Die soeke na ‘n ‘kapper’…!

Annali Swiegers

In die soektog na die regte haarkapper kom ek verskeie soorte teë.

Intussen maak ek my bolla hoog en laag, skeef en los. Mens moet versigtig wees as jy jou bolla wil tem, versigtig om die regte kapper nader te hark, of is dit nader kam?

So kom ek toe die ene teë wat vir my verduidelik dat sy nog nooit so ‘n bolla gesien het nie. Sy meen sy het geen idee wat om met die soort bolla aan te vang nie. Sy reken ek moet vir my ‘n splinternuwe bolla kry, sy spesialiseer eintlik in vlegsels. As ek ‘n vlegsel het, sal sy my kan help.

Nee vir vlegsel, maar dankie in iedere ontval. As ek ‘n vlegsel wou hê, het ek hom self gemaak.

Ek vra wyd en suid vir my medemens met haar en snaar ,of hulle ‘n haarkapper kan aanbeveel. Dan volg ek getrou op, maar die soektog duur voort. Jy sien; ek kan nie my bolla wat ek al so lank vertroetel, in die verkeerde hande oorgee nie. Dit vat nie een of twee dae om ‘n bolla van hierdie kaliber te kweek nie.

Ek loop verder met my kosbare bolla en soek na ‘n kapper wat hom sal verstaan. So trap ek toe ‘n kapper raak wat Brits besig. Sy beduie vir my dat ek moet kies in watter kategorie my bolla val, dan sal sy my kan help om my bolla tot sy volle potensiaal te bring.

Gits seg ekke, dit was tot nou ‘n moeilikheid, my bolla wil nie naam vat nie.

Hy is net.

Sorry my dear; seg die Britse kapper; I will therefor not be able to help you.

En daar het ek toe, in twee tale gehoor ,my bolla sonder naam is onmoontlik om te kap.

Maar ek kannie opgee nie, hierdie bolla moet bewerk word. Die derde kapper word oor my pad gestuur en ek sit my bolla voor hom neer. Hy skrik eers onder die tafel in maar kruip later weer nuuskierig uit.

Ja seg hy toe, na hy sy asem teruggekry het; dis ‘n gawe bolla en ek dink hy het potensiaal. Hy pluk sy skêr en kam uit en staan nader om in te spring. Wag skree ek! Kom ons praat eers hieroor, sit dat ek eers verduidelik van my kosbare bolla asseblief. Reg seg hy, maar ek sien hy luister nie na my nie, hy poets sy skêr. Stadig sit hy die blinkgevryfde skêr terug in sy sak, dit ontgaan my nie dat hy steeds handig uitsteek aan die bopunt van sy sak nie.

Hy begin verduidelik dat hy my bolla te pragtig sal maak en ek ontspan. Ek bedank hom hartlik en is vrolik bly dat ek uiteindelik ‘n kapper gekry het.

Maar mens moet oop oë deur die lewe gaan, verkieslik met een oop oog slaap!

Nie lank nie, toe kom ek agter die kapper het ‘n klomp planne met my bolla wat ek nie voor kanssien nie. Al het hy my verseker hy wil nie aan my bolla snipper nie. Hy wil hom net skik en oplig tot volle potensiaal, begin ek vermoed dat die tee wat hy my ingee, is om my aan die slaap te sus. Die enigste manier wat ek en my bolla met jou ‘n pad kan loop, Meneer die kapper, is as ek wakker slaap!

Jy sien; my krag, lê in my bolla, ek kan hom nie laat afsnipper terwyl ek aan die slaap ge-tee word nie. En meeste haarkappers, se name is Delila.

n.s.

Hierdie storie gaan duidelik nie oor ‘n haarkapper en hareknip nie.  Dis die storie van hoe mens deur die lewe gaan met jou talent en die soeke na iemand om jou te ondersteun om dit te ontgun.  Daarmee saam kom die risiko dat jou talent vervorm word en die essence daarvan in die proses verlore kan gaan. Mens moet baie versigtig omgaan met jou unieke talente en dis jou verantwoordelikheid om die regte hulp te identifiseer of liewer die talent in sy rou vorm te laat.

DEEL
Vorige artikelMeng versigtig, roer gereeld … en onthou!
Volgende artikelBitcoins
Blogger - Annali Swiegers
Ek is 56, woon in die Weskaap op ‘n beeldskone plaas. Lang storie...’n bottermaak storie! Baie van wat ek blog/storie gaan oor die laaste 5 jaar se Lewensdans hier op Deo Volente. My skrywery het jare gelede begin as sommer outydse dagboek houery, journal klink soveel mooier. Ek het altyd groot strikke gebind om my skryfboeke want dit was vir eie oë, eie sanity! Later het ek dapper muiserig dit vir hier en daar ‘n mens begin wys en so het ek agtergekom mense lees lekker daaraan. En soos enigiets wat mens met lekkerkry doen, het die skrywery gegroei tot waar ek dapper muis skoene aangetrek het en ‘n blog begin het!