Die oorwinning is behaal

193

Die Vrydagaand het ons al begin om die moraal te probeer dokter met al die rugbyliedjies wat ons op die internet kon opspoor. Dit was braaivleis, rugby … en een baie ongelowige siel.

My gesin was glad nie beïndruk met my swak geloof nie. Hulle het my vrees en twyfel as ontrouheid gesien.

Ja, ek was die ene pessimisme. Hoe kon die Springbokke enigsins ’n kans teen die Engelse staan? Die vorige week nog het die einste Engelse dan die magtige All Blacks soos beginners laat lyk.

Ek het my maar net danksy ’n goeie dosis realisme voorberei op die teleurstelling wat op ons arme Springbokondersteuners wag.

Hoe die wedstryd al wat ’n Suid-Afrikaanse twyfelaar se kop in skaamte laat sak het, is geskiedenis. Vir my was dit ’n dubbele vreugde om in ’n wêreld vol slegte nuus vanuit die sekerheid van ’n nederlaag na die vreugde van ’n oorwinning te beweeg.

Later het ek besluit om die hele wedstryd weer te kyk. Ek het gevoel ek skuld dit aan myself. Met die eerste kykslag was daar te veel hindernisse van vrees, ongeloof, en die gereedheid om ’n groot nederlaag te beleef. Nou was ek gereed vir oorwinning.

Geen twyfel of senuweeagtigheid nie. Selfs nie eens hoop nie, want, soos Paulus mos gesê het, dit wat ’n mens sien, daarvoor hoef jy mos nie meer te hoop nie.

Dit was die kalmste wat ek nog gevoel het terwyl ek ’n eindstryd kyk. Ek kon elke oomblik geniet. Geen aanval van die Engelse het my bekommerd gemaak nie. Ek het oor geen Springbokfout ontsteld geraak nie.

Wanneer die kamera die gesigte van Engelse ondersteuners wat oorloop van selfvertroue gewys het, het ek glad nie geïntimideerd of kwaad gevoel nie. Niks kon my van stryk af bring nie.

Ek het gewag op Springbokskoppe wat oor die pale moes gaan en Springbokdrieë wat gedruk moes word. Die sekerheid en selfvertroue het gedy en die vrede en opwinding was salig.

En so het ’n groot prediker op ’n keer gesê, moet ons maak wanneer die aanslae van die lewe kom.

Wanneer alles lyk asof dit ons gaan oorweldig. Wanneer die toekoms nie wink nie, maar dreig.

Dis dán wanneer jy moet onthou dat die eindfluitjie as’t ware klaar geblaas het. Die oorwinning is reeds behaal. Die kampioen is gekroon. Die trofee is oorhandig.

Geloof is om vanuit die verlede en die toekoms na die hede toe te kom. In elke pelgrim se verlede staan ’n kruis en ’n leë graf.

In die toekoms van elke hartseer gelowige wat die pyn van hierdie bladsy van hulle lewensboek beleef, is die laaste hoofstuk klaar geskryf.

Jy kan dit reeds nou gaan lees. Daar waar die Bybel eindig, is geen sprake meer van hierdie hartseer nie.

Gaan kyk weer na die wedstryd. Gaan sien wie het oorwin. En Hy van wie jy daar aan die einde van die boek lees, het beloof dat Hy elke dag by jou sal wees.

KOOS VAN DER MERWE is ’n bekroonde liedjieskrywer, predikant en solokunstenaar.