Die pad waarop ek is het God vir my gekies

Ek en my man het nou die dag die gesprek oor waar ons dink ons sou wees as ons nie getroud was nie.

Sy antwoord was dat hy heel moontlik oorwerk sou wees omdat hy nie die verpligting van ‘n gesin het nie, hy sou net ‘non-stop’ werk. Ek het weer gedink ek sou heel moontlik alleen gebly het en baie meer aande uit saam vriendinne spandeer het. Ek weet nie of ek geestelik op dieselfde plek sou wees waar ek nou is nie. Maar in dieselfde asem het ons albei gesê dat ons nie die lewe wat ons nou het vir enige iets sou verruil nie, ons is gelukkig waar ons nou is.

Wanneer ek hoor van mense wat diep in donker Afrika sendingwerk doen, of mense wat alles netso gelos het om mense te gaan help in lande waar daar nood is, vra ek myself ook af hoekom ek dit nie ooit gedoen het nie. Ek het tog ‘n hart vir mense wat swaarkry, hoekom het ek nooit die geleentheid gebruik om sendingwerk te doen nie?

Dan herinner God my so duidelik dat die pad waarop ek vandag is, is die een wat Hy vir my gekies het en Hy maak nooit foute nie. Selfs wanneer ek nie weet waar Hy is nie, weet Hy waar ek is omdat Hy nooit sy oë van my afhaal nie.

Hy het vir my ‘n omgeehart gegee wat na mense wil uitreik, en ek kan dit doen net waar ek is. Dit is nie nodig om in ‘n diep donker land te gaan uitreik nie, ek is geplaas waar ek is sodat ek kan uitreik na die mense wat naby en rondom my is. My lewe sal ek vir niks verruil nie.

Mag jy vandag by God stilraak en hoor of jy op die pad is wat Hy vir jou gekies het.

Seënwense,

Stephanie