Die Smeltersvuur

O tog, ja as kind onthou ek was dit so lekker om met vuur te speel al het ons ouers gewaarsku om dit nie te doen nie.

Die vlamme het ‘n bekoring van sy eie gehad en ons wou net dans met die vlamme.

Maleagi 3:2 “ Maar wie kan die koms van dié Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers.”

Wanneer ons egter met vuur speel in hierdie lewe moet ons verwag om te brand. Tog wanneer dit gebeur  wil ons net daardie smeltersvuur ontsnap met alle mag en krag. Ons wil so vining ons kan weghol daarvan en sommer ook van God as die Smelter in ons vuur-uur. Niemand van ons wil tog wees waar dit brand nie, daar waar die probleme is nie. Nee, dit lyk en ruik sleg! Ons wil nie op plekke wees waar dit sleg en nie lekker is nie. Nog minder wil ons wees op plekke waar ons gemaksone  gesteur en versteur word. Eendag as ons groot word leer ons wel dat die lewe lesse herhaal totdat ons uiteindelik die les daaruit leer.

Ons kan nie elke keer net weghardloop van God en Sy smeltvuur nie en nog minder van onsself en ons probleme in hierdie lewe nie. Natuurlik is dit so dat ons vir die oomblik van die vuur-uur wel op ander plekke gelukkiger kan wees. Die realiteit is en bly  egter dat ons moet onthou ons vat onsself oral saam waar ons gaan. Ek kan jou belowe jy gaan jouself ten gronde moeg hardloop en beslis nie die wedloop wen nie.

Uit my eie lewenservaring het ek geleer God wil alles in ons lewe wat Hom nie eer bring nie verteer met Sy smeltvuur. Hy stuur Sy Heilige Gees om binne ons te leef as gelowiges om ‘n intieme persoonlike verhouding met ons te kan hê en ook om ons te oortuig van elke verkeerde gedagte, woord of daad. En so gaan elkeen van ons in hierdie lewe een of ander tyd deur die  smeltvuur-uur van God.

Wat beteken dit? Dit beteken doodeenvoudig God ontmoet ons kop aan kop in die smeltvuur en dáár hanteer Hý ons. Dis in die smeltvuur-uur van ons lewe waar God ons gesindhede, begeertes, weё, gedagtes en gesprekke verander.  Onsself verander en transformeer.  God self maak ons vry en bevry ons van onsself in die smeltvuur van ons lewe. Ons wat kies om wel dan déur die smeltvuur te gaan is dan uiteindelik diegene wat God ook groot eer bring deur ons lewe en liefde. Dis ons wat uiteindelik die bose sirkels en siklusse van ons lewe voltooi en eindig met ‘n stil gemoed.

Om deur die smeltvuur te gaan klink skrikwekkend. Glo my dit is ‘n skrikwekkende ervaring inderdaad. Dit herinner aan pyn en dood. Nietemin, in Romeine 8:17 deel Paulus “ Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons nou kinders van God is. En omdat ons kinders van God is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.”, daarom, juis met hierdie waarheid in gedagte is dit vir ons ook belangrik om te dink aan Jesus se lyding en hoe Hy vir ons gely het.  Hy het verskriklik en skrikwekkend gely aan daardie kruis vir my en jou.

Dink ek en jy nou werklik ons moet ook kruis toe gaan? Wel, die antwoord is beide ja en nee. Nee ons hoef nie fisies aan ‘n kruis gehang te word vir ons sonde nie, maar in Markus 8:33-34 deel Jesus wel dat dit nodig is dat ons ons kruis opneem en Hom volg. “Moenie in my pad staan nie, Satan, “ het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Wat beteken dit? Dit beteken doodeenvoudig dat ek en jy ons eie selfgesentreerde selfsugtigte self en lewe daagliks eenkant sal skuif en aflê.

O genade glo my dit vat ‘n smeltvuur van báie moeilike tye om ontslae te raak van die eie-ek selfgesentreerde self en lewe, tog is dit aan die einde wel die smetlvuur-uur in ons lewe werd, dit is verseker seker.

PS:  Vertrou God altyd dat Hy die goeie werk wat Hy in jou begin het sal klaarmaak tot jou voordeel en Sy Glorie.

Vorige artikel‘n Ma vind haar rus…
Volgende artikelWie bepaal jou waarde
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune! Besoek gerus haar web tuiste https://eet8eet.co.za