“Die verlede kon my nie onderkry nie”

725

Pretty Phungwako kon met ’n bietjie hulp weer op haar eie bene staan nadat sy haar ouers verloor en toe probeer selfmoord pleeg het.

“Toe my pa en ma oorlede is, het ons hele wêreld uitmekaar geval. My hart was stukkend en die toekoms was donker. Die omstandighede was moeilik en ek was nie opgewasse om dit te hanteer nie.

“Daar moes na my boeties en sussie omgesien word en seker gemaak word dat hulle warm kon slaap, al moes dit dan nou op die vloer wees.

“Met niks in die huis om te eet nie, het elke skooldag eindeloos gevoel. Daar was niemand om te help of raad te gee nie.

“Ek wou nie meer leef nie en het op ’n stadium probeer om my eie lewe te neem. Gelukkig het dit nie gewerk nie en is ek in die hospitaal opgeneem vir behandeling. Ek was heeltemal gedaan.

“Daarna het ons vier by my tannie gaan bly en haar verantwoordelikheid geword. Sy het soos ’n ma geword, maar kon nie alleen vir ons sorg nie, want sy het self so min gehad om mee oor die weg te kom. Liefde is baie, maar nie genoeg om op te oorleef nie.

“Mosaic het gehelp en vir ons ’n blyplek gegee.

“Dinge het sommer baie beter begin gaan. Ons het êrens gehad om te leer en huiswerk te doen. Daar was privaatheid en vir die eerste keer ook ’n toilet en stort in die huis. Dit was amper onmoontlik om te glo dat dit ons tuiste was.

“My tannie het by die lewensvaardigheidsklasse aangesluit wat aangebied word en meteens was sy glad nie meer so gespanne nie. Sy het ook werk gekry by die bakkery, waar sy ’n gawe inkomste verdien.

“Daar is nou ook geleentheid vir my boeties en sussie om na ’n goeie skool toe te gaan waar hulle leer om behoorlik Engels te praat en wiskunde te doen. Hulle geniet ook die sport en ander buitemuurse aktiwiteite baie.

“Met die Mosaic Educational Fund was dit moontlik om verder te gaan leer. Ek wou nog altyd ’n verpleegkundige word en is passievol daaroor om mense te help. Nou kan ek dit doen.

“Daar is deesdae sommer baie hoop vir die toekoms. Elkeen van ons kan enigiets bereik wat ons wil, want met Mosaic se hulp en met deursettingsvermoë is sukses moontlik.”

Volgens Carien Campher, Mosaic se kommunikasiebestuurder, is hulle passie om kwesbare kinders te help. Stigterslede Meyer en Louise Conradie is deur God geroep om ’n gemeenskap te skep en huise te bou waarin weeskinders die beste moontlike sorg kan kry. Daarom neem die organisasie hulle versorgers onder die vlerk en gee vir die hele gesinstruktuur blyplek en kos om te eet. Hulle gee ook vir die pleegouers opleiding en werksgeleenthede en sorg dat kinders skool toe gaan, die Here leer ken en vir hulleself ’n toekoms kan bou.

Jy kan ook help om vir ’n weeskind ’n beter toekoms te skep. Belê in MOSAIC se doel en besoek mosaic.org vir meer inligting. Jy kan hulle ook op sosiale media volg by @MosaicSA.

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.