Die opdraendes uit

Ons weet dat elkeen sy eie wedloop (in sy eie baan) het om te hardloop en dat elkeen op sy bestemde tyd wel die wedloop klaarmaak. Hóe elkeen die wedloop hardloop en deurgaans vorder, word egter deur elke persoon se eie pogings (effort), of gebrek daaraan, bepaal.

Hoe ouer jy word hoe meer besef jy dat die lewenswedloop nie altyd net gelykpad is nie. Daar is effense opdraendes en dan is daar ook stewige, laaaaang opdraendes.

Omtrent soos die plaaslike Parkrun oor 5km wat ek so gereeld moontlik op Saterdae probeer hardloop. Die Parkrun is vir jonk en oud, fiks en onfiks, ernstige hardlopers en stappers, individue en gesinne en selfs Ma’s met hul kleinding in ‘n stootwaentjie. Eintlik is die wedloop teen jouself want jy ken feitlik niemand daar nie en aan die einde probeer jy bloot om op die vorige Saterdag se tyd te verbeter. Die inaseming van vars lug en bewondering van die natuurskoon in die proses is ‘n verdere bonus.

Die meeste drawwers wat aan die Parkrun deelneem, vind dat hulle die eerste 3 kilometer heel skaflik vorder. Maar dan begin die opdraendes en omdat die meeste mense nie eintlik gereeld oefen nie, is dit dan juis waar hulle al stadiger hardloop totdat sommige oorgaan in ‘n stap. Niks daarmee verkeerd nie, hulle oogmerk is mos om die wedloop te voltooi, al doen sommige dit in 19 minute en ander in 1 uur en 19 minute.

Die punt is egter dat indien jy jou tyd wil verbeter, moet jy juis harder werk op die opdraendes. Hoe sterker jy teen die opdraende kan uit, hoe vinniger is jy met die opdraende klaar en sal jy vind dat jou tyd ook vinniger is sodra jy die einstreep bereik.

Die lewenswedloop vereis eweneens dat ons daardie ekstra poging insit wanneer die lewenspad so effens steil begin raak. Dit is juis dan nie die tyd om oor te gaan in selfbejammering of ander te blameer nie, maar in geloof sterk te staan en te sorg dat jy groei en sterker word in daardie areas waar groei nodig is (Nie: “Ek is so gemaak en so gelaat staan” nie). Al groei jy voetjie vir voetjie, dit is steeds vordering. Begin net.

Die skrywer van die boek Hebreërs het dalk ook op sy dag langafstande gehardloop want hy gee goeie raad in Hebreërs 12:1 hoe ons die wedloop moet hardloop deur te sê ons moet die wedloop met volharding (dit gaan dus nie altyd maklik wees nie) hardloop, die oog gevestig op Jesus. Volharding is nie nodig op ‘n afdraende nie, dus weet hy van die lewe se opdraendes. Volharding behels dat jy nie tou opgooi nie maar sal aanhou in jou gedissiplineerde poging om die wenstreep (Jesus wag vir jou daar) te bereik.