Die toneel is te erg vir my verstand –my dogtertjie brand!

0
12
die-toneel-voor-my-is-te-er.jpg

Dis Oujaarsaand. Tyd vir braai en vrolik wees. Pippie speel sorgvry buite. Haar ma is in die kombuis besig. Toe die slag … en die vlamme. “Ag, hemel tog! Help! My kind brand!”

Ek was in die kombuis besig toe ek die slag hoor. Dan volg ’n gil. Dis ’n gil wat deur murg en been sny. Ek skrik! ’n Geweerskoot? Skiet iemand op ons? My man! My kind! Hulle is buite. Daar waar die slag vandaan gekom het. Ek los alles en hardloop uit …

Maar die gesig wat my buite begroet, behoort geen ma ooit te sien nie. Dis ’n beeld wat die res van my lewe by my gaan spook. En as ek aan daardie verskriklike dag dink, weerklink die gille steeds in my ore.

Die onheilspellende lig van die vlamme … die verskrikking. Die angs op my man se gesig … en daarmee saam die vreesaanjaende besef: Dis Pippie.  Pippie brand! My pragtige tweejarige dogtertjie is in vlamme gehul.

Sonder om verder te dink, pluk ek my bloes af en draai dit om haar. Ek probeer so die wrede vlamme blus wat besig is om die klein liggaampie te verteer. Ek druk-druk met my hande, maar dit bly brand. Ek kry nie die vlamme geblus nie! Ag, hemel tog! My kind brand en ek kan haar nie help nie! Van êrens verskyn my skoonpa met die deurmatjie … Na wat soos ’n ewigheid voel, is die vlamme uitgedoof …

’n Gevoel van onwerklikheid kom oor my. Dis heeltemal surrealisties. Dit kán tog nie wees nie. Dis eenvoudig net nie móóntlik nie. Ek is totaal verward. Ek kan glad nie verstaan wat aangaan of wat gebeur het nie. Maar ek kan nie daarby stilstaan nie. Pippie moet by ’n hospitaal kom. Dadelik! Ek draai haar toe. Jaag met haar hospitaal toe. My gedagtes in ’n warboel.

Help my! Help my, in hemelsnaam, asseblief! Help my kind!

Maar by die eerste hospitaal word ek weggewys, want daar is nie ’n dokter aan diens wat iets vir haar sal kan doen nie.

Weer klim ek in die motor met my kind wat in die onbeskryflikste pyn verkeer. Ek ry na die volgende hospitaal, die provinsiale hospitaal. Hier word ek ingewag. Die personeel is reeds ingelig en weet ons is op pad. Hier neem iemand oor. Hier kry ek die hulp wat ek so nodig het.

Dis egter nie net Pippie wat verbrand het nie. My man se hande is ook erg verbrand. Ook hy het intense pyn en moet behandeling kry. My verstand staan stil. Wat hét dan gebeur? Wat het hierdie Oujaarsdag so donker gemaak dat ek nie meer die lig kan sien nie? Dit was immers ’n doodgewone dag met my skoonouers wat by ons gekuier het. ’n Dag wat veronderstel was om feestelik te wees. Ons het so baie om voor dankbaar te wees. Soveel liefde in ons huis. ’n Pragtige klein dogtertjie wat ons soveel vreugde bring. Ook klein Arno, Pippie se bababoetie. Ons wou net vleis braai. Net gesellig saam eet. Die Oujaar saam uitsien. Die nuwe een vol hoop tegemoetgaan.

Maar wat ook al gebeur het, dit maak nie werklik meer saak nie. Al wat ek weet, is dat ons dogtertjie verbrand het en dat haar tere klein lyfie in die verskriklikste pyn is. En ons is magteloos om iets daaraan te doen. Hoe ernstig is dit? Sal sy bly leef? Die vrae. Die verskriklikste gedagtes. Die onsekerheid. Dis alles amper te veel vir my.

“Ek wou net die vuur aan die brand steek,” verduidelik my man later. “Ek het die vuurmaakjel op ’n stok na die vuur gehou toe dit eenvoudig ontplof. Pippie het op die gras, so twee, drie meter van die vuur af gespeel. Die vlamme het onverklaarbaar soontoe uitgebol en haar getref.”

Hoe op aarde kan so iets dan gebeur? Hoe verklaar ’n mens dit? ’n Fratsongeluk … dis wat dit is. 

Eers toe die dokter met my kom praat, besef ek regtig hoe ernstig Pippie verbrand het. “Jou dogtertjie het derdegraadse brandwonde oor tagtig persent van haar lyfie,” sê hy simpatiek. “Sy het net ’n tien persent kans op oorlewing,” voeg hy sag by.

Maar hy ken nie my klein Pip nie. Sy is ’n vegtertjie.

[pagebreak]

Daardie nag begin die stryd om my prinsessie weer heel te kry. ’n Stryd wat ons voer saam met die verpleegpersoneel van die hospitaal in Johannesburg waarheen sy oorgeplaas is. Maar dis ’n stryd wat veral deur my dapper klein dogtertjie gestry word.

Dis die verskriklikste toneel wat my inwag toe ek haar die eerste keer sien. Van haar eens pragtige gesiggie is nie veel herkenbaar nie. Feitlik haar hele lyfie is in verbande toegedraai. Sy lyk soos ’n lappoppie. Genadiglik is sy verdoof en voel sy nie meer die erge pyn nie.

Daar word besluit dat sy met stamselle behandel sal word. Ons hoop en glo dat sy volkome gaan genees. Dat sy weer so perfek soos voorheen sal wees.

Te midde van die allesoorheersende, verterende kommer oor ons kind, tref nog ’n bekommernis ons. Ons het nie ’n mediese fonds nie, net ’n hospitaalplan. Sal ons vir Pippie se behandeling kan betaal? Sal ons, as dit nodig is, haar Amerika toe kan neem, waar daar selfs beter behandeling vir haar besondere besering beskikbaar is?

Maar in die dae daarna, die weke, die maande, besef ek dat die tyd van wonderwerke nog nie verby is nie. Ons hoor die wonderlike nuus van die nuwe wetgewing wat aan die begin van Desember in werking getree het. Die mediese fonds moet in hierdie geval wel vir die grootste deel van die koste in die plaaslike hospitaal instaan. En boonop word daar ’n spesiale fonds gestig om ons te help met die koste wat nie gedek word nie en met dié wat nog in die toekoms gaan opduik.

Ons word ook verras deur die meelewing en belangstelling van mense om ons. Dit kring wonderbaarlik verder uit. Daar word ’n ondersteuningsgroep vir haar op Facebook gestig. Duisende gebruikers lees feitlik daagliks my inskrywings oor ons dogtertjie. Hulle voel saam met my. Ek deel elke mylpaal met duisende ander. Dit maak dit makliker om moed te hou. 

Toe Pippie van die morfien gespeen word, is my vreugde groot. Toe sy vir die eerste keer weer self piepie, jubel en juig ek. Alles wat haar weer na die normale dogtertjie van voorheen terugneem, is ’n vreugdekol, ’n oase, op die pad wat ons loop.

Die een wonderwerk na die ander vind voor ons oë plaas: nog fondsinsamelings wat vir Pippie gereël word. Mense en instansies wat bydraes lewer. Maar bo alles, die grootste wonderwerk van alles, is dat mense, van oral oor, in gebed intree vir die genesing van my kind.

Na 100 dae in die intensiewesorgeenheid, kyk ek na my pragtige poppie en kan ek nie glo hoeveel verbetering daar reeds is nie. Waar sy eers aan masjiene gekoppel was, haal sy nou self asem. Soms kners sy op haar tande. Dis iets wat nogal ontstellend kan wees, maar ons gee vir haar ’n fopspeen en sy suig verwoed daaraan.

[pagebreak]

Dit bied troos. Ag, dink ek vir ’n vlietende oomblik, dit wás tog so ’n gesukkel om haar daarvan af te kry. Maar ons sal anderdag weer daardie brug oorsteek.

Al wat nou belangrik is, is die lewe in die gesiggie wat onder die verbande uitloer. Die ogies stel weer belang in wat op die skerm aangaan, veral wanneer ons The Lion King vir haar wys. ’n Lap-krokodil is nog steeds haar allerbeste speelding.

Soms kom kuier my man en seuntjie oor naweke vir my. Dan kan ek klein Arno weer op my skoot tel en hom van sy mamma se liefde laat onthou. Hoe moet hý verstaan waaroor dit alles gaan? Hoe verlang hy dalk nie na my nie, soos ek na hom. Met sulke kuiers kan my man ook weer vir Pippie sien. Dan kan hy sien hoe ver sy al gevorder het en haar weer in sy sterk arms hou.

Dan is dit tyd om ons huweliksherdenking te vier. Daar word vir ons ’n wegbreekkansie gereël. Wonderlik, want dis iets wat ons nou broodnodig het.

Dis die klein dingetjies wat vandag saak maak. Ek doen enigiets om dit vir my kind makliker en draagliker te maak. So was sy nou die dag taamlik kriewelrig en ek kon nie vasstel wat haar pla nie. En toe … wonderbaarlik … haar rug jeuk! So eenvoudig. En toe Mamma die ruggie krap, glimlag sy.

Met elke verband wat afgehaal word, elke stukkie vel wat beter lyk, is ons bewus van die genade. Die genade oor haar, maar ook oor ons.

Dis hierdie genades, klein en groot, wat ons positief hou. Dis wat ons die goeie in al hierdie dinge laat raaksien. Wanneer Pippie byvoorbeeld gebad word, voel sy agterna baie beter. Hierdie dae het hoogtepunte in ons lewens geword. Tydens die badsessies word Pippie egter verdoof sodat sy nie pyn sal voel nie. Dan kry sy ook sommer fisioterapie. En as sy daar wakker word, is sy so honger soos ’n wolf! Dit gaan ook al beter met die etery. Net soms verstik sy nog wanneer die kos bietjie te grof is.

Ek is elke dag omring deur engele, deur derduisende mense, wêreldwyd, wat vir Pippie bid, wat geld insamel vir die fonds wat vir haar, en ander soos sy, gestig is. Daar is mense wat gereeld goeie wense vir ons stuur. Alles in my juig daaroor. Daar is nie woorde vir my dankbaarheid nie.

Maar ek is ook méns en soms, soms, raak ek moeg, só moeg. Soms, hoewel kortstondig, is ek selfs moedeloos. Soms voel ek so broos soos my dogtertjie. Soms het ek net nie die tyd of die krag om my aandag aan almal te gee wat dit vra of nodig het nie. Dit raak ook soms woelig in Intensief. Soms huil Pippie en het sy my nodiger as die persoon aan die ander kant van die telefoonlyn. Ek kan maar net hoop dat almal sal verstaan in watter moeilike posisie ek soms is.

[pagebreak]

Ek is waar ek nou moet wees – by klein Pippie. Sy het my nou nodig. Dis wonderlik dat ek daagliks deel van haar herstel kan wees. Dis wonderlik dat sy kan weet sy is nie alleen nie, haar mamma is by haar. En glo my maar, sy kan kwaai raak as ek deur se kant toe staan en sy nie daarvan hou nie.

Ek weet ek moet op die oomblik vir haar alles gee wat ek kan. En ek doen my bes. Elke klein dingetjie wat ek vir haar kan doen, al is dit net om ’n kussing onder haar kop in te skuif, is vir my ’n voorreg. En dis wonderlik om haar weer te kan vashou noudat sy nie meer aan die masjiene gekoppel is nie. 

Maar ek smag ook daarna om my baba, Arnold, se snoesige seuntjielyfie vas te hou. Om vir hóm ook nag te kan sê en hom in sy bedjie te sit. En hoe lekker sal dit nie wees om weer agter my man se rug in te kruip en net te slaap nie. Sonder sorge te slaap, soos vroeër, voordat hierdie verskriklike ding met ons gebeur het.

Nou wag ek maar saans tot Pippie rustig raak en slaap, voordat ek aandag aan myself gee. Soms is ek lekker moeg, want alles is nou anders as waaraan ek gewoond was. 

Saam met die wonderlike ondersteuning uit talle oorde duik daar soms misverstande op. Dinge wat my seermaak. Maar hierdie voorvalletjies word verdwerg deur die goedheid en guns wat oor my uitgestort word. Nie alleen deur my hemelse Vader nie, maar deur die mense wat my daagliks omring. Hulle is die wind onder my vlerke. 

Die intense meelewing van die publiek is eenvoudig fenomenaal! Dat ’n klein dogtertjie soveel duisende op hulle knieë kon kry, is ’n wonderwerk waarvoor daar nie ’n verduideliking is nie. Hierdie belangstelling, wat selfs verder as die landsgrense strek, kon net deur Goddelike ingryping bewerkstellig word. Ons dien ’n magtige God! As wat met my klein prinsessie gebeur het, net een mens na Jesus toe lei, val ek in dankbaarheid op my knieë neer. 

Omdat ek menslik is en omdat ons hier op aarde nie alles verstaan nie, kom daar vrae by my op. Waarom? Waarom moes dit juis met Pippie gebeur het? Met my pragtige, onskuldige klein prinsessie? Soms wens ek dit was alles net ’n nare droom, ’n nagmerrie waaruit ek gaan wakker word. Maar ek weet ook daar is ’n doel met alles. Iets wat ons nog nie verstaan nie, nie kán verstaan nie, maar dit sal wel later vir ons duidelik word.

Pippie dra lig en lewe met haar saam. Vandag eet sy soos ’n varkie en drink soos ’n vissie. Sy lag vir haar pa se grappies en sy steel soentjies by hom. En as hy wil loop, skud sy haar koppie met ’n besliste: “Hû-û!”

Deur alles is ek intens bewus van die liefde en die teenwoordigheid van my Vader. Dit voel vir my of ek nie net meer aan sy voete sit nie, maar op sy skoot. En daar is vrede in my gemoed. Dis ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan.