Die pad na Donnalee se sagte hart

0
124
pad_na_jou_hart.jpg

Pad na jou hart het mense diep geraak, en Donnalee en Ivan werk alklaar aan nog so ’n tranetrekker!

“Ek het ’n byna onopsigtelike, ligpienk hartjie op my gewrig laat tattoeëer om my daaraan te herinner dat jou hart die verskil maak in enige reis. Boonop het ons toe aan Pad na jou hart begin werk, so die hartjie dra baie betekenis. My ouer boetie, Cameron, is as baba oorlede aan ’n hartkwaal. My karakter in die fliek het dieselfde kwaal, en dit was my manier om waarlik my siel in die fliek in te skryf en dit aan my boetie en ouers op te dra…”

Pad na jou hart, waarin Donnalee en Ivan Botha die hoofrolle speel en ook saam geskryf en vervaardig het, het al haar verwagtings oortref. Dit was die grootste opening vir ’n Afrikaanse film ooit. Boonop het Francois Bloemhof die draaiboek in ’n roman verwerk. Hulle het dit na die Cannes-filmfees-mark toe gevat, en dit het ook in Australië op die silwerdoek gaan draai – waar die premiers in Perth, Brisbane en Sydney almal uitverkoop het. Daarna het dit ook in Nieu-Seeland gedraai.

“Ons asems was weggeslaan deur al die wonderlike terugvoer. Mense het foto’s op Facebook gelaai soos hulle die Pad na jou hart-roete deur die land gedoen het (in die fliek ry die hoofkarakters van Johannesburg na Kaapstad). Party het vir ons briewe geskryf om te sê hoe die film hulle lewens geraak het en hulle opnuut laat besef het wat regtig saak maak.”

Vir die eerste ses weke na die opening het hulle ’n dol program gehad. Teaters is elke Vrydag, Saterdag en Sondag besoek as deel van ’n bemarkingsveldtog wat ’n 7 000 km lange toer gedurende Desember verlede jaar ingesluit het. “Maar dit was nie net werk nie – ons het ons verkyk aan die mense se reaksies. Geharde boere sou uitstap met rooi-gehuilde oë. Ons het nie besef hoe dié vertelling van die pa-seun-verhouding mense sou raak nie. Later het ons ophou tel hoeveel mense huil.

“Oupas het Ivan kom druk en gesê hulle wens hulle kon die tyd terugdraai en sekere dinge in hulle lewens anders doen. Want tyd saam met hulle families is belangriker as aardse besittings. Een meisie het ná ’n vertoning kom vertel haar kêrel se pa is ’n ruk gelede oorlede. Hy kon vir die eerste keer daaroor huil nadat hy die fliek gesien het…”

Die film se aansteeklike romantiese tema het weer ander effekte gehad – so mooi dat jy sommer daaroor ook wil huil. “Op Valentynsdag was ’n klomp kykers verras toe ’n rukkerige tuisvideo voor die fliek in die teater begin speel. ’n Man het vooraf gereël dat die teater ’n video speel waarin hy sy meisie vra om te trou. Dis so ’n eer dat Pad na jou hart nou altyd deel van hulle liefdesverhaal sal wees!”

En dít is die soort films wat sy en Ivan met hulle produksiemaatskappy wil maak. “Flieks met hart, integriteit en karakter, wat wys ons is trots op Suid-Afrika en ons kultuur. Ons stories het ’n geestelike aanslag, sonder om te preek. Dit handel oor temas in ons eie lewens, en lesse wat ons geleer het. En ons hoop ons werk kan aanhou om mense te inspireer. Dis die grootste kompliment vir ’n skrywer om te hoor jou storie het iemand geraak.”

Hulle skryf nou aan ’n volgende film, Vir altyd, wat volgende jaar in Mauritius geskiet word. Dit gaan oor die liefdesreis, sê sy, maar kan nog nie meer verklap nie. “Maar mag dit mense net so raak soos Pad na jou hart!

“Dis wonderlik om in die film-industrie te werk – ek droom al daaroor vandat ek weet wat dit is om te droom! Maar ek het ook ’n groot waardering vir ander mediums, en 7de laan was ’n goeie platform. Ek het baie van my karakter gehou, en ek is bly ek kon ʼn vyf jaar lange pad met haar stap. Annelie het net uit die skool gekom toe ek by die sepie begin het. Sy het haar eerste liefde ervaar en ook hoe haar hart vir die eerste keer breek. Ek dink baie jongmense kon hulle met haar vereenselwig. Sy het grootgeword op 7de laan, groot gedroom en haar drome bereik, en ek saam met haar.”

Maar dit was tyd vir ’n nuwe uitdaging. “Ek glo in harde werk. So kreatief soos films is, is dit ook ’n voltydse besigheid. Jy kan nooit klaar geleer wees nie. Juis daarom het ek ’n paar jaar gelede al my spaargeld gebruik om vir ’n paar maande by die New York Film Academy te studeer. Ek wil 80 wees en steeds nuwe dinge leer, want dis hoe jy groei.

Sy sal ook vroeg volgende jaar te sien wees in die flimverwerking van die TV-reeks Ballade vir ’n enkeling, waarin sy een van die hoofrolle, die joernalis Carina Human, vertolk.

Lees meer: Donnalee Roberts se unieke modestyl