Die regte ding op die regte tyd

0
841

Die aktrise Jana Kruger (vroeër Strydom) beur nie meer stroomop teen die lewe se uitdagings nie. Sy het die kuns aangeleer om rustig saam met die vloei te beweeg.

Jana het hom die eerste keer op die skool se aantreeblad gesien: die matriek-ou met die donker hare en rustige kyk in sy oë. “Daar was ’n kalmte aan hom, so asof hy totaal onaangeraak was deur enige wet van hierdie heelal,” onthou sy die dag toe sy as vyftienjarige haar man, Hannes, raakgesien het.

Maar dit was eerder hoe sy gevoel het wat haar twee keer laat kyk het. “Toe my oog hom vang, was dit soos ’n oomblik van onthou, ’n vae bekendheid. Amper soos ’n vinnige steelfoto van ’n plek en mens by wie ek op my heelste en gemaklikste kon wees. ’n Tipe tuiskoms.”

Dit was die eerste van etlike kere in haar lewe dat Jana besef het dat daar ’n groter prentjie, buite ons verstaan, aan die werk is. Dat dinge dalk nie altyd gebeur soos ons dit wil hê nie, maar dat dit gebeur soos dit moet. Volgens divine timing.

“Jy hoef nie ontsteld te raak, bekommerd te wees of vas te skop teen die uitdagings van die lewe nie. Kyk dit in die oë, voel dit, verwerk dit en wees oop vir waarheen die kronkels in die pad jou lei.” Dis hoe Jana geleer het om haar lewe te leef – en dit het vrede en rustigheid in haarself gebring. Sy vertel self verder.

Die oomblik toe my en Hannes se paaie kruis, was dit asof my storielyn begin het. Voor dit was alles nog besig om in posisie te kom vir die sappige, aksiebelaaide drama wat sou volg. Die “toevallige” trekkery ná my ouers se egskeiding. Hoe ek en hy in dieselfde skool beland het, mekaar raakgesien het, verlief geraak het. Karakters uit twee stories wie se paaie vervleg geraak het om saam ’n nuwe verhaal te begin.

As ek terugkyk, kan ek ’n klomp sulke karteringspunte – soos merkers op ’n kaart – in my lewe identifiseer; dinge wat my oortuig het dat alles saamwerk volgens ’n perfekte orde, ’n groter en beter plan. Of jy nou altyd daarmee saamstem of nie.

Ek het geleer daar is ’n natuurlike vloei aan die lewe, en wanneer jy dit regkry om saam met die vloei te beweeg, is dinge makliker. Daar ’n tyd en ’n plek vir alles, en ons kan baie meer daaruit put as ons ons ingesteldheid verander.

Dis wanneer ons ons verset en dit wat die lewe bring, probeer vermy dat ons pyn beleef. Daardie dis-ease (ongemak) wat selfs tot disease (siekte) kan lei.

My ondervinding is dat enige lewensles wat jy probeer vermy, aanhoudend na vore sal kom totdat jy dit geleer het. Carl Jung het dit só gestel: “What you resist, persists.”

Een van die groot lesse waardeur ek weer en weer moes worstel tot ek dit onder die knie gekry het, was die een oor vertroue. Binne ons vroulike familielyn was daar al ’n paar uitdagings oor vertroue, spesifiek teenoor mans. Wat aan my vertel is, en my eie ervaring, was dat mans jou seermaak. Jy kan hulle nie vertrou nie. Hulle verkul jou en stel jou teleur.

My arme Hannes. Hy moes ’n lang pad saam met my stap totdat ek hierdie wantroue en onsekerheid kon afskud en besef het dat hý nie een van daardie mans is nie. Uiteindelik kon ek weerloos voor hom staan en sê: “Ek besef jy aanvaar my, jy kies my en is lief vir my net soos ek is. En ek voel dieselfde oor jou.”

My man is die nederigste, mees komplekse siel wat ek ken en verstaan. Ek sal hom ewig dankbaar wees dat hy sy ware self is – ’n mens wat homself ken en nooit afwyk van sy waardes nie. Dis die grootste geskenk wat jy vir jouself kan gee: om te weet wie jy is en getrou daaraan te bly.

Die belangrikste lesse oor liefde en oor God het ek by hom geleer. Dinge soos om onvoorwaardelik liefde te kan gee en te ontvang. Ook teenoor jouself.

Ons raak so bang om die ongemak van ons negatiewe emosies te ervaar dat ons enigiets sal doen om dit te vermy, maar ek glo jou emosies is soos ’n heilige fakkel wat ’n lig op jou pad skyn. My ego wil nie die ongemak van hartseer, pyn of verlies voel nie. Al het daardie einste ego ook ’n positiewe rol om te speel – dit motiveer en dryf jou – begin jy eers die volheid van die lewe leef en begryp wanneer jy jou ego met die res van jou menswees kan integreer.

Dis nie regtig die dinge wat nie uitwerk of die verandering wat moet plaasvind wat pyn, stres of ongemak veroorsaak nie, maar eerder ons onwilligheid om dit te aanvaar. Daar is nou nog tye dat ek myself hieraan moet herinner.

Soos die teleurstelling as ek ’n oudisie doen en nie die rol kry nie. Of die ergenis as ek en my man woorde het en hy iets oor my kwytraak wat dalk waar is, maar wat ek liefs nie wil hoor nie.

In plaas van vasskop, kies ek nou om eerder met die situasie te vloei. En prakties te raak. Soos om iewers stil te gaan sit en terug te dink aan hoe ek in daardie oomblik gevoel het. Elke gedagte en emosie wat by my opkom, sal ek voel en deurwerk – sonder om dit te oordeel of te probeer ontken. So kom die negatiewe emosies binne my tot bedaring en verlaat my liggaam.

Nog iets wat vir my bevestig het dat divine timing ’n werklikheid is, was die geboorte van ons drie kinders. Elkeen het op ’n baie spesifieke, perfekte tyd gekom, al het ek dit toe nie noodwendig raakgesien nie.

Die oudste, Ohan, ons seun (8), het my lewe gered. Hy het vir my ’n lig kom skyn sodat ek my pad terug na my ware self toe kon vind.

Net voor sy koms was ek die verste ooit van my eintlike self af. Dit was nog in die begindae van my loopbaan toe ek hard geswoeg het om ’n pad in die bedryf uit te kap. Ek was deurmekaar, onseker en sommer net ontevrede. Daar was ’n honger in my vir méér en vir nóg. Ek was vasgevang in ’n ego-gedrewe bestaan; daardie hunkering na dinge soos geld, status en roem. Boonop was ek angsbevange oor ouerskap. Ek wou so graag ’n goeie ma wees, maar het geen idee gehad hoe om dit te doen nie.

My seun se koms het my gedwing om terug te keer “huis toe”, na my ware, outentieke self. Dit was tyd om die bababoeke weg te pak, stil te raak en my pad deur hierdie ding te “voel”.

God het ons dogter, Luka (amper 6), om ’n heel ander rede vir my gegee. Ek glo sy het in my lewe gekom my te help genees van die wonde van my innerlike kind. Daardie letsels wat ek as kind opgedoen het met vertroue en aanvaarding.

As ma ondervind ek dat ons kinders ’n spieël voor ons ophou. As ons net bereid kan wees om na die weerkaatsing te kyk sonder om dadelik te reageer of te oordeel, kan ons baie oor die lewe leer en in onsself groei.

Byvoorbeeld, kinders sal nie sommer sê: “Ek het ’n moeilike dag gehad, kan ons daaroor praat nie”. Hulle sê eerder: “Mamma, kom ons speel.” Kom ons spandeer tyd saam.

As ek dit doen, klaar ons sommer so in die speel hulle moeilike dag op en ek myne.

Luka is nou op ’n stadium waar sy my naboots. Sy wil graag soos ek aantrek, sit, staan. Ons moet gereeld speel dat sy ek is, en ek sý, “want ek moet oefen om eendag ’n mamma te kan wees,” berispe sy my as ek verskonings soek.

Haar woorde kom van ’n lessie waaraan ek my kinders gereeld herinner: “Onthou, jy word net beter in iets hoe meer jy dit doen. Niemand van ons kry dadelik ’n ding reg nie, maar as ons dit baie graag wil doen, moet ons net weer en weer probeer.”

Hulle integreer hierdie raad so oulik in hulle manier van sê en doen. “Kan ek vir Anouk (ons baba) voer, want Mamma weet ek moet oefen,” sal Luka my herinner.

Dis sulke tye dat ek weer onthou hoe die klein Jana hier diep binne my ook alles wou leer en ervaar.

Wanneer my grootmensstem in my binneste my wil skree: “Nee, ek het nie nou tyd nie!”, maak ek hom graag stil, want die bevrediging as ek die kinders toelaat om te help, of as ek instem om saam met hulle te speel, vergoed vir die tyd wat ek weer op ’n ander plek moet afknyp. Om daardie vlammetjie in hulle te sien brand is kosbaar en ek wil dit koester.

In dieselfde asem moes ek leer waar om die grense te trek. Soms moet ek nee sê vir sekere versoeke, sodat ek nie later geïrriteerd voel of myself verwyt oor dinge waartoe ek ingestem het nie.

Dit wat ek kies, is dit waarvoor ek verantwoordelikheid moet aanvaar. God is liefde, en liefde is waarheid. Ek het geleer dat mure mense uithou, maar dat grense hulle leer waar die deur is.

Ons baba, Anouk, het nog ’n dieper dimensie gebring. Haar naam beteken genade, en dis presies waaraan sy my herinner. Dat alles net uit genade is. Sy verteenwoordig ons as gesin se liefde vir mekaar, ons groei en ons Godgegewe voorreg om saam te kan wees as ’n eenheid.

Ek kan nie wag om my kinders te sien grootword en ’n bewuste pad van deelname saam met hulle te stap nie.

Die lewe het my ook dapperheid geleer, met my pa se afsterwe. Ek was pas mondig en baie hartseer, want ek het gevoel ek gaan baie dinge misloop. Daar was nog baie aspekte van hom wat ek wou leer ken het, dinge wat ek by hom wou leer en uitvind.

Ek het baie oor sy dood gehuil, maar eintlik meer vir myself as vir hom. My trane het nie gegaan oor hy op ’n beter plek of in ’n hemelse tuiste was nie. Ek het nie gehuil omdat hy nie meer pyn gehad het of eensaam was nie.

Die bron van my hartseer was eintlik selfsug; en uit hierdie insig is dapperheid gebore. “My pa is piekfyn waar hy nou is,” het ek besluit, en toe kon ek rustig raak in die wete dat ek ook oukei sal wees.

Nog ’n les wat op die regte tyd gekom het, was geduld. Die dag toe ek ’n ma word, het ek besef dat ek eintlik glad nie ’n geduldige mens is nie! Daar is nie ’n beter leermeester vir geduld as ’n kind nie.

Die wêreld is nog so nuut vir hulle, en soos met die meeste eerstes vat dit tyd om dinge te ondersoek en te bemeester. Tyd… daardie begrip wat ongelooflik kosbaar is as jy die dag ’n ouer word. Ek het gou besef geduld is noodsaaklik as ek nie ’n kwaai of gefrustreerde mens wil wees nie.

In die begin wou die hardkoppige “tiener” in my nog haar eie sin hê. Ek kan nou lag daaroor, maar eintlik was dit meer skokkend as snaaks.

Klein Ohan was nog ’n pap babatjie toe ek die dag doodlus geraak het vir roomys. Maar ek was ook doodmoeg, en net om te dink aan die moeite om hom in sy motorstoeltjie vas te maak, in die motor te laai, die doekesak te pak… het my so gefrustreerd laat voel dat ek sommer kwaad was vir my baba. Kwaad omdat ek nie ’n roomys kon koop wanneer ek wou nie.

My prioriteite sou moes verander, het ek daardie dag besef. Ek kon nie meer oor elke dingetjie kwaad raak, tob of my ontstel nie. Dit het tyd geword om meer flegmaties te wees, aan te pas en minder my eie wil en manier van doen af te dwing.

Dit bly ’n aaneenlopende proses van skep, leer en kies, maar ek werk daaraan.

Hoe jy ander hanteer, is eintlik maar net ’n weerspieëling van hoe jy hier binne voel.

Ware groei kom van binne af, het Jim Kwik voorgestel met sy beeld oor ’n eier wat breek. “If an egg is broken by outside force, life ends. If broken by inside force, life begins.” Groot dinge begin altyd in die binnekant.

Die lewe het my verder gewys dat ek minder aan myself moet twyfel. Daar was al duisende kere dat ek gewonder het of ek goed, slim, mooi of talentvol genoeg is. Veral as akteur.

Dit raak al beter, want ek glo nou enigiets is moontlik. As jy dit wíl, en jou dit kan verbeel, dan kán jy dit laat realiseer. Deesdae vra ek nie meer: “Hoekom gebeur dit met my?” nie. Ek vra eerder: “Wat probeer dit vir my sê?”

Perspektief het ’n baie kragtige begrip geword. Die manier hoe ons dink, praat en dinge hanteer, bepaal ons realiteit. Ek het besef dat die geskenk van die lewe gevind word in die verskuiwing van dit waarop ek fokus. Niks in hierdie lewe kan bestaan sonder dat dit onderhou word nie. Net so kan niks binne-in jou voortleef sonder dat jy dit voer nie. Om negatiewe dinge, gedagtes en situasies uit my realiteit te laat verdwyn, het beteken dat ek moes ophou om dit kos (aandag) te gee.

Ons is die programmeerders van ons gedagtes en emosies, en ons keuses word eintlik net deur twee dinge bepaal – ’n ding word uit liefde of uit vrees gedoen.

Deesdae fokus ek daarop om op te tree vanuit liefde, teenoor myself en ander mense. Ek druk deur die beperkings van vrees en glo dat ek deur God ondersteun word; so, waarvoor is ek bang?

Alles begin met hoe jy oor jouself voel. Ek moes begin waardig voel en glo dat ek die beste het om te bied, en dat ek die beste sal ontvang.

Met die lesse wat ek tot hier toe in die stroom van die lewe geleer het, is ek vandag gelukkig, vervuld en tevrede. Ek het alles waarvoor ek ooit kon gevra het, en meer.

Om te vloei saam met die op- en afdraandes en kronkels in die pad het my gevorm en geskaaf om te wees wie ek vandag is. Ook die insig dat dit wat ons van ander wil hê, ons eers vir onsself moet kan gee.

Om met so ’n ingesteldheid te leef is nie altyd maklik nie, maar dit is moontlik. En deur en deur die moeite werd.

Volg Jana op instagram: @janastrydom.