Die verskil tussen goeie en slegte skuld

719
Wouter Snyman
Wouter Snyman

Die meeste Suid-Afrikaners sal op die een of ander stadium in hulle lewe ’n klompie skuld moet aangaan. Skuld kan egter keer dat jy ryk word.

Op die oomblik spandeer mense meer as 70% van die geld wat hulle per maand verdien, aan die terugbetaling van skuld. ’n Gewone huislening van R500 000 oor 20 jaar sal jou rente van ongeveer ’n miljoen rand uit die sak jaag!

Moenie om die verkeerde redes lenings aangaan nie

Goeie skuld is iets waarmee jy geld kan verdien. Slegte skuld bring jou niks in die sak nie en keer jou net om suksesvol te wees. ’n Huislening kan goeie skuld wees. Jy het tog ’n stabiele tuiste nodig vir jouself en jou geliefdes, en vir jou aftrede. Dit is ’n goeie belegging.

Om egter ’n klomp geld vir ’n troue te gaan leen is slegte skuld. As jy regtig lief is vir jou aanstaande, moet tog nie julle lewe saam met ’n klomp skuld begin nie.

Maak met jou skuld soos met sneeuvlokkies

Om geld te leen om ’n besigheid te begin is goeie skuld, mits jy ’n goeie besigheidsplan het en die verwagte maandelikse wins oorgenoeg sal wees vir die paaiement op die lening. Hier is ’n wenk van die miljoenêrs en biljoenêrs: As jy ’n besigheid wil begin, begin klein.

Finansiering vir die motor waarmee jy werk toe en terug moet ry, is goeie skuld. Om egter finansiering vir ’n voertuig te kry net sodat jy daarmee kan spog, is sleg. As jy twyfel of iets goeie of slegte skuld is, vra jou af wat die hoofrede vir die lening is.

Jy moet weet jy gaan rente betaal vir dit wat jy gekoop het. Wees eerlik met jouself, jou lewensmaat of jou besigheidsvennote en dan sál jy die regte besluite neem.

Om werklik uit die skuld te kom, het jy ’n plan nodig. Dit word die sneeubalplan genoem. Dit begin klein, soos ’n sneeuvlokkie. Dan kom nog een by en nog een, en voor jy jou kom kry, is dit ’n enorme sneeubal wat teen ’n heuwel afrol.

Maak ’n lys en begin afbetaal by nommer een

Om jou eie plan te kan opstel, moet jy al die inligting oor jou uitstaande skuld bymekaar kry. Skryf elke skuldeiser se naam, die totale balans en die maandelikse paaiement neer. As jy miskien elke maand meer as die minimum paaiement op jou huislening afbetaal, stop dit eers en gebruik daardie geld ook vir die sneeubalplan.

Gaan nou so te werk: Vir elke skuld, deel jy die bedrag wat jy skuld deur die maandelikse paaiement en skryf die antwoord neer, byvoorbeeld: R5 000 gedeel deur 390 (die minimum maandelikse betaling), dit wil sê 13.

Doen dit met elke bedrag wat jy skuld. Rangskik die antwoorde dan van die kleinste tot die grootste. Dit is jou prioriteitslys vir jou skuld.

Sodra jy die nommer een-skuld afbetaal het, sit jy daardie geld by jou paaiement vir die volgende skuld en betaal dit gouer af. So gaan jy telkens aan, deur die bedrag wat jy op die afbetaalde skuld betaal het, by die paaiement van die volgende een op die lys te voeg. So vorm dit ’n sneeubal.

Die gemiddelde persoon sal ál hulle skuld binne vyf tot sewe jaar so kan afbetaal.

Wouter Snyman – Finansies, besigheid en entrepreneurskap

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.

Gebruik die afslagkode WOUTER om die boek STAAN OP, STAAN VAS, STAAN UIT te koop op voelgoedboeke.co.za. 

R149 R104

Kliek hier