom die oog vir mooi goed. “Maar níks is so mooi en verleidelik soos ’n paar skoene nie. Van kleintyd af kon ek nie by ’n winkel met skoene verbystap sonder om ’n opgewondenheid van formaat te ervaar nie.

“Ek kan nou nie meer bekostig dat die passie my in die moeilikheid bring nie en moet nou desperate pogings aanwend om nie by skoenwinkels verby te stap nie. Want sien, daar is definitief ’n paar daar binne wat presies reg is en wat ek baie nodig het …”

“Maar, glo my, wanneer ek die ou paar skoentjies koop wat my so roep, lê ek steeds vanaand in die bed met die been in die lug om hulle te bewonder. Dit gee my so ’n uplifting gevoel. Skoene kan jou hele luim verander.

Wat sê Arien: ’n Groot behoefte wat ons eintlik almal het, is die sielsoeke na waardes, doel en betekenis in die lewe. Dikwels dink mense hulle kan geluk vind in eksterne dinge soos koop – of dit nou skoene of handelsnaamprodukte is. Dit is asof jy buite jouself soek om die tekorte binne-in jou aan te vul.

Maar meestal is jy onbewus van die tekorte. Wanneer jy dit eers besef, kom die strewe om die balans te herstel.

KOFFIE

“Niks maak my meer mismoedig as wanneer ek die oggend opstaan en die krag is af nie! En my mismoedigheid het niks daarmee te doen dat ek nie my hare kan droogblaas, radio luister of roosterbrood maak nie. Nee, dis die gebrek aan ’n lekker koppie regte koffie wat my soos ’n buffel met ’n seer tand deur die huis laat strompel,” bely Emmie Gous.

“’n Glas lemoensap, water of melk gee my net nie daardie oemff wat my kaffeïenverslaafde lyf soek nie. Ek kan nie aan die werk kom nie, ek kan nie dink nie, ek kan nie die koerant lees nie, want in my geestesoog verskyn heeltyd prentjies van bekers vol koffie. En eers wanneer ek daardie eerste teug neem, verdwyn die vreeslike lus in my binneste en kan ek met my dagtaak aangaan.”

Hoewel die eerste koppie koffie soggens die heel lekkerste een van die dag is, is Emmie voortdurend aan die koffie drink. “Voor 9 uur in die oggend trek ek al gewoonlik by my vierde koppie koffie. Afhangende van my dag se program, werk ek deur die loop van ’n dag maklik so 10 of meer koppies in.”

Wat sê Arien: Daar’s regtig niks fout met koffie nie! Ek stem saam dat een of twee varsgemaalde koppies koffie ’n dag deur min dinge oortref word. As jy egter te veel van enigiets doen vir te lank, kan dit skadelik wees vir liggaam, verstand en siel.

OEFENING

En dan is daar uiteindelik die grootste van al hierdie obsessies … die oefen-junkie. “Baie oefening- en gimverslaafdes is obsessief oor hul liggame en voor-koms. As hulle dit vir drie, vier dae nie doen nie, kry hulle dikwels onttrekking-simptome. Dis dan wanneer onaangename gevoelens en vrae oor die doel van die lewe en die bydrae wat hulle maak, opduik,” sê Arien.

So, gaan kyk weer na daardie vol-gepakte kas met skoene en vitamiene; of na jou slaafse gim-afsprake ten koste van gesinstyd … en vra jouself af: Kan ek daarsonder? Hardloop ek eintlik van iets weg …?

IS EK VERSLAAF?

Een van die algemene reëls is dat jy 30 dae sonder iets moet kan klaarkom. Indien nie, moet die rooi ligte vir jou begin flikker! Die negatiewe sy van dié soort verslawing is dat dit al hoe meer tyd in jou lewe in beslag begin neem. Gevolglik versteur dit die ewewig tussen byvoorbeeld jou werk en jou gesinslewe. ’n Mens moet dié fyn balans noukeurig dophou: Tussen werk, verhoudings, gesinslewe en vryetydsbesteding.

Die meeste obsessies is vreesreaksies. Dis ’n vrees vir doodgaan, ’n vrees vir oud-word, ’n vrees vir miskenning of ’n soeke na erkenning. Dit blok jou dieper “sielsoektogte” na die ware self en innerlike behoeftes. Deur obsessiewe en herhalende aktiwiteite voel jy jy het in ’n mate beheer oor die lewe.