Die oplossing vir stout kinders

0
1432
hettie brittz

Hoe kan ek my kind leer om gehoorsaam te wees? Nie eers ’n pak slae werk nie! Ek is moeg en moedeloos.

Hoe kan ek my kind leer om gehoorsaam te wees? Nie eers ’n pak slae werk nie! Ek is moeg en moedeloos.

Wanneer ouers oor ongehoorsaamheid bekommerd is, wonder ek dadelik of hulle hulle kinders eers liefhet en dan dissiplineer. Ek wil hierdie vraag graag ’n bietjie verander na: “Hoe kan ek my kind beter liefhê?” Dit moet ouers se eerste doel wees, want ons liefde vir ons kinders is waar alles begin. Dit is die begin en einde van ons gesag.

Wees net lief vir jou kind en die respek sal volg

Ouers kan nie gesag hê sonder liefde nie. Ons kan ook nie sê ons is werklik lief vir ons kinders as ons nie gesag uitoefen in hulle opvoeding nie. As jou kind sien dat jy regtig luister wanneer sy praat, sal sy respek ervaar en dit word ’n tweerigtingstraat vir julle albei. Deur die streng oë wat saam met ons “nee” gaan, moet daar nog altyd liefde skyn.

Op skool was ek gehoorsaam aan my ouers omdat ek vir hulle lief was en respek gehad het vir hulle, nie omdat ek bang was vir hulle nie. Wat ek egter gou geleer het, was dat ’n onaangename aksie sou volg as ek nie ore het nie! My ma en pa het nooit oor gehoorsaamheid onderhandel nie. Hulle het geweet dit is hulle reg as ouers om dit te verwag en my plig as kind om dit te gee.

Kinders wat nie ’n liefdevolle verhouding met hulle ouers het nie, sal altyd sukkel om met die regte gesindheid te luister. Hulle sal voel hulle word gedwing, en gehoorsaamheid sal nie spontaan kom nie. Om ekstra streng te wees met so ’n kind sal glad nie werk nie, sy sal met onvoorwaardelike liefde teruggewen moet word. Sulke liefde omarm die kind sonder om verkeerde optrede te duld.

Stel redelike en duidelike grense, en hou daarby

Wanneer jy nie behoorlike reëls en grense het nie, sal nie jy of jou kinders gelukkig wees nie. Ons as ouers verwaarloos hierdie aspek van gesag wanneer ons net heeltyd reageer op ons kinders se stoutigheid en ongehoorsaamheid. Hulle weet nie vooraf waar die grense is nie en as hulle dit in ons oë oorsteek, straf ons hulle. Dit is nogal onregverdig.

Ons weet tog die meeste kinders word nie met ’n goed ontwikkelde aanvoeling vir grense gebore nie! Hulle moet dit aanleer en ons is die verantwoordelike grensregters. Toe my seuntjie die eerste keer by ’n konsert was waar sy pa nie opgetree het nie, het hy nogtans na die vertoning op die verhoog geklouter. Hy was mos gewoond daaraan dat hy na die tyd op die dromme mag gaan trommel. Niemand het vir hom verduidelik die verhoog is buite perke nie – hy speel dan weekliks op verhoë!

Ons verleentheid was groot, maar niemand kon hom blameer nie. Dit is presies wat gebeur wanneer ons nie grense stel nie. Die resultaat is skande vir jou en jou kinders. Jy mag nie hierdie plig en reg verwaarloos nie. Talle tieners kla nie oor hoe outyds of streng hulle ouers is nie, maar eerder oor hoe min hulle omgee. Wanneer hulle gevra word waarom hulle so oor hulle ouers voel, kom die antwoord dikwels: “Hulle gee nie om waar ek is, wanneer en of ek huis toe kom nie. Ek dink nie hulle gee enigsins om waarmee ek my besig hou nie.”

Stel grense wat nie onredelik is nie en maak seker dit word ook nie verander of geïgnoreer nie. As dit die geval is, word hierdie deel van jou gesag belaglik.

Jy kan jou kind inspireer en jou invloed laat geld

William B. Yeats het gesê leierskap is nie om vure dood te slaan nie maar om vure in mense se harte aan te steek. Ouerskap behels ook meer inspirasie as dissipline. As jy jou kinders kan inspireer om reg te lewe, sal jy hulle minder hoef te straf vir verkeerde optrede. As hulle jou as ’n rolmodel beskou, gaan jou optrede en voorbeeld buitendien meer beteken as preke!

Inspireer jou kinders met opbouende woorde, wys jou belangstelling en wees betrokke – jou invloed in hulle lewens sal beslis groter word. Jou geloof in jou kinders help hulle om in hulleself te glo. Die vernedering en kritiek van die samelewing sal dan nie ’n duik in hulle selfbeeld maak nie. Verwaarloos hierdie rol, dan verloor jy invloed en die vermoë om hulle te inspireer. Dit is dieselfde as om gesag te verloor.

Stel grense, en hoe minder hoe beter. Skep roetine, sodat jy nie elke dag die kinders van voor af hoef te smeek om dinge te doen nie. Doen lekker dinge saam, want dan sal jou kinders altyd tuis voel in die gesin.