“Die verandering wat ek wil sien, begin by my”

0
520

Al hoe minder mense, jonk en oud, is bereid om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle woorde en dade.

Dit is maklik om iets of iemand anders te blameer, om ’n goeie rede uit te dink oor hoekom ek nie die skuld hoef te kry vir my optrede nie.

Dit ontstel my. Regtig. Baie mense se lewens, verhoudings en omstandighede kon beter gewees het as hulle net verantwoordelikheid aanvaar het.
As hulle net bereid was om te sê: “Ek was verkeerd. Dinge gaan nou verander en hierdie verandering begin by my.”

Natuurlik hoef jy jou nie met ’n klomp skuldgevoelens te belas en swaar te dra aan ’n rugsak vol onnodige bagasie nie. Erken maar net jou skuld aan die situasie, draai om en stap dan die reguit pad vorentoe.

Grootmense kan net so onvolwasse wees soos kinders

Veral met tieners in die huis sien ek gereeld hoe maklik dit is om ander vir jou omstandighede of probleme te blameer. Om nie eerlik na jouself te kyk en raak te sien as jy verkeerd is nie. Om nie bereid te wees om die een te wees wat eerste om verskoning vra nie.
Ek dink nou terug aan ’n keer toe my oudste pas ’n tiener geword het. Ons twee het verskriklik koppe gestamp. Ons het oor enigiets verskil en oor alles gestry.

Eendag het ons weer baie erg baklei. Toe skielik hoor ek hierdie sagte stemmetjie vra: Wie is nou eintlik die tiener hier tussen julle twee? En wie is die volwassene?
Dit het my hard tussen die oë getref. Ek kon my net voorstel hoe dit vir ’n buitestander moes lyk en klink – hierdie ma wat haar so kinderagtig gedra.

Wees jý die verandering wat die wêreld nodig het

Ek was erg geskok oor my optrede en het oor ’n paar dinge begin wonder. Kan hierdie verhouding tussen ons ooit werk? Wat sal dinge anders maak tussen ons twee? Wat is die eerste plan van aksie? Wil ek regtig ’n verandering sien en beleef?

As die antwoord op die laaste vraag “ja” was, sou daar iets moes gebeur. Ons kon nie net soos voorheen aangaan nie. Ons sou dinge anders moes doen.

Hierdie vrae was natuurlik nie net van toepassing op ons twee se situasie nie. Dit het betrekking op baie aspekte van elke mens se lewe – werk, gesondheid, finansies, verhoudings.

Die antwoord was: Dit begin by my. Daar is een bekende aanhaling wat ons gereeld hoor en dit is: Change begins with you, so be the change. Daar sou ’n groot ommekeer moes wees. En dit moes aan my kant begin.

Wees die minste en vergeet die eie ek

Dit was glad nie maklik om my aandeel te erken nie. My generasie het in ’n tyd grootgeword toe kinders gesien maar nie gehoor is nie. Die grootmense het geglo jy het nie ’n mening nie en jy moet net doen wat vir jou gesê word.

Vandag is dit heeltemal anders. Kinders het die reg op ’n eie opinie. Ek glo dat ouers hulle baie mooi moet afrig in die regte rigting, anders kan dit beslis verkeerd loop.

Die outydse benadering sou nie met my kind gewerk het nie. Sy is ’n sterk dame vol selfvertroue, wat eendag in die regte wil gaan studeer. Daar is geen manier dat sy net gesien en nie gehoor word nie!

Na my introspeksie was die eerste besluit om te vra waar om te begin om die verandering te wees. Ek sal jok as ek sê na ’n paar dae was ons twee se verhouding eersteklas. Daar was nog leemtes, maar ons het ook ’n paar dinge reggekry.

Dit was wonderlik om te sien dat elke keer wat ek uitgereik het, daar ’n positiewe reaksie van haar kant af was. Vandag is ek baie dankbaar dat ek na daardie sagte stemmetjie geluister en die verandering begin het. Ons pluk albei die vrugte van daardie een besluit.

Rouchelle Liedemann is ’n gospelsangeres en TV-persoonlikheid van die Kaap.