Die sorge en kommer van oud word

0
41
hoofstuk8.png

Om die spanning en angs wat die ouderdom op verskeie terreine bring, hok te slaan, doen die volgende: bly besig, soek steeds nuwe uitdagings, oefen genoeg, volg die regte dieet, versorg en vertroetel jou eie liggaam sodat dit gesond en mooi kan bly, maar sorg ook dat jy medies in ’n tiptop toestand is. Hou vas aan die Here se liefde en beloftes sodat jou ouderdom vir jou ’n sierlike kroon in plaas van ’n berg is!

In 1850 was die gemiddelde lewensverwagting vir ’n vrou veertig jaar. Aan die begin van die twintigste eeu was dit vyf en vyftig jaar en vandag kan die meeste vroue verwag om tagtig te haal. Ons kan die ouderdom nie keer nie, net makliker en veiliger maak.

Ons hoef nie skaam of bang te voel vir die ouderdom nie:

 “Die trots van jongmanne lê in hulle krag; die versiering van oumense is hulle grysheid,” sê Spreuke 20:29.

Die feit dat ’n vrou die menopouse bereik, is ’n tweesnydende swaard. Aan die een kant is sy verheug dat sy nie langer die gereelde maandelikse ongerief hoef te verduur nie en ook nie die gedurige spanning van ’n moontlike swangerskap meer hoef te verduur nie.

Aan die ander kant begin sy wonder of dit nie die einde van haar vroulikheid aankondig nie. Hierdie twyfel, saam met fisieke simptome van die oorgang, ontwrig baie vroue emosioneel. Die “teikenorgane” in die liggaam wat van estrogeen afhanklik is, gaan vinnig agteruit. Die verouderingsproses versnel. Daar ontstaan lastige en ontwrigtende fisieke en emosionele probleme. Die vel word dunner en droër, amper deurskynend, en verloor sy rekbaarheid. Dit veroorsaak plooie. Oor die lang termyn word die basis gelê vir ’n hartaanval, beroerte en beenbreuke.

As die vrou egter weet dat haar hormone, wat besig is om na ’n laer vlak te verskuif, aangevul kan word, stel dit haar gerus. Dan kan sy dié nuwe uitdaging met ’n sterk positiewe gesindheid tegemoetgaan. Die doel van estrogeenaanvulling is dus om die lewenskwaliteit van die vrou te verbeter en die risiko’s met die helfte te verminder. Daar is eers onlangs vasgestel dat estrogeen ’n direkte uitwerking op die senuwees en emosies het. Dit verskerp die konsentrasie en versterk die geheue. Daar is ook nou aanduidings dat vroue wat vir tien jaar na die menopouse estrogeen gebruik het, 40% minder vatbaar is vir Alzheimer se siekte.

Die oorgangsjare word ook gekenmerk deur ander ontwrigtings, soos kinders wat die huis verlaat of ver gaan bly, ’n man wat aftree, kleinkinders wat bykom en miskien ’n verandering in woonplek. Die meeste vroue word dus op hierdie stadium van hulle lewe onseker oor die toekoms. Hulle twyfel aan hulle vermoë om die laaste fase positief aan te pak en steeds ’n bydrae te lewer.

Goeie raad vir al hierdie emosionele en ander probleme is: bly besig! Soek iets wat jou stimuleer. Goethe het gesê: “Is dit jou erns? Moet dan nie skroom om te doen waarvan jy lankal droom nie. Moed en ywer gee krag om te beur – begin net en jy word meegesleur, begin net en sukses lê voor die deur.”

Oefening en die regte dieet –  baie vesel, min vet te vermy, geen sout en suiker en baie vrugte en groente  – is ook belangrike hulpmiddels om die spanning en angs oor ouderdom en siekte hok te slaan. Oefening is goed vir die algemene gesondheid en is lekker. Om gereeld in ons Suid-Afrikaanse son te stap verskaf vitamien D. Dit versterk ook die spiere wat die hele skelet spalk. Fisieke aktiwiteit gee jou ook beter koördinasie en balans, sodat jy nie so maklik val nie.

’n Bietjie humor is dikwels ook net die regte medisyne vir die bedruktheid wat saam met die oorgangsjare op jou toesak. En ja, Christene mag ook lag en skerts – God se Woord is vol humor. Dit help ’n mens om positief te bly. Al is jou omstandighede ook hoe moeilik, probeer om nog die snaaksighede saam met die mooie in die lewe raak te sien.

Die vraag ontstaan ook of twee ou liggame mekaar nog seksueel kan prikkel – en die antwoord is ja. Hulle word saam oud en die liefde is blind. Dit maak nie saak hoe jy lyk nie, die vervulling is nog daar. Liefdevolle seks bly nog die beste kalmeermiddel vir ’n onrustige en onseker gemoed. Dit bind twee oumense aan mekaar en gee hulle ’n anker in die wêreld wat so vinnig om hulle verander.

Dis wonderlik dat elke vrou ook kan weet dat sy altyd op God kan vertrou ongeag haar lewensfase. God wil en kan ons in elke krisis help. In Jesaja 46:4 sê die Woord: “Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.”

Rimpels op ons gesig is niks nie; dis die rimpels op ons gemoed wat tel. Die mens se gees moet nooit oud word nie.

~ James Garfield ~