Die swart hond

Een Sondagaand laat kom hier ’n kort e-pos van ’n boer na my deur: “Die swart hond hardloop. Ek wil ’n einde maak!”

Dadelik sien ek die depressie deurslaan en ek weet, as die hond hier onder jou voete snuffel, is daar fout. Is daar groot fout. Dit is baie keer die laaste uitroep en ek weet ek moet met die persoon praat. Nou! Ek stuur dadelik vir hom my selfoon- en huistelefoonnommer. Ek gaan op Facebook en stuur daar ook vir hom ’n boodskap. Ek skrik toe hy sy profile pic verander na so ’n swart prent met ’n klein vuurtjie wat in die middel brand. Dit is donker om die boer. Hy het eenvoudig nou net te veel deurgegaan. Hy is moeg vir die swart hond. Hy is moeg vir die swart van die donker om hom.

Daar kom in baie van ons se lewe tye wanneer ons nie meer die sin van die lewe raaksien nie. Kere wat ons met leë antwoorde terugkom van die vrae: “Wat maak ek nou eintlik hier op aarde? Wat is die sin van my lewe?” Die sinne wat ons bymekaar probeer maak om die vraag te antwoord, maak nie lekker sin nie. Die lewe maak nie sin nie. Dit is sinneloos. En dan kom die swart hond doodluiters om die draai gestap.

Maar daar moet ’n antwoord wees. Daar moet mos iets sinvol wees om vir so ’n persoon te sê.

Ek is so bang om vir so ’n persoon ’n plastiek antwoord te gee, ’n teologiese antwoord waar die pleister net te klein is om oor die wond te kom. Ek bly dan liewer stil, want ek besef my tekortkominge.

En in die stilte met my mond vol tande en swart honde wat rondloop, hoor ek Jesus wat met die mense wat nie wil glo nie sukkel en amper uit radeloosheid so eenvoudig as moontlik die evangelie vir hulle oopbreek: Johan 18:122…“Wat lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken Ek vir mense op geestelike gebied. Daarom sal iemand wat My volg se lewe nie sinloos wees soos dié van iemand wat in die donker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy sal kan sien wat om te doen om God tevrede te stel.”

Dalk is dit die antwoord. Dalk is dit die pad. Dalk is dit net hier waar die lig die donker uitdryf. Dalk is dit hier waar die son op ’n snaakse manier weer begin skyn. Dalk is dit net hier waar swart honde hul loop kry.