Die strewe na sukses en wat my werklik definieer

Ek is gewoonlik baie tevrede met my lewe.

Dis net totdat ek die maer meisie op die voorblad van ‘n tydskrif sien.

Of as ek hoor van iemand wat in die winter ‘n vakansie by die see geniet.

Of wanneer ek deur die katalogus van ‘n meubelwinkel blaai terwyl ek op my stukkende bank sit.

Dis verskriklik hoe maklik ons onsself kan oortuig dat ons meer wil wees, meer wil hê en meer wil doen. Ons word gebombardeer met die leuen dat ons wêreldse sukses ons definieer. En ons begin veral hierdie leuen glo wanneer ons toelaat dat die tydelike dinge van hierdie wêreld inkruip in die plek waar Jesus eintlik moet woon.

Die wêreld is blink en vol glans, vol van allerhande dinge wat daagliks kompeteer vir ons aandag. Sonder om te dink, word ons gedryf om ons tevredenheid te vind in die getal op die skaal, die grootte van ons huis, die sukses van ons beroep en die stand van ons verhoudings. Ons draai ons oë na die wêreld en laat toe dat tydskrifte, die media en die sukses van ander ons verwagtinge verander en ons buie beïnvloed.

En ons word dikwels in die steek gelaat.

Om uitnemendheid na te streef in alle dinge, is nie noodwendig ‘n slegte ding nie. Die probleem kom in wanneer ons die strewe na wêreldse sukses verhef bo ons posisie in Christus.

Die ergste van alles is dat die strewe om alles te hê in hierdie wêreld, kan veroorsaak dat ons sukses meer dien as vir Jesus.

Iemand het gesê wat jy sien, is wat jy word.

As ons gaan wegdraai van die leuen dat wêreldse sukses ons definieer, moet ons onsself dissiplineer om Christus te bemin en ons ware identiteit in Hom te vind.

“ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry.” Filippense 3:8

Prakties beteken dit:

Ons leer om Christus deur Sy Woord te bemin. Deur tyd in God se Woord te spandeer, verdiep ons ons begrip van wie God is, wie ons is en dit herinner ons daaraan dat ons sonder Hom niks kan doen nie (Johannes 15:5).

Ons leer om Christus te bemin deur ‘n hart van dankbaarheid te kweek. Wanneer ons tyd spandeer om God se medelydende hand van voorsiening in ons lewens te erken, is ons minder geneig om te hardloop agter dít wat die wêreld definieer as sukses. Ons liggame, ons bankrekeninge en ons aardse posisies mag met verloop van tyd verander, maar prys die Here dat Hy gister, vandag en vir ewig dieselfde is!

Het jy die leuen geglo dat jou wêreldse sukses jou definieer?

Neem ‘n diep asemteug, en bevry jouself van ‘n verwagting van prestasie in ‘n wêreld wat jou nooit kan bevredig nie.

Maak nie saak hoe die wêreld jou definieer nie, rus in die waarheid dat, as kind van God, jou identiteit reeds mooi en stewig in Hom geanker is.