Die tweede skof

Die afgelope paar jaar het ek meer en meer begin oplet na die mamma’s in die winkels.

Daar is meestal ‘n onderlange geiriteerdheid in hul stemtoon as sussie aandring dat sy ‘n hele liter Yogisip wil hê en belowe sy gaan alles opdrink. Die mamma’s lyk moeg, hulle probeer soms alles verbloem met ‘n mooi haarstyl of ‘n mooi jean en hempie, maar onder dit alles is sy moeg. Nie moeg om ‘n mamma te wees nie, net moeg, want haar werk hou nooit op nie.

My ma noem altyd die tyd na werk ‘n mamma se tweede skof. Die mense wat saam met jou werk (die wat nou nie kinders het nie) besef nie dat wanneer jy jou skoot rekenaar oppak en almal mooi groet, jou tweede skof vir jou wag by die huis nie. Mamma’s berei voor vir hulle tweede skof in die kar oppad om die kinders op te tel, ons speel “eye of the tiger” kliphard, kyk jouself in die oë (daardie oë wat vanoggend baie mooi ge-makeup was) in jou spieëltjie terwyl jy by die verkeerslig staan en sê hardop “Ek het die”.

Daar is tot ‘n uniform vir die tweede skof, gewoonlik ‘n sweetpak broek of enige gemaklike broek wat jy uit die wasmandjie haal want miskien kan jy dit nog eenkeer dra, ‘n lekker los toppie en soms slippers as die vloere koud is in die winter. Binne die eerste uur van die tweede skof gaan kinders gewoonlik bietjie mal, hulle hardloop rond in die gang en gaan grou in die koskas vir lekkers. Mamma’s begin met kos, doen huiswerk, pak gou die skottelgoedwasser uit, groet Pappa met ‘n lekker koppie koffie en kry alles gedoen sodat hulle op skedule kan aandete eet (ons kinders moet mos ‘n streng skedule volg anders is dit nag). As mamma’s gelukkig is tag-team hulle met pappa; een was die kinders, een was die skottelgoed en bottels. Die “power-hour” van die tweede skof word gebruik om alles reg te kry vir die volgende oggend (anders is ons weer laat en skarrel ons rond soos afkop hoenders om op tyd uit die huis te kom). Storie lees, gebedjies, badkamer-toere, glase water, snackies, liedjies en soms smeek om net te slaap en daar is die kinders aan die slaap.

Sommige mense dink die tweede skof is klaar, maar dis nou mamma se tyd, wanneer almal rustig is, die sakke staan reg vir môre, die koffie masjien gestel vir môre oggend en die praise en worship musiek wat jy vir boetie aansit om rustig te slaap weergalm deur die huis. Dis mamma se tyd vir haarself, om te lees, bietjie deur sosiale media te gaan, haar ooghare te pluk, boetie se verjaarsdag te beplan en om bietjie te gesels met haar man wat eintlik al aan die slaap is en voor jy sien is dit altweer 23:00.

Kyk ma-wees is nie vir sissies nie en mens besef nie dat die tweede skof iets is tot dit ‘n realiteit vir jou is nie. Ons mamma’s is moeg en ons fantaseer om net vir so twee dae aan een te slaap, maar ek is seker meeste van die mamma’s sal nie hulle sweetpak uniform, messy bun, dry shampoo en laat aande verruil vir meer me-time nie. Nee wat, wanneer daardie klein armpies jou styf vashou en sê “ek is lief vir jou mamma” vergeet ons vining dat ons moeg is en ons koop maar daardie een liter Yogisip wat jy in elk geval self gaan klaar drink. Mamma’s ons sien jou in die winkel, ons weet jy is moeg en ons weet jy is oppad om die tweede skof aan te pak. Onthou om jou “eye of the tiger” aan te sit want kan hierdie mamma-ding doen.

Vorige artikelDie dood en die ewige lewe
Volgende artikelHoe help kollageen met veroudering?
Blogger - Izelle Joubert
Ek is ‘n mamma van 'n vrye gees en lawwe dogtertjie van drie jaar oud en het 'n passie vir skryf en ma wees. Nadat die Here my hart aangeraak het om die korporatiewe wêreld en gejaag te veruil vir ‘n deeltydse werk, het ek my passie vir skryf herontdek. Ek het 'n honeurs graad in Bedryfsielkunde en is 'n geregistreede Psigometris by die HPCSA, maar die mees vervullende werk vir my is dié van vrou en ma wees. Ek is al 9 jaar getroud met Donavan en ons het wortels geskiet in Kempton Park. Ek het 'n hart vir ander mammas omdat dit ‘n lekker, maar moeilike taak is. Ek is baie lief vir die Here en is mal oor die talent van skryf wat Hy vir my gegee het. Sodoende wil ek graag eerlik met mamma’s kan praat oor die moeilike en lekker dele van mamma wees, niemand is die perfekte ma nie en ons almal kan by mekaar leer.