Dié steeksheid kom ‘n langpad

Liewe Persoon

Dit is (al)weer Maandag! Vanoggend oppad werktoe luister ek na die nuus oor die radio, en ek besef net weereens dat die ou mensdom – onwillekeurig, geprogrammeer is om kant te kies. Van saamstaan is daar nie sprake nie – en ek praat nou nie politiek nie.

En dié steeksheid kom ‘n ver pad…

My Pa was al die jare ‘n Datsun-man, en toe Datsun vir ‘n wyle uit die land verdwyn toe word hy ‘n Nissan-man. En so was die skok nogal groot toe ons kinders elkeen ‘n ander windrigting inslaan – Volkswagen, Chevrolet en Audi (die Juffrou is tans doenig met ‘n Nissan… en pa voel weer op sy gemak). Op plase weer is die debat sterk oor watter bakkie nou juis die beste is – want daar is mos net eintlik net twee keuses: Toyota of Isuzu.

Kom dit by rugby is daar altoos ‘n groep Blou Bulle wat meen die groen-en-goud behoort Loftus-blou te word en dat die Cheetahs, Leeus, Haaie en Mpumalanga Paddas nie ‘n kat-se-kans het nie.

Toe Joost destyds met sy (rooi) onderbroek op film betrap is, was ons ook dadelik in twee kampe: die ja-dit-is-sonder-twyfel-hy-want-kyk-net-daai-skrumskakel-groottoon en die nee-dit-is-nie-hy-nie-maar-wel-die-media -wat-niks-anders-het-om-oor-te-skinder-nie.

Ek verkies papierwoordeboeke. My kollegas werk met aanlyn-weergawes. Ek lees koerante in gedrukte formaat… ander op hul tablets en dan is daar altoos die wat kies om glad nie te lees nie! (Sies!)

Jy kry (waaghalsige) vroue in pienk hakke en geel rokkies… en swart-is-altyd-vleiend-vir-die-figuur- vroue, wat van kop-tot-toon in grys of swart geklee is…

Dink aan Pepsi en Coke. Tamatiesous of mosterd. Vis of boeliebief. Peanuts of rosyne.

Soveel dae, soveel dinge. Soveel mense, soveel keuses… of moet ek eerder sê, tronke. Dit voel deesdae vir my of ons spulletjie oor niks kan saamstem nie. Dit is ‘n getwis en ‘n gekibbel oor alles.

Ek wonder by myself – wanneer het ons begin om “anders-te-wil-wees” ‘n leefstylkeuse te maak? Wil ons dan nie almal vrede kies nie? Wil ons dan nie almal kies om saam te werk nie? Wil ons dan nie meer vorentoe beweeg en die dinge van gister vergeet nie? Miskien kies ons om te vergeet, want dit is makliker… en as ons vergeet, dan kies ons om in ‘n vreemde realiteit te survive.