Die pad na sy hart is in jou spieël!

0
18
jou_huwelik.jpg

Die sleutel tot ’n hemelse huwelik lê tussen die lyne van jou lyf.

Al word huwelike in die hemel gemaak, bly die mens nog verantwoordelik vir die instandhouding daarvan,” het John Graham gesê … en sy woorde bly waar. Vandag dalk meer as ooit. Jóú verantwoordelikheid. En natuurlik jou man s’n, maar nie die dominee, berader, sielkundige, of jou ma s’n nie.

Maar as jy hierdie artikel klaar gelees het, is jou kans verby! Want dan ken jy die geheim van ’n hemelse huwelik. En jy gaan vir die res van jou lewe vaskyk in die plan. So, is jy reg? Kyk net hoe oulik is ons aanmekaargesit. Dis dan waar: dat ons eintlik reeds al die antwoorde het.

Hou jou VOETE op die grond

Dis so maklik om met jou kop in die wolke te sweef wanneer dinge voorspoedig in jou huwelik gaan … en in duie te stort as die teëspoed aan jou deur klop. Daarom moet jy heeltyd probeer om jou voete stewig op die grond te hou.

Nicolette (32) vertel hoe goed dit gegaan het toe sy en haar man, Hanré in 2005 Dubai toe getrek het: “Ons het suksesvolle loopbane gehad, ’n geseënde huwelik en gesondheid het ons sommer as vanselfsprekend aanvaar. Hoe hoër ons koppe in die wolke was, hoe verder was ons voete van die grond af. Ons het alle standvastigheid in ons lewe verloor. En byna vir mekaar ook.” Eers in 2008, terug in Suid-Afrika en op soek na werk, het Nicolette besef dis beter om jou voete op die grond te hou. Stewig. Want dan kan jy altyd regop bly staan.

Buig soms die KNIE

Om soms toe te gee in belang van jou maat, is een van die mooiste dinge wat jy kan doen. “Dis hoe ons in Dubai beland het!” vertel Nicolette. “Dit was deel van Hanré se ‘vyfjaarplan’, en aanvanklik deel van baie huil vir my …” Sy vertel dat sy nie vir haarself as binnehuiseontwerper ’n loopbaan in Dubai kon sien nie. Maar vir Hanré, as metallurgiese ingenieur, was die ondervinding daar noodsaaklik.

“Daar was baie trane en baklei tot ek geleer het van bereidwilligheid – die teenoorgestelde van hardkoppigheid. En toe begin my loopbaan ook sommer blom!

Hou julle SEKSlewe gesond

Moeilik om te glo dat dit deel van die plan was, dat seks tussen getroudes ’n struikelblok moet wees? Miskien moet jy anders daaroor begin dink.

Dis nie ’n werk nie. Ook nie jou reg nie. Dis nie jou plig nie, nog minder jou straf. In plaas van vreemde posisies, probeer ’n weeklikse skedule uitwerk, verander daardie egosentriese plek in jou kop. In ’n eenvoudige klein boekie, beskryf Lauren Beukes dit so mooi: “Dit voltooi die stroombaan tussen julle twee.” Wow. Verstaan jy dit? Dit gaan nie oor jou nie. Ook nie oor jou man nie. Dit gaan oor julle twee.

[pagebreak]

Doen dit met ’n goeie HART

Jou ingesteldheid het baie te make met hoe jy op die ou einde enige situasie ervaar. Gestel jy doen iets langtand vir jou man, dan gaan dit vir jou ook sleg wees, nè? En jy gaan kwaad word vir hom. So, hy kry jou woede en onwilligheid, en maak dan met jou ook so. En jy doen dit terug. En hy doen dit terug. En … Doen liewer alles met ’n goeie hart.

Amanda (27) kies om die volgende haar leuse te maak: “’n Vrou se hart moet so innig aan God behoort dat haar man Hom eers moet vind voor hy haar kry. Jou man is afhanklik van jou goeie hart,” verduidelik Amanda. “My man het al baie keer vir my gesê dat hy net goed bedoel vir my … en ek bedoel dit vir hom ook.”

Wees oopKOP

Omdat daar twee spelers in ’n huwelikspan is, moet jy in die beste belang van albei besluit. En in die beste belang van die huwelik. “Die dag toe my soekende man in die huis instap en op 27-jarige ouderdom vir my sê hy wil teologie gaan studeer,” vertel Amanda, “het ek geweet dis nie net sy roeping nie, maar ook myne as sy vrou.” Sy moes haar werk bedank en hulle het ’n vreemde dorp trek.

“Dit was maklik om die besluit te neem, want dis die koers van ons lewenspad saam. Nie myne of syne apart nie … En wanneer jy vir jou huwelik kies, kies jy op die ou einde tog vir jouself en jou man.”

Sien om na jou hele LYF

Jammer, dames. Daar is geen verskoning nie. Na die troue moet jy selfs meer moeite doen. Dr. Willard Harley sê in sy boek, His Needs, Her Needs: Building an Affair-proof Marraige: “Ouer word, is geen verskoning daarvoor om meer en meer gewig op te tel nie, nie jou hare te kam nie en soos ’n slonskous aan te trek nie.”

En voor jy nou op jou feministiese agterpote spring, jy moet in elk geval jou lyf onderhou. Want dit is die tempel van God.

Wanneer jy jou huwelikspad byster raak, gaan staan voor ’n vollengte spieël en probeer uitvind waar presies jy afgedwaal het. Iewers tussen jou kop en jou tone sal jy jouself weer kry, en onthou wat jy eintlik behoort te doen om op koers te bly.