Die oplossing vir yl hare is hier

0
18
hare_uitval.jpg

Is jy bekommerd oor jou haarverlies? Omskep jou yl hare só in ’n glansryke kapsel. Hier is die raad!

Hou dit koel wanneer jy hare was

Erge warm water dehidreer haarstringe net soos dit met jou vel maak. Skroeiende temperature beskadig die proteïene en beskermende kutikel-laag van hare. Jou hare sal vaal en bros raak as jy daagliks onder ’n vuurwarm stort inspring. Erken dit maar… baie van ons is geneig om dit te doen in die koue wintermaande. Jy stroop ook jou hare so van al die natuurlike kopvelolies wat jou hare beskerm. Dit kan jou kopvel irriteer, lei tot jeukerigheid en nog verdere haarverlies. So draai van nou af daardie warmkraan liewers ’n bietjie kleiner en probeer liewers jou hare afspoel met koel water.

Moenie nat hare verkeerd hanteer nie

Wanneer jou hare deurdrenk is met water is dit ekstra vatbaar vir skade. Nat hare se buitenste laag – die kutikel – is opgelig in sy nat toestand. As jy nat hare aggressief borsel en daarna rof droogvryf, vra jy om met gebreekte hare te sit. Borsel jou hare uit en torring koeke los, alvorens jy gaan stort. Moenie jou hare deurmekaar vryf wanneer jy dit sjampoe nie. En druk jou hare met jou handdoek droog daarna.
Bederf jouself met ʼn kopmassering elke dan en wan. Werk in sirkelbewegings met Argan-olie op jou vingerpunte. Die teorie is dat massering bloedvloei na ie dhaarwortels stimuleer en haargroei aanmoedig.

Hou op om jou hare te kook

Hoe minder hitte, hoe beter. Laat jou hare natuurlik droog word en moenie hitte stilering meer as twee keer per week gebruik nie. Verstel die haardroër of haaryster op die koelste verstelling. Alhoewel dit nie hond haaraf aan haargroei maak nie, voorkom dit dat die hare wat jy het, gebreek word. Gebreekte hare dra daartoe by dat karige hare nóg yler lyk. Dr. Ress sê “daar is niks wat jy op jou hare kan sit om dit teen hitteskade te beskerm nie. As jy nie bereid is om hitte op jou kasjmier trui te sit nie, moenie dit aan jou hare doen nie.”

Vermy styfgetrekte haarstyle

As jy meesal leef in ’n poniestert, wees gewaarsku. Jy is dalk besig om jou hare uit jou kop te trek sonder dat jy dit besef. Styfgespande style, sit druk op jou haarwortels. Uit ʼn beskadigde haarwortel spruit ʼn verwronge haar. Uiteindelik gaan die haarwortel tot niet en jy sit met haarverlies rondom jou haarlyn, bekend as Traksie Alopecia. Die antwoord is om jou hare soveel as moontlik los te dra.
As jy baie rondrol wanneer jy slaap, is dit slim om in ʼn sykussingsloop te belê. Daar sal minder wrywing tussen jou sloop en jou hare wees want jou hare gly oor die sloop se oppervlak.

Die regte haarkleur as jou hare uitval

Moenie jou hare meer as twee skakerings ligter of donkerder as jou ware kleur, kleur nie. Hoe meer dramaties die kleurverandering is, hoe meer chemikalieë gaan jy nodig hê om daai verandering teweeg te bring. Daardie middels sal jou hare breek. As jy móét kleur, vra jou haarstilis om dit strategies te doen. Goed geplaasde ligstrepe kan help om kaler areas te verbloem as die haarkleur naby aan jou kopvel se kleur is. Plus, haarkleur help darem om individuele hare se skag ietwat te laat uitswel so dit laat ook hare dikker voorkom.

Kies die haarprodukte wat jy gebruik versigtig

Die versoeking is groot om jou haarwortels te takel met haarsproei en middels wat die hare van jou kop laat wegstaan. Maar pasop as stileerprodukte woorde soos Extra, Mega of All-Day Hold op die etiket het. Hierdie produkte is propvol alkohol wat jou hare uitdroog. Moet ook nie wag tot jou jel of sproei drooggeword het voor jy dit uitkam nie. Jou hare sal hard en taai wees. So dis waarskynlik dat jy van jou hare sal uittrek. Die beste is om room of pommade formules te gebruik. Dit behou jou hare se vog en bied nie weerstand wanneer jy hare borsel nie.

Kry die regte haarstyl vir meer oemf!

As jy sukkel met min hare, is ʼn kort snit vleiend. As jou hare lank is, sal die seksies skei en kaal kolle op jou kopvel ontbloot. Ongeag watter lengte hare jy dra, vra jou stilis om jou hare in lae te sny. Die oneweredige lae moet oraloor wees want die getekstureerde kapsel help hare om opgepof te lyk. Verander jou paadjie. As jy elke dag jou hare in dieselfde rigting kam, leer jy dit om plat te lê. As jy dit in die teenoorgestelde rigting dra sal jou hare wegstaan van jou kopvel en voller lyk.

Handige hulpmiddels om jou hare te help groei

1. Vigro het ʼn 3-stap sisteem wat bestaan uit ʼn sjampoe, tonikum en multivitamien ontwerp om nuwe haargroei te bevorder en voortydige haarverlies te beperk. Die benadering werk van binne en buite jou liggaam. Die Vigro3 Step Starter Pack (R165,50) is beskikbaar by uitgesoekte apteke, Dis-Chem en Clicks winkels landswyd.

2. Nisim NewBioFactors Hair Scalp Extract Original (R820) beskikbaar by www.everythinghair.co.za, is hoog aangeskryf deur haarstiliste en diegene wat dit gebruik. Dit is alombekend as die enigste middel wat oor die toonbank beskikbaar is wat DHT kan neutraliseer. (DHT is die manlike hormoon wat haarfollikels doodmaak en so haarverlies veroorsaak.)

3. Vra jou dokter vir ’n Minoxidil voorskrif. In Suid-Afrika is dit by apteke verkrygbaar onder die handelsnaam Rogaine. Die middel is beskikbaar as vloeistof of mousse formules wat jy daagliks aan jou kopvel wend. Die produk sal beslis jou hare se groeifase verleng solank as wat jy dit gebruik.

WEN ’N PERSOONLIKE KONSULTASIE MET ’N HAARDESKUNDIGE EN PRODUKTE!

Philip Kingsley Trichology Clinic bied gespesialiseerde behandeling aan mense met haar- en kopvel kondisies. Hulle behandel skilfers, dermatitis en verskillende vorms van haarverlies. As jy met so ʼn probleem sukkel, deel jou storie hier onder in ons kommentaar seksie. Jy kan ʼn konsultasie ter waarde van R1000 wen asook haarprodukte ter waarde van R500.

Kontak Dr Craig Ress by 0861 263 972 of besoek www.hairrenewal.co.za.
Om ’n afspraak te maak by die Philip Kingsley Trichology Clinic in Johannesburg skakel 083 268 3217 of e-pos sue@philipkingsley.co.za.