Die oorlog in Angola se mooi einde

0
178
oorlog.jpg

Dertig jaar gelede. Die non, die parabat en die oorlog. ’n Lelike storie wat ’n mooi einde het.

“Sewe jaar gelede het ek en ’n klompie mense deur Zambië gery. Ons het gery en gery en gery…” vertel Jana oor hoe hierdie besonderse storie begin het. “Dit was warm en die lug was so ’n bleekblou kleur. Dalk was dit die vreemde omgewing, die ongenaakbare hitte of dalk maar net die regte tyd, want skielik het ’n voormalige parabat oorlogstories in die bussie begin vertel. Ek het nooit ooit kon dink dat sy storie so ’n geweldige indruk op my sou maak nie.”

Hy was ’n jong soldaat. Agtien jaar oud. In Xangongo in die suide van Angola is dié parabat en sy makkers, siek en beseer, deur ’n jong Ierse non verpleeg. Sommige het letterlik by die dood omgedraai. Gou was hulle sterk genoeg om voort te gaan. Oorlog wag vir niemand nie. Op ’n sending het hulle die mooi non en die klein dorpie, wat beswaarlik uit meer as ’n kerk en ’n skooltjie bestaan het, verlaat om verder te veg in die oorlog.

’n Ruk later moet die parabat en sy troepe weer deur Xangongo gaan. Dalk het hy hom verbeel, maar die lug het ’n vreemde kleur gehad. Nie sigbaar nie, maar vreemd dáár. Hy het na die kerkie toe gestap en die deure oopgestoot. Die reuk het swaar in sy neus opgestoot. Voor die preekstoel het die priester se liggaam gelê. Vermoor. Al het hy die afgelope maande baie dinge gesien, het ’n beklemming om sy nek gedruk. Sy hart het in sy bors gehamer. Uit die hoek van sy oog kon hy die jong Ierse non sien lê. Hy wou nie kyk nie, wou dit nie sien nie. Maar hy het. En oor daardie grusame en barbaarse moord kon hy eers dertig jaar later praat – saam met vriende op vakansie. Dit was die dag in die bussie wat Jana so aangeraak het.

“Van die eerste keer dat ek die storie oor die non in Xangongo gehoor het,” verduidelik Jana, “het sy deel van my lewe geword. Ek wou iets doen. Iets betekenisvols. Dit was net nie reg dat haar lewe op so ’n onsigbare manier eindig nie. Ek wou die kerk gaan soek. Dis iets wat ek eenvoudig moes doen.”

In April vanjaar het Jana die kans gekry om Angola toe te gaan. “Die oomblik toe ek besef dit gaan gebeur, het ek geweet ek wil iets vir haar saamvat. Wat, het ek nie geweet nie.” In die dae wat gevolg het, het Jana baie gedink oor trauma. Hoe swaar dit is. Amper onbeweegbaar. Soos ’n klip. “Toe tref dit my! Ek wil vir haar ’n klip vat. My eie klip met my eie storie. Nie dat haar ervaring naastenby soortgelyk is aan enigiets wat ek al ooit beleef het nie. Maar daar is tog raakpunte. Ons almal is soms in ’n oorlogsone. Word gewond en leef daarna met ons klip. Ons trauma.

“Ek het ook baie gedink oor die feit dat die parabat eers na soveel jaar die moed gehad het om oor sy ervaring te praat. Dis natuurlik die eerste stap na heling: om jou storie te vertel. As jy die moed het om deur jou eie grense te breek, breek stukkies van daardie klip los. Natuurlik is dit pynlik, maar hoe meer jy dit hanteer, hoe stomper word die snykante.”

[pagebreak] Een aand het Jana die storie vir haar suster vertel, ook van haar plan om ’n klip vir die non te vat. “My sussie het dadelik gevra dat ek asseblief, asseblief, vir haar ook ’n klip moet saamvat. Haar spontane wens het my laat besef dat iets in die non se storie ook by haar resoneer. Wat dit is, weet ek nie. Dit maak ook nie saak nie. Wat wel saak maak, is dat daar deur die jare soveel vroue is wat hulle lewensrol speel, ten spyte van. Vroue wat stil swaarkry sonder om op te hou doen wat hulle moet. Jou goeie werk op aarde beteken nie dat jy ongeskonde daarvan gaan afkom nie.”

“Soos die storie versprei het, het meer en meer vroue vir my klippe gegee om saam te vat. Ek het nooit gevra wat die storie is wat die klip ‘vertel’ nie. Maar dit was ’n simbool van die back-up wat daardie non nooit geweet het sy het nie. Vroue wat jare later sê: ‘Ek voel saam met jou, jy is nie alleen nie. My oorlog lyk dalk anders as joune, maar ons veg aan dieselfde kant’.

“My volgende uitdaging was om te besluit hoe ek hierdie klippe oor die grens gaan vat. Ek wou dit nie sommer seremonieloos soos blikkieskos in ’n krat gooi nie. Al was dit klippe, was dit verteenwoordigend van vroue se harte. Toe onthou ek van my ouma se hoedetas wat in my huis staan. Sy was ’n stylvolle, grasieuse vrou wat altyd op reis haar hoede in ’n tas saamgeneem het. Dit sou perfek wees! Want al het die vrou agter elke klip haar eie bloedige oorlog baklei, het nie een hulle vroulikheid prysgegee nie.”

Na ’n paar dae se reis het Jana-hulle die Angolese grens oorgesteek en sommer êrens in die veld geslaap. Om so min as moontlik aandag te trek, het hulle ’n klein vuurtjie gemaak, geëet en gaan slaap. “Vroeg die volgende oggend het ons opgepak en sommer net in ’n rigting die veld in gery. En toe, skielik en onverwags, kon ek ’n kerktoring sien. Ek kon dit nie glo nie! Kan dit wees?

[pagebreak] “Ons het die klein dorpie binnegery en daar het die groot, geel kerk gestaan. Ja, om die een of ander rede het die kerk geel gelyk. Die deure was gesluit, maar dit was van glas en ek kon deurkyk. Die priester was elders besig om klas te gee, maar het dit onderbreek om te hoor hoe hy my kon help. Met sy Frans en my Engels kon ons mekaar nie regtig verstaan nie. Ek het probeer verduidelik van die non en wat ek wou doen. Na ’n ruk het hy gesê:‘O, you want to put something in the church?’ Ja, het ek geantwoord, ek wil iets in die kerk sit. Toe het hy vir ons gaan oopsluit.

Dis stil in die kerk. Jana se gemoed is ’n warboel van intense emosies. Sy wonder wat die non in haar laaste ure moes deurgemaak het. Wat deur die jong soldaat se gemoed gespoel het daardie dag toe sy lewe in ’n sekere rigting gestuur is oor wat hy gesien het. En sy wonder oor die klippe vol stories in haar ouma se hoedetas by die kerk se deur. Na ’n rukkie staan sy op. Dis tyd dat die klippe ’n lêplek kry.

Op die kerk se stoep maak sy die tas oop en pak die klippe op ’n stapel. Nuuskierige kinders staan nader en bekyk hierdie vreemde vrou. Met elke klip wat Jana uitpak, weet sy nog ’n storie is voltooi. Transformasie is besig om te gebeur, want sy weet ook dat hierdie klippe beslis nie lank hier gaan lê nie. Die kinders gaan dit ronddra. En dit is goed so, die klippe moet ander stories kry om te vertel. Die klippe moet sing.

“Sommige mense sal dalk dink ek is van my sinne beroof om te gaan ‘vakansie hou’ met ’n tas vol klippe. Maar vir my en die vroue wie se klippe ek gedra het, was dit die einde van een reis, en die begin van ’n volgende. Alles wat jy doen, maak saak. Alles wat jy beleef, kan ’n mooi einde hê.”