Die temperamente met vakansie!

Desember is vakansietyd vir baie mense. Lekker tye, maar soms is dit juis in die vakansietyd wat gesinslede erger as gewoonlik begin kopstamp. Hoekom? Die verskillende temperamente benader en hou vakansie op totaal en al verskillende maniere.

Sou ‘n Rooi Temperament op sy eie gaan vakansie hou, is die kanse goed dat dit in ‘n “werksvakansie” sal ontaard. Hy is op sy gelukkigste as hy êrens “projekbestuurder” vir iemand se bouprojek kan speel. In beheer, met een doelwit voor oë, en dis om die gebou en gebrekery klaar te kry voordat die vakansie om is, en hoe meer helpers hy het wat hy kan bevele gee, hoe gelukkiger is hy.

Stuur ‘n Geel Temperament alleen op vakansie en dit gaan eers ‘n hele gedruis afgee soos sy almal probeer oortuig om saam met haar na die een of ander eksotiese plek met baie mense en bedrywighede te gaan. As niemand nou regtig kan saamgaan nie, gaan sy maar alleen en sal ‘n week later met ‘n hele string nuwe boesemvriende terugkeer. Vol stories oor alles wat beleef en ervaar is.

Wat sal ‘n tipiese Groen Temperament met ‘n alleen vakansie maak? Wel, tensy dit nie ‘n absolute passie is vir hom om te reis nie, gaan hy sy hele vakansie by die huis deurbring, waar hy gaan slaap, eet, slaap en eet en miskien bietjie TV kyk. En dit sal sy beste vakansie ooit wees!

Moenie op nr. 99 vir ‘n Blou persoon sê om alleen op vakansie te gaan nie. Beplanning is vir Bloues die wagwoord. Alles moet lank voor die tyd gereël word, inligting oor elke moontlike museum, uitstappie en interessantheid moet vooraf bekom word. Eers dan sal Blou op vakansie gaan, tien teen een na ‘n plek toe met baie kulturele belewenisse, kunsuitstallings van die hoogste gehalte en musiekuitvoerings. Blou sal die een wees in die museum met die boekie in die hand en die oorfone op, want die laaste ding wat ‘n Blou wil hê is dat iemand dit durf waag om met haar te praat terwyl sy besig is om kunsskatte te ontdek.

Vier uiteenlopende maniere van doen en ontspan word nou in ‘n tipiese gesinsverband saamgegooi vir ‘n vakansie in Desember. Natuurlik sal die vonke spat! Die beste manier om dit te oorleef is om te mik vir ‘n wen-wen situasie wat op elkeen se sterkpunte speel.

Laat die Perfekte Bloues in die familie die besprekings doen, die spyskaarte uitwerk en die besoekpunte beplan, maar gee vir hulle tyd gedurende die vakansie om op hulle eie te wees, want dis hoe hulle ontspan. Laat die Rooies maar toesien dat alles gepak word op die “regte” manier soos hulle dit wil hê. Gun die Kragtige Rooies ook ‘n dag of twee wat hulle in beheer is van wat op die dag gedoen gaan word.

Wees geduldig met die Gewilde Geles. Hulle gaan so opgewonde wees oor die vakansie, hulle gaan tien teen een die helfte van hul klere by die huis vergeet. Hulle wil lag, gesels en pret hê, moenie hulle met te veel reëls en regulasies op vakansie aan bande lê nie.

Wat die Vredeliewende Groenes betref, maak seker hulle is in die motor voordat julle ry. Onthou Groenes word nie aangejaag nie. Hulle is vredeliewend, maar het ‘n wil van staal. Hulle behoort maklik by almal se planne in te val, solank hulle genoeg kans kry om in die motor te slaap, gereeld kan eet en middagslapies kan neem. Moenie hulle dwing om oral saam te gaan nie. Vakansie en ontspan beteken vir hulle om so min as moontlik te doen en net te wees.

Onthou, net omdat julle saam op vakansie is, beteken nie dat julle nou alles saam moet doen nie. Beplan gesinsaktiwiteite, maar gee ook elkeen kans om op sy of haar eie manier te ontspan. Sodoende sal almal die vakansie in vrede kan geniet en sal die vonke net spat as die worsvetjies op die braaivleisvuur drup!