Die oomblik wanneer Hy ingryp

130

’n Naelskraapse ontmoeting met die dood het Marius Vermaak ’n nuwe perspektief op die lewe gegee. Nou is sy doel om geestelike genesing in mense se lewens te bring.

Terwyl Marius in die hospitaal met ’n drup in elke arm lê, probeer hy sin maak van die dag se gebeure. ’n Warboel gedagtes flits deur sy kop. Hy onthou stukkies van sy laaste gesprek met met sy seun, sy verwarring nadat hy bygebring is.

Hy het geen idee gehad dat sy hart soos ’n tikkende tydbom was nie. Ja, daar was tye dat sy ystertekort hom doodmoeg gemaak het, maar hy het gedink dis onder beheer.

’n Vlymskerp besef sny deur hom. Dit ruk hom tot stilstand. Vandag kon sy laaste dag op aarde gewees het.

As medestigter van CrisisOnCall is hy bekend met noodgevalle, Maar wat as die dood die dag aan jou hake kom byt?

Hy lê en stoei met dié gedagte. ’n Vraag bly aanhoudend knaag: “Waarom het die dood se kake nie vashouplek gekry nie?”

Later val die legkaart voor sy geestesoog in plek. Daar is ’n rede waarom hy nog hier is. “Ons is op aarde geplaas om sekere take te verrig. Alles op my lysie is nog nie afgemerk nie.”

Marius is oortuig daarvan dat mense se lewenspaaie met ’n rede saam begin loop, selfs al maak dit op daardie oomblik nie sin nie. “Niks gebeur toevallig nie. Ek glo alles het uitgewerk soos dit beplan is,” sê hy.

Sy hart is vol dankbaarheid vir sy tweede kans – ’n hart wat sy seun weer laat klop het.

Hoe is daar in jou lewe ingegryp?

My jongste seun, Ruan, werk saam met my by CrisisOnCall. Een oggend loer hy by my kantoor in en vra of ek gou saam met hom na ’n radiopraatjie toe wil ry.

Ons is al twee besig en daar is min tyd om oor werksake te praat. Ek het eers nee gesê, maar stem toe in. Dit was ’n goeie geleentheid om te gesels.

Op pad terug werk toe het ons nog die een oomblik gepraat en die volgende oomblik word alles net swart voor my. Ruan het gesien ek reageer nie en het dadelik van die pad af getrek.

Ek het geen pols gehad nie. Omdat Ruan ’n paramedikus is, kon hy die nodige doen om my hart weer aan die klop te kry.

Na ek bygebring is, het dit gevoel of ek net vir ’n oomblik aan die slaap geraak het. Ek het eers later in die noodgevalleafdeling gehoor dat ek twee minute lank weg was.

Wanneer het die werklikheid tot jou deurgedring?

Die aand toe ek alleen in die hospitaalsaal lê, het die dag se gebeure my getref: Ek kon dood gewees het. Ek het skielik besef hoe verganklik die lewe is. Alles kan in ’n oogwink tot ’n einde kom.

Na so ’n traumatiese ervaring gaan ’n duisend gedagtes deur jou kop: Wat as ek bestuur het? Wat as ek nie oorleef het nie? Wat sou met my vrou en kinders gebeur het?

Toe my gedagtes ophou maal het, het daar rustigheid oor my gekom. Stuk vir stuk het alles in plek geval. ’n Mens beleef soms wonderwerke op die mees onverwagte plekke en op die mees onverwagte maniere.

Was dit ingryping of toeval?

Ek kan duidelik ’n Hoër Hand sien. Daar was net te veel faktore wat in my guns getel het om dit bloot aan toeval toe te skryf. Die wete dat alles op so ’n bonatuurlike manier inmekaar gepas het, was ’n ommekeer in my lewe.

Ek sit meestal alleen in my kantoor. Die dag met my hartstilstand was daar nie tyd om hulp te vra nie. Alles het baie vinnig gebeur. As ek in my kantoor was, sou niemand eers geweet het dat ek iets oorgekom het nie.

Daar is geen twyfel dat ek en my seun op die regte tyd op die regte plek was nie. Ruan is langs my geplaas sodat hy sy mediese kennis instinktief kon inspan. Sy werk was om my lewe te red, nie omdat ek die Here se witbroodjie is nie, maar omdat dit deel van ’n groter plan is.

Is daar ’n skakel tussen gebed en genesing?

Terwyl ek in die hospital gelê het, het baie mense vir my en my gesin kom bid. Dit het my met ’n geweldige gevoel van liefde en genade omvou. Ek kon voel hoe hulle gebede my fisies en geestelik versterk het.

Ná ’n hartstilstand is daar ’n groot kans vir skade, maar my sonars wys niks. Ek het ook ’n vergroeisel op my nier gehad wat nou weg is. Agt dae na die hartstilstand het ek as ’n nuwe mens by die hospitaal uitgestap. Ek glo dit is alles aan gebed te danke.

My opvatting van genesing het ingrypend verander. Nou meer as ooit glo ek dat die krag van gebed alle menslike moontlikhede en denke troef. Ek fokus nou sterk op betekenisvolle gebedsgesprekke, nie om bloot elke dag dieselfde rympie op te sê nie.

Hoe het jou gesin die gebeure verwerk?

Ons het ’n baie hegte band en dit was vir almal ’n groot skok. My jongste seun het veral oor die gebeure getob. By die hospitaal het hy my gevra: “Wat sou gebeur het as ek Pa nie kon red nie?” My antwoord was: “Wees trots daarop dat jy ’n paramedikus is en dat jy my lewe kon red.”

Motiveringspreker Jannie Putter het tydens ’n seminaar wat ek bygewoon het, gevra: Gaan jy die wit hond kos gee wat positiewe gedagtes verteenwoordig? Of gaan jy die swart hond voer? Die vergelyking het my bygebly. Ons het besluit om eerder op die positiewe te konsentreer en die wit hond kos te gee.

Hoe omskep jy die negatiewe in iets positiefs?

Om die dood in die oë te staar het my weer oor alles laat besin. Ek het altyd gedink dat ek vir ewig gaan lewe. ’n Mens dink daar is nog baie tyd en baie kanse. Nou besef ek daar is dalk nie nog ’n kans nie.

Baie mense dink dat as jy ’n Christen is, niks slegs met jou gaan gebeur nie. Niemand het egter vrywaring teen hartseer of tragedie nie. Die verskil is as ’n mens val, neem Hy jou hand.

Die dag toe die onverwagte gebeur het, was daar nie tyd om hulp te vra nie. Tog was daar ’n vangnet, of ek daarvan bewus was of nie. In my geval was dit my seun.

Wat beteken geloof vir jou?

Ons sien maar ’n klein deeltjie van die geheelbeeld en wat ons werklike doel is. Vir my lê die krag van geloof daarin om te vertrou dat die regte roete reeds vir my afgebaken is.

Ons is op ’n spesifieke pad om ons vir ’n spesifieke doel te vorm. Dit gaan oor Sy wil, nie myne nie. Ek wil doen wat Hy my vra, nie wat ek wil hê nie.

Terwyl ek op aarde is, gaan ek probeer om ’n voorbeeld te stel. Ek glo in die gesegde: Monkey see, monkey do. Dit gaan nie oor jou woorde nie, maar oor jou dade. Bygesê, ons is maar net mense wat foute begaan.

Hoe mis ons soms die groter prentjie?

Ons leef in ’n gejaagde wêreld en word oorweldig deur geld, status, sosiale media. Alles moet dadelik gebeur. Ons verwag dat ons gebede ook onmiddellik verhoor moet word, maar soms vat dit tyd.

Ons vergeet ook dat ons deel van ’n groter plan is. Die plan is nie dat ons almal dokters, professore of multimiljoenêrs moet word nie.

Toe ek jonger was, het ek ook gedink dat geld en status alles is. Dis maklik om perspektief te verloor as dit al is waarvoor jy leef.

Mettertyd het ek besef dat mense wat skatryk is, nie lekker leef nie. Ek het besef dat daar mense is wat onder die broodlyn leef wat baie gelukkiger is. Nou vind ek my geluk in dieper dinge, soos my geloof en my gesin.

Was daar ander tye dat daar in jou lewe ingegryp is?

As jong man was ek ’n “flou” Christen. Ek het kerk toe gegaan en die kultuur aanvaar. Tog het ek nie noodwendig die Here aanvaar nie. Op ’n dag het Hy my kragtig tot bekering geroep. Van daar af was my geloof my toevlug.

Daar was baie tye in my lewe dat ek gevoel het dit gaan nie goed met my nie. Nie iets spesifieks nie, maar oor die algemeen. Ek het dan altyd ’n gesprek met die Here gehad. Hy het altyd op een of ander manier vir my ’n antwoord gegee.

Die krag van ingryping is baie dieper as wat ons besef. Hy gebruik gewone mense soos mediese personeel of brandweermanne om mense se lewens te red. Danksy hulle kennis verrig hulle elke dag wonderwerke.