Die probleem van menswees

Ek is vroegoggend alleen op pad vanaf Upington na Daniëlskuil vir die soveelste keer in 2018.

Ek het heel opgeruimd opgestaan met die wete dat die vakansie naderkom met ‘n spoed en dat hierdie rit een van my laaste werksritte vir die jaar sal wees.

As jy kies om in die Noord-Kaap te bly en ‘n professionele beroep ook te beoefen, wel dan moet jy ook bereid wees om afstande af te lê, vroeg oggende op te staan, laat by die huis te kom en 600 tot 800km heen en terug, tesame met vergaderings nie as snaaks te beskou vir 1 dag nie.

Terwyl ek in die motor sit en aan my eerste koffie teug, besluit ek om ‘n slag radio te luister en meer spesifiek na die verskillende kanale wat op nuus fokus.  Net voor Olifantshoek stop ek op een van my normale plekke om God se natuur te bewonder (sien meegaande foto) en ek kom agter ek voel ongelooflik negatief, eintlik tot ‘n mate depressief.

Ek is nie van nature iemand wat met negatiewe emosies sukkel nie en kyk meestal eerder rond om foto’s te neem en my dierbare vrou mal te maak met al die kere wat ek wil stop om wolkformasies af te neem. Jy kan jouself afvra hoeveel wolkfoto’s wil jy neem in jou lewe… ek kry nooit genoeg nie?

Terwyl ek buite my motor staan besef ek met ‘n skok dat ek amper 150km al gery het en geensins die natuur en God se Hand in hierdie ongelooflike oggend raak gesien het nie. Ek klim terug in my motor en besluit om na ‘n CD te luister en Louis Malherbe se stem kom kliphard oor die luidsprekers: Die probleem van menswees. Een van die manne wat saam Vrydae oggende Bybelstudie doen, het hierdie in my hand gedruk so ‘n ruk terug.

Louis Malherbe het hierdie CD opgeneem in Bloemfontein in 1985 en terwyl ek met absolute verwondering daarna sit en luister, besef ek dat 33 jaar terug se probleme en vandag s’n nie veel verskil van mekaar nie. In der waarheid klink dit of Louis praat oor vandag se kwellings waarmee ons steeds stoei en asof geen tyd verloop het nie. En toe slaan dit my… ek het toegelaat dat die negatiewe nuusstories, die media dekking van grondhervorming, die politiek, die Rand, die petrolprys, volgende jaar se verkiesing en soveel aspekte my heeltemal negatief maak.

Die probleem van my menswees hierdie oggend is dat ek toegelaat het dat ek stelselmatig vrees begin opbou het en dat dit my hele wese beïnvloed het.  Vrees is die teenoorgestelde van geloof en as enige van ons toelaat dat vrees ons daaglikse bestaan oorheers, wel, dan glo ons nie en vertrou ons nie op God se belofte nie.

God wil met ons ‘n vertrouensband bou, ‘n 100% band waar ons staatmaak op Hom, dat ons sal vertrou dat Hy sal voorsien, dat ons daarna sal streef om nieteenstaande die realiteit van ons omstandighede, altyd te glo en te vertrou dat Hy sal voorsien en dat Hy die Skepper is van Hemel en Aarde. Dat Hy sal beskik en dat geen enkele van my bekommernisse, my vrese of my hartseer die situasie kan verbeter nie.

Slegs vertroue en 100% oorgawe, dis wat ons Hemelse Vader vra. So, gaan lê vandag jou vrese, jou bekommernisse en jou hartseer by Sy voete neer en laat toe dat God dit oorneem en vir jou dra.

Vorige artikelStyg Bo Die Pyn
Volgende artikelWanneer God sê: “Gaan.”
Blogger - Len Fourie
Len matrikuleer in 1992 te Hoërskool Upington en behaal 5 jaar daarna sy Magistergraad in Stads-en Streeksbeplanning (1997) aan die Universiteit van die Vrystaat. Len begin reeds in 1995 as student werk by Macroplan Stads-en Streeksbeplanners in Upington (dieselfde Firma waar hy permanent aansluit as Stadsbeplanner in opleiding einde 1997), na voltooiing van sy M-Graad studies. Len is bevoorreg genoeg om in 2006 Hoof Stadsbeplanner te word en die Firma Macroplan se bestuur oor te neem. Len het ‘n absolute passie vir sy Hemelse Vader wat hom die gawe gegee het om sy talente in die lewe uit te leef, ‘n groot liefde vir sy geboortedorp Upington, sy gemeenskap en die Noord-Kaap Provinsie in geheel. Die aspekte wat Len se hart vinnig laat klop sluit in enige vorm van toer, verkenning van ‘n nuwe plek, nuwe land, hetsy in Afrika of enige land oorsee, die neem van amateur foto’s en veral die bestudering van die klimaat. Die lewe bid soveel skoonheid en hy wil dit vasvang en dit met mense deel.