Die son skyn, ons moet swem!

Ons beleef ‘n warm September, maar oor die algemeen is die swembadwater nou nog nie so dat mens wil induik nie.

Hoor ek toe nou van die dogtertjie van vier wat saam met haar ouers op ‘n plaas gekuier het. Die plaas het ‘n swembad. Elke oggend het sy met groot entoesiasme buite toe gehardloop om te kyk of die sonnetjie skyn, want dan kon sy gaan swem.

Vra haar oor ontbyt wat is haar planne vir die dag het almal gehoor: “Ek gaan swem.” Niemand wou saam met haar swem nie, die water was te koud, maar dit het haar nie afgesit nie. Haar grootste vreugde was om elke dag ‘n paar maal te gaan swem, met wie ookal in die omtrek was wat agterna tou om ‘n ogie te hou.

Kinderlike vreugde oor ‘n sonnetjie wat skyn. Sien jy nog die son skyn of is jy so vasgevang in ‘n poging om te oorleef dat jy die klein vreugdes van die lewe miskyk? Waardeer jy nog daardie eerste koppie boeretroos in die oggend? Of daardie laataand kuiertjie saam met jou ander helfte? Ons is so geneig om te jaag van die een groot projek na die ander. Elke dag is ons dagboeke volgeprop en dit vat presiese beplanning om oral uit te kom. Maar, let ‘n bietjie op, wanneer is die beste oomblikke? Wat is dit wat jy eendag gaan onthou? Dat julle jaar na jaar betyds was vir skool, kerk en werk of eerder Boetie se gesiggie voordat hy sy eerste Bulletjie rugby gespeel het of Sussie se saamsing met haar gunstelingliedjie terwyl julle op pad skool toe is?

Maak tyd om die klein oomblikke van die lewe te geniet, soms ja selfs, die oomblikke van chaos en fiasko’s te waardeer, want die tyd gaan vinnig verby en dan is dit net die mooi herinneringe wat bly.

Vorige artikelSal jy luister?
Volgende artikelAdvies vir ‘n jong entrepreneur
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.