Die planete bo ons

0
52
jupiter.jpg

Terwyl ek en Lottie Maandagaand sommer in die straat gaan stap het, sien ons die twee helder sterre in die hemelruim. Dit was die planete Jupiter en Venus.

Terwyl ek en Lottie Maandagaand sommer in die straat gaan stap het, sien ons die twee helder sterre in die hemelruim. Dit was die planete Jupiter en Venus.

Gisteraand het hulle oënskynlik reg langs mekaar gelê. So het dit gelyk. Die waarheid is dat hulle steeds miljoene kilometer van mekaar af was en is. Die hemelruim fassineer my. Ek het hierdie week sommer besluit dat ek baie intens meer gaan oplees oor die ruimte wanneer ek aftree.

Een ding wat ek keer op keer besef wanneer ek boeke oor die ruimte lees, is hoe geweldig groot is die ruimte. Selfs as ek dit probeer verstaan, dan kry ek dit nie mooi vasgevat met my denke nie. Ek meen, as die aardbol slegs ʼn koppiespeld grootte is in verhouding met die res van die uitspansel, hoe groot is ek dan op daardie “koppiespeld!” Meer nog, hoe groot (of altans hoe klein) is daardie babatjie wat tans in ons dogter se moederskoot is!  En om te dink dat ons grote God steeds kennis neem van my en van jou, en nie net kennis neem nie, maar Hy gee om vir my en jou.

Dit het ook die Psalmdigter fassineer toe hy in Psalm 8 gesê het:
As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp.”

Staan jy ook soms in verwondering oor die grootheid van God en die kleinheid van die mens? Verwonder jy jou ook aan God se goedheid vir my en jou?