Die prys van nederigheid

Ek en hubby sit Vrydagoggend en tee drink in ‘n hospitaalkafeteria en gesels oor die dinge wat ons leer langs die pad.

Soos wat ‘n mens ouer word, behoort nederigheid toe te neem, dink ek. Want soos wat jy ouer word, raak dit al hoe moeiliker om nie die olifant van jou eie ontoereikenheid raak te sien nie.

Soos wat jy ouer word, besef jy dat jy toe nou wraggies nie al die antwoorde het nie, dat jou opinie toe nou nie die spil is waarom die aarde draai nie, dat jou voete soms ook maar van klei is.

Mense wat nie die feilbaarheid van hulle eiewaarde besef nie, kon my jonger self grensloos irriteer. Maak nie saak watter tema die gesprek aanneem nie, hulle is altyd beter, hulle goed altyd groter en vinniger en duurder en hulle metaan-afskeidings heerlik geparfumeer.

Vandag het ek meer genade. Want ek besef ek was op ‘n tyd ook maar so. My eie onvolwasse self kon alla-x-straal dwarsdeur die hout-sleeper in my eie oog kyk om die fynste splinters rondom my raak te sien. Totdat ‘n Meester van ‘n chirurg met Sy delikate hande die spieël kom omdraai het.

Die storie word vertel van die nuwe dominee op ‘n klein dorpie wat die eerste vier dae van sy nuwe beroep gebruik het om persoonlik van deur tot deur te loop en mense uit te nooi na sy intreepreek.

Toe die Sondag egter kom, was die kerk so te sê dolleeg. Daardie week plaas die dominee toe ‘n advertensie in die plaaslike koerantjie om mense uit te nooi na die begrafnisdiens van Die Kerk. Die Kerk was dood en dit was almal se plig om Die Kerk tog ‘n behoorlike begrafnis te gee. Die diens is gereël vir die daaropvolgende Sondag middag.

Ook maar nuuskierig daag daar toe ‘n groot skare op vir hierdie begrafnis. Voor die preekstoel was ‘n doodskis, oorlaai met die mooiste blomrangskikkings met komplimente van die Vrouediens. Nadat die dominee die begrafnisrede gelewer het, stap hy af van die kansel, maak die deksel van die kis oop en nooi die gemeente om hul laaste eerbewyse te kom betoon.

Die gemeentelede kon hulself net nie indink wat nou juis ‘n voorstelling sou kon wees van hulle afgestorwe Kerk nie, en two-ticks was daar ‘n hele ry mense wat wou sien wat daar binne is.

Een-na-die-ander roubeklaer sou naderstap, binne-in die kis kyk en dan vinnig wegloop soos een wat self doodstyding gekry het.

Sien, binne-in hierdie kis, was daar – teen net die regte invalshoek gemonteer – een baie groot spieël.

Onse vriend Dawid (moordenaar, huwelik-opbreker, seunskind-verdorwenaar… vergeefde) was die eerste een wat ek kon raaklees wat die moed gehad het om die volgende gebed te bid:

“Here, U kyk of ek eerlik is en vertrou kan word.
U weet wat gaan hier binne-in my aan.
Ek kan niks wat ek doen, vir U wegsteek nie.
Nog voordat ek iets doen, weet U wat dit gaan wees…

…God, kyk of U my kan vertrou.
Toets my gesindheid.
Kyk of ek eerlik is.
Help my op die regte pad.
Hou my weg van al die verkeerde dinge.”
Psalm 139

Noudat ek weet dat ek en Dawid veel in gemeen het, irriteer ander se selfverheffende praatjies my nie meer so baie nie. Ek verstaan nou dat dit maar slegs ‘n uitvloeisel is van ‘n onvolwasse lewe. Nederigheid kom soos wat ‘n mens groei. Nie noodwendig net in jare nie, maar in verstaan: Verstaan dat daar ‘n rede was hoekom ek groot Genade nodig gehad het. Steeds nodig het.

Wie is ek om jou jou groeityd te ontneem? Sommige lesse kan net geleer word in die vallei van Ek-Was-Toe-Verkeerd. Tog is daar vir my groot waarheid in hierdie woorde van John MacLaren:

“If you do become Christ’s servant later in life,
your whole condition will be different from what it would have been
If you had begun, when young,
to trust and love Him.”

Die prys van nederigheid is heel dikwels die letsels van val-en-opstaan.
Sodat ons nie vergeet nie.

Vorige artikelLesse langs die Krugerpark skottelgoedwaters ;-)
Volgende artikelSê dit soos dit is!
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!