Die twee vroue in Heinz se lewe

0
108
alette_elsa_winckler.png

Twee vroue vir een man? Heinz se ma en vrou het gou geleer wat belangrik is om hulle verhouding te laat werk.

Elsa, Heinz se ma sê …

Heinz is bedrywig nadat hy Idols gewen het, maar ons bly op hoogte van sy doen en late. Op ’n dag is daar ’n ander klank in sy stem… Onthou ons die girl wat saam met ons die vorige jaar by die tweede seisoen se Idols-finaal was? Ons onthou. Mooi meisiekind, ons het van haar gehou.

Hulle is dié naweek in die Kaap, en ons ontmoet hulle in die Strand. Ons is almal daar om hulle in te wag. Hulle stap in, hy vat haar hand en ek sien: Hierdie ene gaan hy hou. Hy glimlag van oor tot oor. Dis Aletté, hoor ons, die klem op die laaste e.

Sy borrel en bruis, Heinz se oë blink. Sy’s ook lief vir die Here, Ma… Vir haar loop ek oor stukkende glas.

“Wat sê jy van die nuwe meisie?” vra ek vir ’n vriendin van hom. “Hy praat sag en mooi met haar, soos hy met Tannie en Mia praat,” sê sy. Dis die een vir hom. Ek glimlag saam, sluk aan die knop in my keel. Ons klong het sy vrou gekry.

Die ewige troubelofte aan mekaar

Die dag voor hulle troue hou ek my hart vas. Dinge is deurmekaar. Sy onderbaadjie is verkeerd, die das is nie reg nie. Laatnag ry hy rond om alles perfek te kry. Soos sý dit wil hê.

Toe die bruid instap, kyk ek na ons klong. Breëbors wag hy haar in, sy glimlag tevrede.

Ek verkyk my aan die twee wat nou saam huis opgesit het. Sy skree (letterlik) vir die Blou Bulle en hy is ’n groot Stormers fan. Sy kry gou koud, hy kry gou warm. Hy is Don Quixote met sy kop in die wolke, sy is sy Sancho Panza met haar voete op die aarde. Die een wat die dinge onthou, wat kan organiseer, wat die somme maak.

Sy sing ook graag; maak saam met hom musiek, raak opgewonde saam met hom, skryf songs saam met hom. Sy kruip in ons harte in. Sy is goed vir ons kind.

Dis chaos in die huis, maar Skoonma bly stil

Ek het nie gedink ’n mens se hart kan plek maak vir nog kinders nie, maar elke kleinkind glimlag vir hom ’n ewige plek in sy ouma se binneste oop. En Ouma is bekommerd. Pa en Ma woerts-warts deur die huis, altyd aan die hardloop. Verontwaardig bekyk ek die spulletjie. Wat gaan hier aan?

Hou jou mond, Ouma, sê vriendin Hanlie en ek probeer. Regtig. Maar dit hou nie lank nie en ek kry raas. “Ons doen dinge anders, Ma. Hierdie werk vir ons.”

Die kleintjies is oulik, ontwikkel oornag in klein mensies, elk met sy eie persoonlikheid, eie willetjie, eie geite. En dié ouma sien: Dis anders, maar dit werk net so goed. Wees net lief, lees stories, help waar jy kan. Want die seun moes sy ma se kleed uittrek om man te word. Dis so maklik en so moeilik. ~ Elsa Winckler, uit Help! Ek is ’n skoonma (skoondogter)!

Aletté, Heinz se vrou sê …

Ek het die skoonmagrappies al almal gehoor. Seremoniemeesters werk hulle mos altyd deur op troues, en ek het in my hart gehoop dit sou nie eendag op my van toepassing wees nie. Ek het immers elke vorige boyfriend se ma se voete skoon onder haar uitgeslaan met my “sprankelende” persoonlikheid…

Ek het al gehoor dogters mans kies soos hulle pa’s, maar ek kan eerlik sê ek het nie geweet mans kies ook vrouens soos hulle ma’s nie.

Ek het beslis een van die beste skoonma’s gekry. Ek en ma Elsa het baie raakpunte en baie aspekte van ons vrouwees stem ooreen. Ons het albei sterk persoonlikhede, baie dryfkrag en is lief vir mooi aantrek. Sy was ook op haar dag ’n voorkomskonsultant en ek skryf weer deesdae. Ek weet ook altyd waar ek met ma Elsa staan.

Vir ons is ons familie besonder belangrik, veral ons een gemene deler – Heinz! Ons is al twee ontsaglik lief vir hom en wil hom met alles beskerm. Ek het vroeg besef ma Elsa het ’n baie spesiale band met haar oudste seun. Ek sou dit nie waag om met hom te mors nie. En die ou Ierse spreekwoord het miskien die waarheid beet: “’n Man het sy nooi die meeste lief, sy vrou die diepste, maar sy ma die langste!”

Ek aanvaar dat my skoonma twee kante het

Ma Elsa kan nogal faff. As iemand seerkry, presteer of sommer net is, word daar ’n groot bohaai gemaak. Mý ma hanteer dinge weer anders. As jy jou nerwe afval, sou sy jou troos met iets soos: “Eet ’n appel.” Die aanpassing tussen dié twee uiterstes was vir Heinz nogal taai. Vreemd genoeg is ek deesdae die een wat faff as ons kinders seerkry – nog ’n bewys dat ek baie soos my skoonma is!

My skoonma is ’n ware staatmaker. Sy is altyd bereid om te help en raad te gee, gevraagd of ongevraagd. Ek het besef dat respek vir mekaar en aanvaarding van mekaar se menswees ’n gesonde en liefdevolle verhouding tussen ’n skoonma en skoondogter bou. En dit werk!

Wanneer Ouma en Oupa die kleinkinders bederf

Met ons kinders se koms is die verhouding effens onder druk geplaas. Dit is die Wincklers se eerste kleinkinders en hulle word vir seker te veel bederf. Tog gun ek hulle dit. Oupas en oumas mag dit mos maar doen. Oor my werksomstandighede en die grootmaak van ons kinders het ons en die skoonmense nogal baie verskil. By hulle was die onuitgesproke verwagting dat ek vir ’n sekere tyd moes ophou werk om voltyds by die kinders te wees.

Ek was gelukkig elke keer vir ’n ruk by die huis, maar omdat dit ons brood en botter is en wie ék is, het ek weer na drie maande se kraamverlof weer begin werk.

Ek en my skoonma groei steeds elke dag nader aan mekaar en kan te heerlik om ’n glasie wyn en ’n lekker bord kos oor Heinz se kleinseuntjienukke lag. Of giggel oor die aantreklike Adonis vir skoonma.jpgwie ons albei so lief is… en sáám droom ons oor ’n wonderlike toekoms!

Aletté-Johanni Winckler, uit Help! Ek is ’n skoonma (skoondogter)!

Elsa en Aletté deel saam met 28 ander bekendes hulle skoonfamilieraad, -wenke en stories. Maak seker jy lees en leer by elkeen van hulle in Help! Ek is ’n skoonma (skoondogter)! wat nou beskikbaar is.

lyn_3.png

ware_noord.png