Die regte kamera vir jou behoeftes

0
428
fotos.jpg

Daar is soveel opsies as jy deesdae ’n kamera wil koop. Ons vergelyk drie Nikon kameras om jou te help.

As amateurfotograaf het jy al hoe meer keuses. Jy kan met enige soort digitale kamera baie goeie foto’s neem. Kies net reg.

1. Vir gesinsfoto’s en vakansiefoto’s – die Coolpix L28 (R1 289)

20 megapixels: Met so ’n hoë hoeveelheid megapixels kan jy maklik baie kwaliteitfoto’s neem. As jy daardie wonderlike oomblik vasvang, wil jy dit dalk kan opblaas in ’n groter foto. Daarom wil jy so veel as moontlik megapixels hê.
5x zoem: Vyf keer se optiese zoem. Jy het nie veel meer as dit nodig vir vakansie- of gesinsfoto’s nie.
Funksies: Die kamera is die moderne weergawe van ’n mik-en-druk. Die maklike Auto Mood kies die regte verstellings vir die ligtoestand. Jy kan ook HD-video’s opneem. Al die funksies is maklik om te navigeer. Daar is ook ’n ingeboude funksie wat die foto’s in die beweging stabiliseer.
Voorkoms: Dit is klein en kompak, net ongeveer 9 cm lank, ’n klein bietjie langer as ’n kredietkaart. Jy kan ook dit in een van vier kleure kry: silwer, swart, pienk of rooi.
Gevolgtrekking: Die kamera is gerieflik omdat dit so klein is dat jy dit maklik in jou handsak kan ronddra. So sal jy nooit ’n spesiale oomblik hoef te mis nie. Dan kry jy nog foto’s van hoë kwaliteit ook.

2. Reg vir swembad, see en avontuur – die Coolpix AW100 (R4 679)

Fotokwaliteit: Die kamera het ’n 16 megapixel sensor wat sorg vir hoëkwaliteitfoto’s. Daarby kry jy ook ’n lens van 5 keer se optiese zoem.
Reg vir aksie: Die AW110 is waterdig tot ’n diepte van 18 meter. Dit kan ook skokke weerstaan van so hoog as 2 meter. Dit is bestand teen stof én dit kan nog behoorlik werk in temperature so laag soos -10°C.
Funksies: Die kamera bied jou funksies waar jy die diepte of hoogte van jou omgewing kan sien. Verder is daar ook funksies wat besonder lae ligtoestande – soos onder water – goed kan vasvang. Die ISO (wat ligsensitiwiteit meet) is so hoog as 3 200. Met ingeboude Wifi kan jy ook maklik jou foto’s op jou slimfoon of rekenaar aflaai.
Voorkoms: Die kamera kom in een van vier kleure: swart, blou, oranje of kamoefleer-groen.
Gevolgtrekking: Met die kamera se waterdigte, skokbestande ontwerp is dit perfek vir enige buitelug-ekskursies. Of jy nou gaan ski of gaan snorkel, jy sal elke oomblik daarvan kan vasvang.

3. Vir nabyskote en veraf onderwerpe – die Coolpix P520 (R5 379)

Fotokwaliteit: Hierdie kamera het ’n enorme lens wat jou 42 keer se optiese zoem bied. Daarby kry jy ook 18 megapixels se kwaliteit. Daar is ook funksies om die kamera te stabiliseer, selfs al neem jy foto’s met die lens heeltemal gezoem.
Funksies: Jy het ’n keuse of jy in die auto mode wil skiet en of jy dit self wil instel volgens jou voorkeure en die lig. Al wat jy moet doen, is om dit op manual te stel en dan kan jy self al die funksies beheer. Dan is daar die panorama-funksie. Jy kan ook 3D-foto’s neem, wat jy dan op ’n 3D-televisie kan sien.
Voorkoms: Jy kan die P520 in silwer, swart of wynrooi kry.
Gevolgtrekking: Brug-kameras word al hoe beter. Dit bied jou baie van die funksies en kenmerke van ’n DSLR sonder dat jy van lense hoef te verander vir elke nuwe onderwerp. Die P520 bied jou ’n lens wat onderwerpe kan afneem wat baie ver weg is. Dis die perfekte oplossing as jy natuurfoto’s wil neem.

As jy ’n kamera koop, onthou om al die ekstras in te reken wat jy gaan koop, soos ’n geheuekaart, kamerasak en batterye.